Almal wat dors is
- Welmarie Janse van Vuuren

- 4 minutes ago
- 4 min read
Isaiah 55:1 The Free Offer of Mercy “Everyone who thirsts, come to the waters; And you who have no money come, buy grain and eat. Come, buy wine and milk Without money and without cost [simply accept it as a gift from God].
Êrens het ek so ‘n tydjie gelede ‘n video raakgesien van antieke ware wat opgegrawe is en duisende jare oud is. Met die opgrawings verduidelik die argeoloë toe, dat sekere ware méér waardevol is as ander. Daar is ware wat blyk om die oorspronklikes te wees, maar wanneer jy die potte teen die lig hou, kan jy sien waar hulle met minder goeie materiaal reggemaak is. Die nate en laste maak skaduwees teen die son. Dit vat ‘n gesoute oog om dit raak te sien en die tweedehandse ware van die oorspronklikes te onderskei...
Ek kon my ore nie glo nie: Selfs in die antieke tye was daar dinge wat as die waarheid verkoop is...onder valse voorwendsels. Dit het my ook laat dink aan die slaghuise in Engeland, wat voor die 1906 Voedsel Wet, hulle vrot vleis met boraks gewas het, sodat dit soos vars vleis gelyk (en seker geruik het). Hoe aaklig! ‘n Voorbeeld van hoe mense ‘n rat voor die oë gedraai is, wat my so ontstel het, dat ek dit nou nog onthou... baie jare nadat ek dit die eerste keer gehoor het. (En gou weer ge-Google het, net om seker te maak)
Deesdae voel dit vir my asof so ‘n tipe onwaarheid al hoe dieper wortel skiet in die wêreld. Sien, is definitief nie meer glo nie. Die AI of KI in die wêreld flous my makliker as wat ek wil toegee en dit maak my agterdogtig. Met alles wat ek sien en lees, moet ek eers die bron naslaan en seker maak.( Ai, AI). En hoe weet ek dan, dat die bron waarmee ek my inligting toets, regtig betroubaar is?
(Ek sê natuurlik nie alle AI is sleg nie, inteendeel ek dink dit maak in baie opsigte die lewe baie makliker en nogal interessant.) Die probleem kom vir my wanneer iets voorgehou word as die waarheid en dan nie is nie. DEEP FAKE soos hulle sê. Maar soos wat ek dieper dink oor die storie, besef ek dat dit maar net ‘n ander vorm van leuens is. Soos in die geval van die slagter se boraks “vars” wors...is dit eintlik glad nie iets nuuts nie.
Ek dink dit was van die begin af die probleem met ons eerste kennismaking met die Leuen. Dit lyk so naby aan die waarheid. Dit lyk so belowend / met ‘n groot beloning. ‘n Klein bietjie twyfel word gesaai ek word ‘n bietjie gevly in wat ek sal kan uitrig en sien daar! Ek staan met die spreekwoordelike leuen in my hand, gehap nadat die leuenaar my oortuig het dat dit goed is om te eet en mooi om na te kyk en ek wonder hoe op aarde ek hier op geëindig het. En dan wil ek wegkruip. Skaam omdat ek die leuen geglo het, vies vir die leuenaar en wantrouig vir enige verdere verkopers-stem en teleurgesteld in my vermoë om nie onderskeid te kon tref tussen dit wat regtig goed is vir my en nie...
So, wat is die waarheid dan? Hoe kan ek weet wat dit is en waarop kan ek reken? Hoekom lyk die leuen so aanloklik?
Ek dink die waarheid is dit wat die LIG toets deurstaan. Dit is daardie erdeware wat maar opgelig kan word en nie nate en krake wys wanneer die Son daardeur skyn nie. Dit bly altyd waar en altyd dieselfde. Waarheid hoef Homself nie te verdedig of eens te bewys nie. Hy is wie Hy is.
En dankie tog daarvoor. Ek kan hoe verstrengel wees in die valsheid van hierdie wêreld en tog kom Hy elke keer en soek na my. Hy kom haal my waar ek wegkruip en Hy is nie skaam vir my nie. Inteendeel Hy het al my skaamte op Hom geneem, sodat ek nou in die Waarheid-Lig, kan lewe.
En die aanloklikheid? Is dit nie maar omdat ek ‘n diep begeerte het na die bron van Waarheid en Lewe nie? En glo ek nie maar die leuen omdat dit my laat verstaan dat ek my eie dors hierna kan les nie? En bly ek nie dan maar dors nie? Die aanloklikheid kan letterlik enige iets wees wat ek probeer forseer om die hierdie dors te les - selfs “goeie” dinge soos ‘n verhouding, of oefening, Kerkdinge of kinders...
Sonder Hom in dit alles? Bly ek altyd op soek na die volgende “waarheid” van ‘n vals vrug wat belowe om iets te wees wat dit nooit kan wees nie. Die leuen kom altyd met ‘n prys: Ek bly dors.
En die Lewende Water?
On-bekostigbaar duur...klaar betaal...en onuitputbaar beskikbaar om elke dors te les!
En dit is die goeie nuus van Paasfees!
Mag ek hierdie Paasnaweek terugkeer na my eerste Liefde. Na die Een wat my eerste liefgehad het. Wat bereid was om alles prys te gee, om so my dors te kom les. Mag ek dit wat ek in my lewe innooi hou teen die LIG van sy Waarheid en die dinge wat die toets deurstaan koester met alles wat ek het.
Want
Die waarheid is Jesus Christus en (soos ‘n filter op my lewe) wil ek alles daardeur laat vloei, sodat die fontein van Lewende Water in my, my dors kan les en dalk ook iemand anders s’n waarmee ek die Lewende Water deel.
Suiwer, onverdun en vars uit die Bron.
Vandag kies ek Hom. Die Weg, die Waarheid en die Ewige Lewende Water.





Comments