Psalm 45:7 (AMP) 7You have loved righteousness (virtue, morality, justice) and hated wickedness; Therefore God, your God, has anointed You Above Your companions with the oil of jubilation.
In die laaste paar jaar was ek in die bevoorregte posisie om ‘n hele paar Bruilofsfeeste by te woon. Troues is nou maar een maal net spesiaal - en my romantiese hart, is mal daaroor!
Ek hou van elke element. Die beplanning, die uitsien. Die gaste, wat almal moeite doen om op hulle beste te lyk en so erkenning te gee aan die groot oomblik in twee spesiale mense se lewens.
Natuurlik ook die dekor, die feestelikheid, die rok en dan my heel gunsteling: Die oomblik wanneer die bruid instap en die bruidegom haar vir die eerste keer in al haar pragtige glorie, sien.
Daardie weerlose oomblik laat my altyd met ‘n knop in my keel. En dan die seremonie: ‘n Herinnering aan die beloftes wat ek ook lank terug gemaak het en my verbintenis aan hierdie een persoon in my lewe. Ek - syne en hy - myne.
So het die onlangse troues my laat dink aan hoe baie keer daar na troues verwys word in die Bybel. Jesus se heel eerste openbare wonderwerk was by ‘n troue. Ons, as gelowiges, word gesien as Sy bruid... en nog soveel ander voorbeelde.
Maar, daar is een gelykenis oor ‘n troue wat my nog altyd bietjie ontstel het. Dit is die een oor die tien meisies wat met hul olie lampies wag vir die bruidegom om te kom. Hy daag baie laat en onverwags op na ‘n lang wag en dan het net vyf van hierdie meisies genoeg olie in hulle lampies oor om hom te verwelkom. Dit voel ‘n bietjie onregverdig? Veral as ‘n mens die storie verder lees en sien hoe die vyf meisies met genoeg olie nie vir die ander vyf van hulle olie kon gee nie. Dit is darem selfsugtig? Hierdie meisies sonder olie word dan gestuur om olie te gaan koop, maar in die tyd wat hulle weg is, daag die bruidegom op en kan hulle nie die fees bywoon nie...
Die laaste paar weke het ek gaan stil sit met hierdie storie. Wat wil die Here vir my sê deur hierdie gelykenis? En hoekom kon die olie nie gedeel word nie? Ek het wyd gaan lees en probeer om agter die kap van die byl te kom, totdat die Here een oggend in die stort (waar die meeste van my openbarings gebeur) my herinner het aan die skets wat ek gemaak het van Jesus op die Olyf berg, op pad na Jerusalem toe: In die agtergrond is ‘n reuse sonneblom. ‘n Simbool van die vreugde wat op Jesus gewag het nadat Hy alles gedoen het wat Hy hier moes doen, maar ook as ‘n teken daarvan dat dié blom die nuttigste is, wanneer hy doodgaan. Eers dan kan die sade geoes word en olie daarvan gemaak word.
Hoe ongelooflik om te dink dat Jesus voor sy kruisiging in die tuin van Getsemane gaan bid het? Die plek wat “olyfpers” beteken. Daar het Hy letterlik Sy lewe kom neerlê en oorgegee aan die Vader se wil, sy lyf letterlik gepars onder die gewig van dit wat voorgelê het tot op die punt waar Hy bloed begin sweet het.
Om olie te maak, is ‘n proses. ‘n Doodgaan en ‘n pars proses. Dit is nie maklik nie, dit kos alles en is dus kosbaar. Dit is dié dinge wat nie noodwendig met die blote oog gesien kan word nie. Dinge soos geloof, vertroue, gehoorsaamheid...oorgawe.
Hoekom kon die vyf meisies met genoeg olie nie hulle olie deel nie? Want hierdie kosbare olie wat ons lampies volmaak is ‘n baie persoonlike pars proses. Ek besef al hoe meer dat ek nie namens iemand anders hierdie olie kan bekom nie. Jy moet self besluit om jou olywe of sonneblom sade oor te gee, sodat olie daarvan gemaak kan word.
En dan kan dit lig bring vir ander. Dan kan ek en jy saam met Jesus soos in Jesaja 61 sê : “1Dit is die Gees van die Here wat my lei, Hy wat Here is, want die Here het my gesalf. Hy het my gestuur om goeie nuus te bring vir mense wat swaarkry, om mense te troos wat huil en treur, om vir gevangenes wat geboei is, te sê hulle is vry, hulle mag uitgaan. 2Ek moet vir almal sê dit is nou die tyd wanneer die Here goed sal wees vir ons. Ons God sal sy vyande straf maar Hy sal dit goed laat gaan met almal wat nou huil en treur. 3Hy sal alles verander vir die mense van Sion wat nou treur. Daar is nou as op julle koppe, maar julle sal blomme op julle koppe hê. Julle treur nou, maar julle sal bly wees en julle sal olyf-olie aan julle smeer. Julle voel nou baie hartseer, maar julle sal sing en fees-klere aantrek. Ander mense sal sê julle, die mense van Sion, is bome wat regtig is soos die Here wil hê hulle moet wees. Die Here het hulle geplant om Hom te eer.”
Hoekom kan ek dit saam sê? Want ek het swaargekry en Hy het goeie nuus vir my gebring, ek het getreur en Hy het my getroos. Ek het soos ‘n gevangene gevoel en Hy het my vrygemaak. Hy het alles verander. Ek kan bly wees en al was daar as op my kop, kan ek nou my feesklere aantrek. Ek het gevoel hoe dit is om blind te wees en nou kan ek sien...
Hierdie olie is kosbaar. Dit vloei uit ‘n proses, wat ek aan my lyf kan voel. Dit is eg en suiwer. Dit is nie net praatjies of goeie idees of bedoelings nie. Dit is nie net leë lampies wat lyk asof dit vol kan wees nie, nee. Dit is vol met ‘n herhaaldelike proses van gehoorsaamheid, neerlê en oorgawe, herstel, genesing. vrymaak en vreugde.
En die ekstra olie? Wat die wyse meisies saamgevat het? Dit is daardie tye in my verlede wat die Here getrou was. Tye wat Hy my deurgedra het. Ek kan hierdie ekstra olie saam met my vat, sodat ek dit kan uithaal en gebruik wanneer dit voel of my olie besig is om op te raak en dan kan ek myself herinner: “Hy was nog altyd getrou. Hy sal nou ook weer wees.”
Mag my lampie nie net ‘n mooi dekor item wees wat lyk soos wat ‘n mens verwag ‘n lampie moet lyk nie, maar mag dit gevul wees met die krag van die Heilige Gees en al die pars oomblikke, oomblikke waar die olie van vreugde en genesing gevloei het, sodat dit regtig lig kan bring in hierdie donker wêreld en ek die grootste Bruilofsfees van alle tye kan ingaan met ‘n hart wat brand. Ek Syne en Hy myne.
Sy lewe neergelê en gepars vir my.
Ons, Sy Bruid, gesalf met die olie van Sy gehoorsaamheid.
Sela.
Kommentit