top of page
Search

Vrugte

John 15:5


5 “I am the sprouting vine and you’re my branches.[e] As you live in union with me as your source, fruitfulness will stream from within you—but when you live separated from me you are powerless.


Vrugte begin by klein saadjies / pitte en soos meeste dinge in die lewe (wat die moeite werd is), neem sade tyd om weer vrugte te word en te vermeningvuldig. Die sade beskik oor die potensiaal om in ‘n boom (of selfs in ‘n boord) te verander, maar dit het eers nodig om te sterf, sodat die nuwe lewe daaruit kan voorspruit.


Amper soos ‘n skoenlapper wat uit ‘n papie gebore word, lyk vrugtebome heeltemal anders as die sade of die vrugte wat hulle dra. Daar is ‘n metamorfose waardeur hulle moet gaan. ‘n Nuwe skepping wat weer nuwe "skeppings" oplewer. ‘n Siklus gekoppel aan seisoene.


Baie keer voel dit vir my asof die Here ‘n saadjie in my hart kom plant. ‘n Stil gedagte of idee van iets waarmee Hy besig is. Ek kan kies om dit te ignoreer, of ek kan kies om daarop te reageer. Hy laat altyd die keuse oor aan my. Kies ek om dit te ignoreer, kom dit weer en weer by my op. Partykeer met jare wat tussen-in verby gaan. Kies ek om daarop te reageer, kos dit gehoorsaamheid. Ek moet miskien eers die saadjie gaan begrawe. Of wag vir die regte tyd om dit te doen. As dit in die grond is lyk dit ook nie altyd asof iets gebeur nie, maar as ek vashou aan die belofte wat in my hart ingespreek is, begin daar iets lewe onder die oppervlak. Ek moet wag vir die saad om te ontkiem en wanneer dit broos begin groei, moet ek toelaat dat die Tuinier daarna omsien: Water gee, sonlig, bemesting, beskerming. Ek moet toelaat dat die boompie gesnoei word, todat ek kan sien hoe dit al hoe sterker word en stadig begin bot. Wanneer die bloeisels verskyn, moet ek Geloof soos insekdoder oor my hart spuit. Die vrugte is oppad. Ek moet dalk toelaat dat dit bestuif word deur die mense wat Hy oor my pad stuur wat met insig en wysheid die boompie laat vrug dra.


Hierdie vrugte, wat met ‘n saadjie begin, is vir my soos ‘n idee of gedagte wat op die ou end in ‘n produk verander. Dit kan 'n storie/gedig/boek/dans/musiekstuk/ skildery/ beeldhouwerk/werk/oplossing ens wees. Die idee-tot-produk kreatiewe proses bly ‘n brose een. Vrugte wat aan ‘n boom hang is uitgestal en baie keer nog in-wording. Miskien is almal nog nie ryp nie, party is dalk al vrot en ander was te min bloot gestel aan die son en bitter, maar hulle is daar buite...en kwesbaar.


‘n Mens sou jou vrugte dalk graag eerder vir jouself wou hou, maar as vrugte nie gepluk en geëet word nie, word hulle vrot. Die hele doel van daardie sagte-fluister-saadjie in jou binneste, is om op die ou-end voedingswaarde te hê en die kreatiwiteit in ander te vermeerder of net 'n saadjie te plant. Vrugte lei tot vrugte. Die groei -uitstal- pluk proses is nie altyd maklik nie, maar dit is die moeite werd. Daarvan kan ek elke dag getuig.


So as ek weer aan my saadjies of vrugte begin twyfel: Mag ek toelaat dat hulle sterf in hulleself sodat hulle in die donker grond van oorgawe in boompies kan ontwikkel. Bome wat dalk nog snoeiwerk of bemesting nodig het, maar wat die potesiaal het om vrugte te dra, saad te skiet en ander te voed.


Mag ek my vrugte met trots dra omdat hulle ingeënt is in die Boom van die Lewe en die Heilige Gees die groeiwerk doen.


Mag my vrugte proe en lyk soos Hy hulle van die begin af beplan het en mag ek uit die pad uit staan, sodat daar nuwe sade kan ontkiem in my hart.


*(As jy voel dat Hy - dalk al lankal - 'n sagte saadjie fluister in jou hart, moenie dit ignoreer nie. Daar is iemand wat net mooi die vitamines in jou vrugte nodig het, om self weer vrugte te dra...plant vandag daardie saadjie en staan verstom oor dit wat kan gebeur!)





100 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page