top of page
Search

TANKED

(Definition of TANK (verb): if something tanks, it fails completely.)


Philippians 4:6

6Don’t be pulled in different directions or worried about a thing. Be saturated in prayer throughout each day, offering your faith-filled requests before God with overflowing gratitude. Tell him every detail of your life, 7then God’s wonderful peace that transcends human understanding, will guard your heart and mind through Jesus Christ. 8Keep your thoughts continually fixed on all that is authentic and real, honorable and admirable, beautiful and respectful, pure and holy, merciful and kind. And fasten your thoughts on every glorious work of God, praising him always.


Die lewe kan in ‘n oogwink verander.

Die ink van my vorige stukkie was skaars droog, toe my Pa die volgende oggend bel. Ek het niks vermoed nie. Dit is nie ongewoon nie: Hy lewer gewoonlik (opbouende) kommentaar en laat weet my dat hy, dit wat ek geskryf het, êrens op sosiale media gedeel het, maar hierdie keer was dit anders. Toe ek vra hoe dit gaan, was dit nie sy gewone, opgeruimde self wat terug geantwoord het nie. (Ek kan eerlikwaar nie eens onthou dat hy al ooit só geantwoord het nie… )“Man,” was sy huiwerige woorde “nie te goed nie”. My lyf was skielik doodstil-nugter. Asof my adrenalien-kliere suurstof na my brein en ore toe gestuur het, teen die spoed van wit lig. My hart het, amper onder dwang, egalig geklop tot in my ore: “Mamma is opgeneem in die hospitaal. Dit lyk asof een van haar are verstop is en hulle ‘n hartoperasie sal moet doen - so gou moontlik…” Ons al twee se woorde was skielik op. “Sjoe” is al wat ek kon uitkry. “Ek wil maar net vra dat julle saam sal bid vir haar, ” het my Pa verder probeer gesels. Ons gemoedere vol. Die gesprek was nie baie lank nie.


Ek het dadelik almal wat ek kón laat weet om saam te bid, gevra om so te maak. My gedagtes was aan die hardloop. My Ma is seker dié gesondste mens wat ek ken. Hoe op aarde is dit moontlik? Wat kon dit ge-trigger het? ‘n Maalkolk van hoekom en wat en hoe nou? Terwyl ek whatsapps antwoord en probeer verduidelik wat aan die gebeur is, kom daar ‘n boodskappie van my dogter deur. Dit dwing my terug na die onmiddellike realiteit: Hierdie dag is ook gevul met reëlings vir die Matriek afskeid in Hermanus waarheen Mia genooi is. Ek het die hele dag oop gehou. Vroeg oggend haar hare afspraak, dan grimering sodat hulle betyds kon ry en nog aantrek en foto’s neem.


Die nuus van my Ma, was nie net ontstellend nie, maar ook ‘n ontwrigting. Dit is selfsugtig - ek weet. Maar ek wou fokus op Mia en alhoewel dit nog nie haar eie afskeid was nie, wou ek dit saam met haar geniet. Ek wou in die oomblik wees, maar my Ma het my gedagtes vêr laat draai. Die emosies het vlak gelê. Ek was kwaad, teleurgesteld en hartseer. Tranerig. ‘n Dag vol vreugdes en afwagting is in ‘n oogwink verander in ‘n storm. Mia was ook ontsteld oor haar Ouma…en ons al twee was bekommerd.


As ek nou terugdink, was dit definitief ‘n bedekte seën – die ‘oop’ dag. Ek is maar net te dankbaar dat ek nie op enige iets anders sou moes fokus nie en wel kon dink aan my Ma en bid...terwyl ons mooi maak en uitsien...


Gebeure soos hierdie herrangskik ‘n mens se gedagtes.


Ek onthou hoe ‘n vriendin onlangs vertel het, hoe haar ouers haar by die skool kom haal het om die nuus te deel dat haar Ouma oorlede is. Sy is oor die interkom geroep en vir jare daarna het sy elke keer as iemand oor die interkom geroep is, gevrees vir die ergste.


Het dit gehelp? Het dit die volgende keer se slegte nuus minder erg gemaak? Ek dink nie so nie. Sy ook nie. Ek besef nou dat niks jou regtig kán voorberei vir slegte nuus nie. Ek dink ook nie dit sou gehelp het om angstig te wees toe my Pa gebel het nie. Inteendeel - ek dink dit het my lyf gehelp om te cope, juis omdat ek verwag het dat ons sommer net gaan gesels oor my stukkie wat ek geskryf het. Ek was rustig en ontspanne. Ek dink die nuus sou my dalk heeltemal ontspoor het as ek reeds in ‘n toestand van paniek was, maar gelukkig was my angs tenk nie vol nie: Dus kon hy nie dadelik oorloop nie.


My ma is gelukkig OK. Sy het ‘n hartaanval gehad, maar die dokter kon dit behandel. Geen operasie of drastiese ingryping was nodig nie. Net medikasie en rus. Die oorsaak? “Langdurige intense emosionele stress…” Nie verstopte are of infeksie nie, net ‘n Ma en ‘n vrou wat soveel omgee en voel dat haar eie hart dit nie meer kon hou nie…


Dit is ‘n duur les om te leer : Daardie stress/emosionele tenk van mý hart kan my inhaal. Sonder dat ek weet – en veral wanneer ek dink ek is OK…en ek dalk nie besef hoeveel emosies ek daar binne stoor nie. Hy kan net so ver rek. En dan is dit genoeg. TANKED. Uitgerek.


Ek vermoed dit is waarom die Here ons elkeen ook in Sy Liggaam gesit het. Ons het mekaar nodig. Maak nie saak hoe goed ek dink ek regkom op my eie nie, sonder ander mense, kan ek net nie behoorlik funksioneer nie. Ek het blinde kolle wat ek net nie kan raaksien nie en ek is dalk stokblind van daardie balk in my eie oog. Ek het ‘n professionele Skrynwerker nodig om dit uit te haal.


Die toekoms is onseker en die lewe kan in ‘n oogwink verander. My energie en tyd en gedagtes is al wat ek het. Dit is OK om nie OK te wees nie. Dit beteken nie dat ek nie weer ok gaan wees nie. My hart oefen net. Hy strek en raak soepel.


Mag ek hom toe laat om fiks te word en mag ek nie elke keer die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, want wat as dit dalk goeie nuus is?

Sela.




108 views0 comments

Recent Posts

See All

Leë Nes

bottom of page