top of page
Search

Sy Goedheid

Romans 2:4

...God’s kindness is intended to lead you to repentance...


By die bekende mark waar allerhande “makers” bymekaar kom om hul kreatiewe skeppings in kamers vol oorspronklike produkte uit te stal, was ek so bevoorreg om deel te hê aan die “kuns-kamer” ‘n Versameling van uiteenlopende kunstenaars wat almal dieselfde hart van Hoop deel.


In die week van die uitstalling het dit ‘n paar keer gebeur: ‘n mens wat spontaan emosioneel raak oor ‘n skildery of tekening of gedig.

Party mense wat net stilweg glimlag, en die emosies wat hulle ervaar, in hulle harte bewaar. Ander wat sommer net lekker huil. (Daai lelike een waaroor jy geen beheer het nie – maar baie beter voel na die tyd.) En ander wat weer giggel oor die toevalligheid van iets in ‘n kunswerk of woorde, wat al vir baie jare vir hulle betekenisvol is. Heeltemal onkant gevang deur hulle eie emosie en die skoonheid of uitbeelding daarvan wat so raak vat aan hulle hart.


Ek was die bevoorregte toeskouer. Ek kon sien hoe mense beweeg word deur dit wat hulle lees of inneem - en hoe dit hulle herinner en beweeg en verander.



Wat ‘n voorreg. My beker loop oor. As ek nou terug dink, voel ek hoe die dankbaarheid elke nou en dan opborrel en by my oë uitloop as trane.

Want, soos die Message vertaling sê “ In kindness he takes us firmly by the hand and leads us into a radical life-change.”


Kindness.


Sy Goedheid oorweldig my. My verwagtinge van die uitstalling, is totaal oortref. En my asem is weggeslaan deur die terugvoer en verkope van klein stukkies van myself wat ek huiwerig daar buite gesit het… Ek weet dat dit wat ek geskep het, gevloei het uit ‘n plek van intimiteit met die Here. Wat my verbaas, is die feit dat ander mense soveel aanklank vind daarby. Sy woorde en beelde wat vir my so baie beteken het, seën toe ook die mense wat dit weer lees of sien.


Sy goedheid vir my raak ander mense aan. En ek weet nou dat ek nie kan wegkruip nie. Ek mag nie my lampie onder ‘n emmer sit of wegsteek nie. Dit wat Hy in my hande sit, moet ek vir Hom teruggee, want Hy kan dit vermeerder en kos gee vir honger mense wat soekend is. Mense soos ek.


Ek deel met jou een van my gedigte wat ek ‘n rukkie gelede geskryf het. Dit het my net weer herinner aan die feit dat dit wat vir my nietig en klein lyk, soveel meer kan wees in Sy hande. Ek moet net bereid wees om dit vir Hom terug te gee.


Visserskind


Ek wonder hoe het jy gevoel

Daardie dag toe Hy staan

In die aandlug se koel

En jy

‘n Klein seuntjie

met ‘n hemelse doel

Toe Sy oë vir jou glimlag

asof Hy weet

En jy dalk eers jou geskenkie

se waarde wou meet

Toe die Man wat diep in jou siel inkyk

Jou eenvoudige kinder-kosblik gebruik

Om vir al die baie (duisende) mense

Siekes, gesondes, dromers, wensers…

Hulle honger na lewe en iets wat kan voed

Kom aanspreek en heelmaak en weer moed

Uitdeel vir ‘n nuwe werklikheid

Een van oorvloed en liefde en dankbaarheid

Toe Hy sê: “ Bring wat jy het. Dit is Genoeg.

Ek kán jou gebruik.

Ek plant.

Jy oes.”


Amen.



103 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page