top of page
Search

Waar die wortels begrawe is…

2 Timothy 1:7: (Amplified Bible)

For God did not give us a spirit of timidity or cowardice or fear, but [He has given us a spirit] of power and of love and of sound judgment and personal discipline [abilities that result in a calm, well-balanced mind and self-control].


Ek sien nie myself as ‘n bang mens nie. Inteendeel. Ek dink ek het al ‘n paar keer in my lewe halsoorkop iets aangepak en eers later besef dat ek die beskermende stemmetjie van vrees stilgemaak het. Of in gevaarlike situasies het al myself verbaas en eers later besef wat kón gebeur het: Soos die keer wat ek die inbreker heterdaad betrap -en uit ons tuin gejaag het…(Ek dink ek en hy was ewe verbaas!)


Ja, daar is seker ook ‘n goeie vrees: Een wat jou berekende risikos laat neem, en dalk versigtiger laat besluite neem, maar wat ek nie besef het nie – is dat vrees die wortel van baie kwaad is en in jou ‘blinde kol’ kan wegkruip. Veral in situasies waar jy in "coping-mode" is.


Na die hele huisbou/bouer/projekbestuur storie, het ek só baie van myself geleer. Ek is ge”stretch” in alle rigtings en met die stilte van 2020 het ek so half en half gehoop dat die rekwerk eers verby is.

Toe nie…


Op die oomblik bevind ek myself weer op die drumpel van nuwe dinge: Ingewikkelde dinge. Berekeninge en Standaarde en Somme en Formules wat my linkerbrein uit sy DIEP slaap moet wakker maak – amper uit 'n tipe narkose waarin hy homself bevind het vir die laaste 20 jaar nadat ek geswot het. Inligting en nóg inligting moet geabsorbeer en verwerk en weergegee word...en my linkerbrein het ‘n 20 jaar hangover.

Dit bring my by my Vrees Wortel – wat ek ontken het. Ek het nie besef ek is bang totdat ek styf-soos-n-kitaarsnaar by ‘n vergadering opdaag en een van my liewe vriendinne vra waarvoor ek bang is nie…


Bang?


Waarvoor? Maar die trane wat skielik oor my wange gerol het, het van beter geweet: En toe tref dit my: Ek ís bang. Bang dat ek nie my linkerbrein wakker genoeg sal kry om sy werk behoorlik te doen nie. Bang dat ek die mense wat hulle vertroue in my stel, sal terleurstel. Bang dat ek nie vinnig genoeg die werk sal kan doen nie en bang dat dit alles op die ou-end tot niks sal kom nie en, en, en.


Dit was nie lekker om dit te erken nie. Veral nie teenoor myself nie. Vrees is nie ‘n woord wat ek sommer in my woordeskat insluit nie, maar dit was nodig! Want toe ek die donker in die oë kyk (en net erken dat ek bang is) was dit asof die vrees soos ‘n miswolk voor my oë verdwyn. Skielik kon ek dink aan: “Wat volgende? “ in plaas van: “Wat as?” Dit was asof die ongegronde vrees vir dit wat 'moontlik kan gebeur', my blind gemaak het vir die klein stappies wat ek kan neem om uit die oorweldigende put wat ek vir myself gegrawe het, te klim.


Nou wéét ek dis OK. Dis OK om te erken ek is bang. En dis OK om nie alles onder beheer te hê nie. En dis OK om te jy is bang, as jy is.


Die vrees wortel kan net groei, daar waar hy nie die lig kan sien nie. Diep ondergronds waar hy nie ondek wil word nie. Sodra jy hom uitgrawe, val die hele boom en al sy leuens om.


En die skaduwee wat die boom gegooi het, word LIG.





96 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page