top of page
Search

Vrot Appels

Vrot Appels


Galatians 5:9-11. The Passion Translation · Don't you know that when you allow even a little lie into your heart, it can permeate your entire belief system?


Daar is party maal daardie een. Die een in die pakkie wat eerste af gaan of vrot is. Te laat gepluk of net van die begin af suwwerig. Ek gril my morsdood!


Nou die dag pak ek appels in die vrugte bak en druk skielik my vinger in ‘n vrot appel se sagte, pap vleis. Mooi weggesteek en weggedraai in die verpakking sou ‘n mens nou nooit kon raai dat die appel vrot is nie. Ek is sommer summier lus om die hele pak weg te gooi! Ek gril vir die gevoel onder my naels en skrop my hande… Sê nou dié appel het die res aangesteek? Of daar is nog so ‘n pappery verassing aan een van die ander kante van die appels wat so mooi gelyk het…en toe nie so mooi is nie? Ek ril sommer nou nog.


Wat ‘n vermorsing sou dit nie wees nie! ‘n Hele sakkie in die drom omdat één vrotte daarin weggekruip het. Versigtig kyk ek toe een vir een deur en spoel almal af en vryf blink en belowe myself dat ek nooit weer by daardie winkel appels sal koop nie. (Wat natuurlik heeltemal irrasioneel is.) Een vrot appel kan nie opweeg teen my vertroue in die winkel waar ek al vir 20 jaar lank honderde gesonde appels koop nie…


En dit het my laat dink aan die klein minderheid wat partymaal soveel skade kan aanrig aan die menigte. Vanoggend is daar weer paaie gesluit in Kaapstad, want mense is ontevrede oor een of ander kwessie en voel hulle het die reg om deur vandalisme hul ontevredenheid uit te spreek. Ek wonder: hoe kry so ‘n klein groepie mense dit reg om ‘n hele stad te ontwrig? Soos ‘n klein bende wat ‘n hele gemeenskap in ‘n Skrikbewind gevange kan hou?


In ons land is daar soveel mense (en ek glo dit is absoluut die meerderheid) wat in vrede wil saam lewe. Wat graag vir hulle kinders goeie geleenthede en ‘n opvoeding wil gee. Wat ‘n standvastige ekonomie wil ondersteun en net wil lewe. In vrede. Sonder die vrot appels.


Ons, die mense van ons land, is die menigte. Die mag lê eintlik hier. Ons hét die oorhand. Eintlik. Maar ons besef dit nie…ons laat toe dat die een of twee vrot appels die res van die sakkie aansteek en partykeer gooi ons sommer die hele sakkie weg. Goeie appels en al.


Mag ek anders begin kyk na die mense om my. Mag ek ophou om te stereo-tipeer en besluit of ek nie dalk te doen het met die een vrotte terwyl die res eintlik gesond is nie. Mag ek nie mense veroordeel omdat hulle in dieselfde sakkie is, as die vrottes nie. Dit is dalk bloot toevallig. Dalk is die heel lekkerste gesondste appel weggesteek in daardie sakkie en ek mis uit omdat ek uit my vorige ervaring, appels nou heeltemal vermy...


Mag ek ook nie die vrottes veroodeel nie: Ek het dalk ‘n aandeel in die verrotting? Of ek is blind vir my eie vrot kolle...


Mag ek toelaat dat die Heilige Gees se teenwoordigheid in my, eerder die mense waarmee ek te doen kry, aansteek met ‘n positiewe vuur van samehorigheid en liefde en begrip: Vir vrot appels, vir gesondes en die appels wat nie gekies het om saam in sakkie te wees nie.


Amen.




128 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page