Lood
- Welmarie Janse van Vuuren
- Jun 20
- 1 min read
My hart voel sinker swaar
En uiteindelik maak dit sin
toe U die lood vir my wys
Stukke ingemessel deur tyd
koud en grys
met sagte weefsel tussenin
eers tóé kon ek toelaat
(en eintlik teen my sin)
dat u dit saggies uitsny -
Oorgee
en kyk hoe U dit smelt
in die vuur van dit
wat U vir my Ly
Soos ‘n ystersmid wat delf
in my hart
Totdat dit vorm aanneem
en U die wording van ‘n
SKILD vir my wys
Loodswaar vat U die seer
en vorm so my verweer
Teen dit wat ek nie kan sien
of van weet nie
Radioaktiwiteit - wat my wil vernietig
Soos golwe wat my binneste indring
En dit wat ek glo, kom verwring
Sonder my besef of dink of voel...
U verander hierdie swaar-hart-lood se doel
U beskerm my
Met dit wat my hart wou vergiftig
Bou U oor tyd ‘n die sterkste skans
En ek kan rus in die wete
dat die gewig in my hart
Deel kan wees van my beskerming
U kán die lood in my hart gebruik
Dit is eintlik U ontferming.

Comments