Om Voorbereid te wees...
- Welmarie Janse van Vuuren

- 3 days ago
- 4 min read
John 5: 24 “I assure you and most solemnly say to you, the person who hears My word [the one who heeds My message], and believes and trusts in Him who sent Me, has (possesses now) eternal life [that is, eternal life actually begins—the believer is transformed], and does not come into judgment and condemnation, but has passed [over] from death into life.
Hierdie tyd van die jaar is daar iets anders in die lug. Ja, ‘n bietjie ekstra stuifmeel en Suid-Ooste winde, maar ek verwys eintlik na daardie tikkie opwinding/ afwagting / spanning wanneer die einde in sig is en jy al amper die son room en strand, kan begin ruik… Dit is eksamen tyd, afsluiting -en feestyd. Tyd om werk funksies te reël en etes te beplan. Daardie laaste sperdatums te haal en projekte af te handel...
Hier by ons in die Wynlande is dit ook troue-tyd. Dit is een van die mooiste tye van die jaar wanneer alles groen en vars is. En ‘vars’ is party keer ‘n (ongemaklike) eufemisme, want dit kan nog bitter koud raak hier, voor die lente regtig aanbreek.
Dit het my laat dink aan die grappie van die Ma wat vir haar kind vir die soveelste keer gevra het of hy al genoeg voorberei het vir die eksamen, toe hy afhaak en antwoord: “Nee, Ma! Het jy al begin kook vir Kersfees?”
Ja – VOORBEREIDING is ‘n woord wat baie gebruik word in hierdie seisoen. En soos die houtkapper gesê het, is dit seker maar beter om ‘n ekstra paar ure jou byl te slyp as om ‘n paar ekstra ure aan ‘n hout kappery af te staan…
Dit bly my net opval hoeveel tyd in voorbereiding ingaan, en hoe min tyd dit dan neem om iets te ervaar. Soos om toets te skryf. Jy leer (hopelik) proporsioneel baie meer ure aan die werk wat jy moet weergee as aan die tyd wat dit neem om die toets te skryf. Of wanneer jy lekker kos maak. Dit kan ook ure of selfs dae neem...en dan is dit binne ‘n paar happe op. Of wat van ‘n Matriek afskeid?
Of ‘n troue? Party troues word al vir ‘n hele jaar (of jare?) voor die tyd beplan. Haarfyn. Tot en met die fynste besonderhede. En dan is dit maar ‘n paar ure, of as jy gelukkig is, ‘n naweek lank. Ons probeer om alles in te neem en elke oomblik so goed moontlik te geniet, maar voor ons ons oë kan uitvee is die funksie of toets of geleentheid verby en is daar weer ‘n nuwe seisoen met nuwe voorbereiding wat op ons wag.
Ek hou daarvan om te voel dat ek voorbereid is. Dat ek alles in my vermoë gedoen het om wat ook al voor my lê aan te durf, maar in sekere gevalle is dit maar net nie moontlik nie. Niks kan ‘n mens voorberei op die skielike dood of siekte van iemand naby aan jou nie. Selfs nie eens wanneer ‘n mens die ergste verwag nie. Die emosies wat jy in daardie oomblik ervaar is nie iets wat jy sou kon oefen nie...So, is dit ook met vreugdevolle oomblikke. Soos om vir die eerste keer ‘n nuwe lewetjie in jou arms vas te hou. Niks kan daardie oomblik verwoord of jou voorberei daarvoor nie.
Maar, soos met baie dinge in die lewe, voel dit vir my of die Koninkryk van die Here , net mooi anders om werk. Veral as dit kom by voorbereiding. Waar ons soveel tyd spandeer aan beplanning en voorbereiding vir aardse dinge, het ons in kontras, maar hier net ‘n kort tydjie om ons voor te berei vir die Ewigheid. Vir sommige mense is dit letterlik net ‘n paar ure, dae, of jaartjies en ander het weer ‘n hele lange leeftyd, maar of dit nou 8 of 88 jaar is. Dit bly só kort in vergelyking met die ewigheid...
Gelukkig hoef ons, in die geval van die Koninkryk, ook nie voor te berei vir ‘n toets nie. Die toets vir die Ewigheid is klaar namens ons geskryf – die toegangskaartjie is betaal en die Bruidegom doen self al die voorbereiding vir die Feesmaal wat daar op ons wag. Al wat ek hier kan doen is om te lewe asof daardie dag enige oomblik kan aanbreek en soveel as moontlik mense uitnooi om saam te kom.
Maar dit is nie al wat anders is nie! Op aarde moet ek wag vir die spesifieke dag en datum van ‘n geleentheid om aan te breek, maar in die Koninkryk is dit ook anders: Die fees het nou reeds hier op aarde aangebreek. Ek kan al klaar deel hê aan die ewigheid. Elke keer wanneer die Hemel deurbreek en geregtigheid geskied, of iemand genees word, na liggaam, siel of gees, sien ek hierdie ewigheid voor my oë afspeel.
Ek dink ek word hier op aarde “voorberei” op ‘n ander manier. Ek word die kans gegun om te “oefen” en te voel hoe dit eendag in die ewigheid gaan wees. Wanneer die lente sonnetjie deur die groen blare skyn en louwarm nie net my lyf nie, maar ook my hart kom warm bak is dit ‘n voorbereiding op die ewigheid.
Wanneer ek die eenvoudige vreugde van kindertjies sien of ‘n heerlike bord kos eet. Of selfs net die skoonheid van ‘n mooi kunswerk of patroon in die sand waardeer, is dit ‘n oefenlopie. Ek word herinner aan die hunkering van my hart na ‘n wêreld wat hier al lyk soos in die Hemel... en ek het die voorreg om dit te deel met almal om my: Hoop. Onvoorwaardelike liefde. Vreugde. Herstel. Genesing. En selfs hartseer. Ja nie die hartseer self nie, maar die deel daarvan. Om te weet dat ek nie alleen in my pyn is nie. Dat ek en jy dit kan deel. En dat God self ook weet wat dit is om te ly en hartseer te wees. Dit is deel van die Hemel hier en nou.
Mag ek toelaat dat die God van die Ewigheid, my voorberei hiervoor. Vir ‘n volmaakte wêreld en mag ek elke dag oefen om hierdie wêreld na my eie tydelike, vlietende wêreldjie te bring sodat ek GOED voorberei is, vir die Hemelse oomblikke in vandag en ook uiteindelik - daardie Dag.
Amen.





Liefste Welmarie, jy is voorwaar n bitter besondere boodskapper vir God die Vader. Dis pragtig. Dankie!❤️