top of page
Search

Sy Koninkryk of myne?

Writer's picture: Welmarie Janse van VuurenWelmarie Janse van Vuuren

John 13:12After washing their feet, he put his robe on and returned to his place at the table.  “Do you understand what I just did?” Jesus said. 13“You’ve called me your teacher and lord, and you’re right, for that’s who I am. 14-15So if I’m your teacher and lord and have just washed your dirty feet, then you should follow the example that I’ve set for you and wash one another’s dirty feet. Now do for each other what I have just done for you. 16I speak to you timeless truth: a servant is not superior to his master, and an apostle is never greater than the one who sent him. 17So now put into practice what I have done for you, and you will experience a life of happiness enriched with untold blessings!” 


Hier in Stellenbosch is dit op die oomblik baie koud en baie nat. Vir die afgelope week was daar nog net hier en daar ‘n paar minute sonskyn wat deur die digte wolke gebreek het. Verder hoor ons net van oorstromings, modder stortings en selfs skole wat vir eers gesluit is. Die Kaap van Storms – beslis. Om hierdie koue ‘n bietjie draagliker te maak, steek ek al vroeg middag die kaggel aan en begin stook ek aan die vuurtjie, sodat die leefarea darem ‘n aanvaarbare temperatuur teen die aand  bereik.


Ek hou van vuurmaak. Selfs wanneer ons braai, is ek gewoonlik die een wat die hout pak en sorg dat hy behoorlik brand. Daar is nou maar net iets baie bevredigend daaraan om te sien hoe die stukke  vlamvat en die helder vlam-slierte dans tussen die verskillende stompe.

Maar dit neem tyd. Gewoonlik is dit nodig om eers ‘n paar fyner houtjies saam met die blits aan die gang te kry, voor die groter stompies opgelaai kan word. En dan is daar daardie kritieke punt wat eers bereik moet word voor die vuur op sy eie kan aangaan. Die oomblik waar alles (soms onverwags) net vlamvat en gelyk begin brand:  ‘n “Tipping Point” of kritieke massa oomblik, waarin dit wat was, totaal en al verander. Op die oog af lyk dit soos ‘n skielike gebeurtenis, maar as ek alles in ag neem, is daar ‘n hele lang aanloop tot hierdie punt uiteindelik bereik word...


So wonder ek nou al ‘n rukkie oor kritieke punte, en meer spesifiek oor Judas Iscariot. Ek wonder oor die aanloop en wat dit gevat het om hom tot ‘n onomkeerbare besluit in sy lewe te dryf. In my stilte- tyd het ek onlangs weer die gedeelte gelees waar Jesus Sy dissipels se voete gewas het. Sover ek weet het die dissipels niks vermoed oor dit wat in Judas se hart in daardie laaste dae gebroei het nie. Hulle was almal saam volgelinge van Jesus.  Hulle het hul gewone lewens agter gelaat om te leer by die persoon wat (hulle geglo het), die Messias is.


Ek wonder wat hy (wat Judas was), gedink het? Hoe die storie wat hy vir homself vertel het, geklink het in sy kop? Die verwagtinge wat hy gehad het van hoe die Messias moes lyk en optree? Ons weet dat hy die geldsake van die groepie volgelinge moes hanteer en dat hy die “vermorsing” van die duur parfuum van Maria veroordeel het, omdat dit volgens hom baie meer kon beteken het as die geld daarvoor vir die armes gegee kon word. Hierdie salwing van Jesus, met die kosbare parfuum, was net ‘n rukkie voor daardie laaste keer waar hulle almal saam sou eet en ek wonder of die “voete was scenario” voor ete, nie dalk die kersie op die koek was vir hom nie? Hierdie kamtige koning wat sy bokleed uitgetrek en hulle voete gewas het? Wat Homself so verneder het om iets te doen wat slawe nie eens in alle waarskynlikheid sou wou doen nie? En dan vir hulle die opdrag gegee het om dieselfde te doen?


Was dit dalk net die laaste strooi? Ek wonder of hy nie gehoop het dat sy assosiasie met Jesus vir hom aansien sou bring eerder as diensbaarheid nie? Status en eer of beroemdheid – wanneer Jesus uiteindelik koning word en die Romeinse reik verower het? En of hy dalk so teleurgesteld was in die realiteit van wie Jesus was (en is) teenoor sy eie beeld van Hom en verwagtinge dat hy dalk besluit het dat dié Jesus van Nasaret nie die Messias kon wees nie? Hierdie Jesus het (dalk) nie ingepas in die boksie waarin Judas Hom wou sit nie. En waarskynlik is hy nie een keer nie, maar ‘n paar keer teleur gestel in die manier waarop Jesus Sy dissipels geleer het oor dit wat regtig belangrik was...en hoe die Koninkryk van die Hemel eintlik werk: ‘n Onderste bo koninkryk, waar die geringste die belangrikste is...en om in Sy teenwoordigheid te wees en jou kosbaarste besitting uit dankbaarheid uit te stort oor Hom, ‘n publieke vertoon van ‘barmhartigheid’ troef...


Dit het my laat wonder oor my eie motiewe en ambisies. Is Hy my Here? Vader? My Verlosser? Is ek beskikbaar vir dit wat Hy deur my wil doen. Al kos dit dalk alles?

Is ek teleurgesteld in situasies of die manier waarop dinge gebeur of uitwerk omdat ek dit in my eie selfsug of verwagtinge anders wou hê? Sukkel ek om totaal en al beheer oor te gee? Wat maak ek met my teleurstellings? Is ek eerlik soos Dawid? Of laat ek toe dat dit wortel skiet in my? Is dit wat met Judas gebeur het?


Want my teleurstellings is altyd net op ‘n menslike vlak. Sy karakter bly altyd dieselfde. Hy is Goed. En Heilig. Almagtig en Soewerein. Hy bly getrou. In die oomblik voel dit miskien nie so nie, maar as ek terugkyk na die pad saam met Hom, kan ek net diep dankbaar wees dat dinge  nie  altyd uitgewerk het soos ek dit wou hê nie. Hy sien die einde van die begin af.

Mag ek dit onthou en nie toelaat dat dit wat  ek nie kan verstaan of verduidelik nie, in die pad staan van wie HY is of wil wees in my lewe nie.


Mag Sy liefde en genade vir my,  eerder die kritieke punt wees wat die vuur van my hart laat vlamvat met diensbaarheid en nederigheid, sodat selfsugtige ambisies en motiewe (selfs die waarvan ek nie eens bewus is nie) kan wegbrand in ‘n liefde vir Hom en vir ander mense.


Jesus het Judas se voete ook gewas. Hy het geweet wat dit sou beteken. In die oomblik, maar ook tot in Ewigheid.


Mag Sy koninkryk kom en nie myne nie.


Sela.



166 views0 comments

Recent Posts

See All

Speel-Speel

Comments


bottom of page