top of page
Search

Vlees Hart


Ezekiel 36:26 (Amplified Bible)

26 Moreover, I will give you a new heart and put a new spirit within you, and I will remove the heart of stone from your flesh and give you a heart of flesh.


Iemand het eenkeer gesê: "Om kinders te hê, is soos om jou hart buite jou lyf te laat rondloop..." Ek weet nie wie dit was nie, maar ek kan verseker daarmee vereenselwig. Dit is nie maklik om jou hart buite jou lyf te laat rondloop nie - en aanvanklik voel dit ongemaklik en net nie reg nie: Broos, ontbloot en kwesbaar.


Instinktiewelik wil ek my hart beskerm.


Ek sou seker my hart kon toedraai en êrens kon wegsteek of toesluit? Of dalk net kon verdoof? Maar hoe sou hy dan die lewe kon ervaar? Vinniger kon klop, verlief kon wees of opgewonde raak? Pyn (partykeer letterlik) en sag kan word op die mees onvoorspelbare maniere?


Nee, om hierdie lewe in al sy glorie en grusaamheid en geluk te ervaar, moet ek maar my hart uithaal, oopsluit en daar buite sit.


Soos wanneer ek 'n nuwe idee vir die eerste keer met iemand deel. Of 'n kreatiewe skepping uitstuur in die wêreld. Wanneer ek regtig lief is vir iemand of besorg is of net kan voel dat ek op dieselfde golflengte is met die persoon langs my. Ek kan nie die uitkoms van die hart-buite-my lyf beheer nie. Ek kan nie voorspel of dit met liefde gekoester gaan word of dalk vertrap gaan word nie.


Al wat ek weet, is dat ek dit nie kan toesluit nie.


Hierdie hart wil asem haal. Voel. Al is dit soms baie gevra en seer en ongemaklik. Dit is eenhonderd keer beter as die lam en dowwe geklop van 'n hart agter slot en grendel. Verhard deur isolasie, apatie en bagasie. Klip.


Mag ek my hart versigtig maar gereeld uithaal en deel met die mense om my. In sy volle onvolmaaktheid. Mag ek nie wag vir die dag wat hy perfek en sterk genoeg is of dalk soos iemand anders sin lyk nie. Nee mag ek my eie hart met oorgawe daar buite sit. Om te voel en te ervaar en sterker te raak, nie harder nie.


Mag ek altyd 'n hart van vlees hê - elasties, sag, reëlmatig en getrou.

'n Nuwe een. Soos Syne.


Amen.







130 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page