top of page
Search

Ter wille van Oorlewing:

Matthew 6:34 (TPT) “So above all, constantly seek God’s kingdom and his righteousness, then all these less important things will be given to you abundantly. Refuse to worry about tomorrow, but deal with each challenge that comes your way, one day at a time. Tomorrow will take care of itself.”


Op ‘n Dinsdag kom laai die Munisipaliteit die vullis in ons buurt op. Van vroeg af kan jy dan die plaaslike “herwinners” hoor rammel in die teerpad. Op en af in die buurt met hulle winkeltrollies. Soos wafferse skatte jagters, grawe hulle in die vullis, opsoek na iets van waarde.


Verlede Dinsdag laat weet die Munisipaliteit dat hulle bietjie laat gaan wees en dat ons asseblief die vullis dromme ‘n rukkie langer buite moet los. Ek het ‘n vergadering buite die dorp en toe ek terug kom is ek net betyds om ‘n trollie herwinner raak te sien, so ‘n blok vêr. Iets blink en skitter in die son op sy opgestapelde vonds. Soos ek nader kom vang my oog die mooiste helder kleure en toe ek redelik naby is, sien ek toe dat dit iemand se Kersfees “tinsel” is wat pragtig goud en pers pryk bo-op die stapel.


Ek moet glimlag vir dié koddige prentjie. Die blink van die snippertjies plastiek stringe is sterk in kontras met die vaal plastieksakke, verslete klere en stowwerige voete van die nuwe eienaar. Ek wonder of hy al ooit in sy  lewe sy eie Kersversierings gehad het? En of dit dalk vir hom ook soveel vreugde sal verskaf soos die mense wat dit voor hom besit het?

Dit tref my skielik hoe so iets mooi (wat eintlik maar min kan beteken vir die trollies stoter se fisiese oorlewing), dalk net daardie klein bietjie skoonheid in sy dag kan bring. ‘n Skat van groter waarde: Hoop.


Interessant hoe ek ook partykeer dink oor oorlewing. Die voor die hand liggende goed soos inkomste, uitgawes, produktiwiteit…genoeg of te min, maar dit is nie regtig dit wat my laat oorlééf nie. Ek weet ek het dit nodig, maar ek kan ook ‘n stapel goed bymekaar maak en nog steeds hopeloos voel.


Ek besef dat ek nie net van brood alleen kan lewe nie, maar elke lewende Woord uit die Here se mond nodig het. Sy voorsiening in my basiese behoeftes ja, maar ook Sy woorde wat Hy oor my, as sy unieke skepping uitgespreek het, die dag toe Hy besluit het dat die wêreld iemand presies uniek, soos ek gaan nodig hê.


Ek moet, soos hierdie man, ook my siel voed. Uitvind wat my hoop gee, opgewonde maak en laat floreer. Ek kan nie net die pot aan die kook hou nie. Ek het speserye nodig. Interessante bestanddele en resepte sodat ek kan smul aan die feesmaal wat die Here vir my in gedagte het.


Dit laat my dink aan die Chinese spreekwoord wat lui: “When you have only two pennies left in the world, buy a loaf of bread with one, and a lily with the other. The bread will sustain life. The flower will give you a reason to live.


Of ek nou ‘n trollie herwinner is of net ek, ons het iets nodig om ons hoop en inspirasie te gee. En hierdie jaar wil ek weer ontdek wat dit is wat my laat “tick”. Daardie tinsel op my rommel versameling wat maak dat ek genoeg krag het om die trollie van die lewe opdraande  te stoot.


Mag ek dit raaksien en met my saam neem op hierdie reis en nooit ophou om na die blink skitter van ‘n moontlike skat te soek nie. Daardie soort wat hoop gee en Ewigheids waarde het.


Sela.



 

171 views1 comment

Recent Posts

See All
bottom of page