top of page
Search
Writer's pictureWelmarie Janse van Vuuren

Toegerus

Exodus 3:11-12

11 “But I’m not the person for a job like that!” Moses exclaimed. 12 Then God told him, “I will certainly be with you, and this is the proof that I am the one who is sending you: When you have led the people out of Egypt, you shall worship God here upon this mountain!”


Moses. Ek wonder soms hoe hy moes gevoel het daar langs die brandende bos? Nuuskierig? Verbaas? Onseker? Ongelowig?


In die middel van ‘n doodgewone dag, terwyl hy skape oppas, het hy ‘n reuse opdrag ontvang – een waarvoor hy nie goed genoeg gevoel het nie. Al het dit op ‘n ongelooflike bo-natuurlike manier na hom toe gekom, het hy allerhande verskonings gehad waarom hierdie opdrag nie ‘n goeie idee was nie.


Die Bybel sê nie presies wat dit alles was wat Moses so min selfvertroue gegee het nie, maar Moses het gevoel dat hy nie eens behoorlik kon praat nie, wat nog te sê die leier van een van die magtigste nasies in die antieke wêreld konfronteer? En oorreed? Volgens hom sou die mense in die eerste plek nie glo wat op die oomblik met hom aan die gebeur was nie. Hulle sou ook nie na hom wou luister nie en Wie moes hy nou eintlik sê het hom “gestuur”?


Ek voel ook partykeer so. Ek voel ongekwalifiseerd om te doen wat van my verwag word. En al het ek al die ondervinding of opleiding of bronne of kennis tot my beskikking is daar altyd twee stemme in my gedagtes wat my wil ontspoor. Die een sê: “nie goed genoeg nie. Onbekwaam, onervare, ”... noem maar op. En dan wanneer ek hierdie stem stilmaak, is daar die ander een: “Voor op die wa, né? Te groot vir jou skoene? Verwaand?Wie dink jy is jy?”


Ek kan net nie wen nie. Die beelde wat hierdie twee stemme vir my ophou is nie wie ek wil wees nie. Dit is nie die spieëls waarin ek wil kyk nie. Maar net soos in Moses se geval, is daar net een stem wat my kan gerus stel.


Die wete dat ek nie alleen is nie. En dat net EEN stem regtig saak maak.


Ten spyte van al sy twyfel en tekortkominge het die Here, die God van Abraham, Isak en Jakob belowe dat Hy ook by Moses sou wees. Hy sou Moses se “afvaardiging” bevestig deur die vrugte van sy gehoorsaamheid. En in Moses se geval was dit ongelooflike bo-natuurlike wonderwerke! Maar arme Moses was nog steeds nie oortuig nie. Hy het gevra of daar nie iemand anders was, wat in sy plek kon gaan nie? Ook hier is hy tegemoet gekom. Aaron sou saam met Hom gaan en help.

In elke faset waar Moses gevoel het hy is nie, het die groot “EK-IS” hom gerus gestel en toegerus.


Wat ‘n mooi woord (!) ”toegerus”. God die Vader het vir Moses alles kom gee wat hy nodig gehad het om op die ou end die hele volk uit Egipte te lei en vir 40 jaar lank hulle leier te wees. Moses kon rus - in die toerusting van God.


En ek wonder sommer net of dit nie juis die patroon is wat God gebruik, om mense te kies om vir Hom hier op aarde, te verteenwoordig nie? Mense wat juis weet dat hulle niks uit hulle eie kan doen nie. Mense wat soos Moses heeltemal ongekwalifiseerd voel vir die taak wat voorlê nie? Soos Noag of Jona? Dawid? En selfs die persoon met die meeste wysheid in die geskiedenis van die Bybel, Salomo, het geweet hy is nie toegerus vir die groot taak wat voor hom lê nie en juis om hierdie rede ontvang hy wysheid, kennis en insig wat die mense om hom stom geslaan het.


So, as jy vandag, (soos ek) voel dat jy ‘n “nie is nie” ... laat “EK IS” toe, om jou toe te rus. Dalk soek Hy juis vir iemand soos Moses. Soos ek en jy - om rus te gee in Sy toerusting.


Ons moet net bereid wees, eerlik wees oor ons tekortkominge en vrese en dan (as dit voel of ons ons eie Moses teëgekom het), sê Hy: “wat is in jou hand?” Dit is al wat Hy nodig het.


Sela.



91 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page