top of page
Search

Stukkies

Writer's picture: Welmarie Janse van VuurenWelmarie Janse van Vuuren

Ecclesiastes 3:11

He has made everything beautiful in its time. He has also set eternity in the human heart; yet no one can fathom what God has done from beginning to end.


Saterdag oggend reën dit katte en honde buite. Die tuinman lui die hek se klokkie effens verlep en ek en hy moet iets vir hom uitdink om te doen. Ek onthou toe gelukkig dat ek kunsvlyt materiale nodig het vir ‘n vroue-kuier by ons kerk volgende week, en ons twee besluit om deur die al die bokse en houers in die tuin-huisie te grawe vir moontlikhede.


En soos dit maar altyd werk, is die boks met die mosaïek glas waarvoor ek eintlik soek, heel onder, agter in die hoekie gebêre. Ons dolwe alles om, om dit uit te haal, hy dra die swaar boks tot by die eetkamer tafel en ek begin om die mengelmoes van glas uit te soek en reg te pak.


Die sorteer proses neem my baie vêr terug. Mosaïek spieëls was my heel eerste kreatiewe probeerslag om ‘n ekstra geldjie te verdien. 'n Formule melk houertjie, 'n soldaat speelding en 'n teelepel in die boks, verklap die chaos van dié era in my lewe: Bitter jonk, pasgetroud, nuwe Mamma...honger vir kreatief wees en 'n bietjie alleen tyd.


Ek onthou hoe ek met my oudste - wat toe nog maar ‘n jaar oud was, Kasselsvlei toe gery het om glas te koop. Nie die mooiste buurt nie, maar soos ‘n juweel tussen al die industriële geboue was daar die glas winkel.


As jy nie geweet het waarvoor om te soek nie, sou jy dit verseker mis gekyk het tussen die paneelkloppers en ander besighede om die stoor. Die vensters was swart en dof van die industrieë daar rondom. (Ek wonder of dié plek nog bestaan, twintig jaar later?) ‘n Klein onbenullige bordjie het die naam, langs ‘n ou staaldeur aangekondig...


Maar binne! Binne was hout staanders met velle en velle van die allermooiste glas! Groot velle – seker 2 meter hoog, wat hulle vir jou kon sny. Of standaard groottes van 30 x 30 cm waardeur jy kon blaai. Dan was daar ook klaar gesnyde blokkies wat in kleurvolle stapels op die vloer gelê het. Glas wat gelyk het soos vlamme wat brand, ander weer sagte wierook draaie wat in pienk en wit opgestyg het teen ‘n deurskynende agtergrond. Blou glas met ‘n pêrel glans en sjokolade bruin glas met fyn strepies in...Groen in elke skakering wat jy aan kon dink!


Ek was in my element! Al die moontlikhede, kleure en teksture het my soos ‘n kind in ‘n speelgoedwinkel laat voel! Ek onthou dit nog soos gister! 'n Oase in my Mamma-eiland lewe.


Terwyl ek deur die boks voor my grawe, herinner die stukkies glas my aan al die spieëls wat ek in daardie tyd gemaak het. Die pers een met die rosies op vir Mia se kamer. Die een met vuurpyle vir Janke om by sy kamer se tema te pas. Ronde spieëls met strale soos die son, wat ek by ‘n kunsgalery verkoop het. Ek onthou hoe ek gesoek het na iemand wat ronde wiele uit hout kon sny. (Wat 'n storie!) Die ure wat dit geneem het om die glas te sny, te plak en dan die lekkerste deel – om die teël sement aan te maak, op te smeer en uiteindelik die blink glas daaronder as’t ware te bevry onder die wit lagie stof en blink te vryf.


Soos ek elke stukkie glas optel en volgens sy kleur sorteer onthou ek ook hoe die glas nooit presies wou sny soos ek dit wou hê nie. Glas breek waar dit wil. Veral as dit verskillende diktes het. Dit was ‘n kuns om daardie presiese vorm wat jy nodig het, te soek en te plak. Baie keer was afval stukkies van vorige kere, eerder die wenner as die een wat ek gesny het vir ‘n spesifieke plekkie in die ontwerp.


Terwyl ek só uitsoek, sukkel ek om enige van die stukkies weg te gooi, want ek weet – dit is dalk net mooi daardie een wat ek later weer gaan soek of nodig gaan kry. So, asof ek weer eendag mosaïek gaan doen...Wie weet?


Wat ek wel weet is dat, deur al die jare heen en na al die water wat intussen in die see geloop het, Hy my keer op keer kom verseker het dat ek, net soos hierdie gebreekte glas met sy skerp randjies ook ‘n plekkie het. Ek voel dalk partykeer stukkend en skeef gesny. Dat ek nie êrens hoort nie, of te klein en nietig is, maar wie weet wat Hy nog alles met my wil doen?


Ek sal, soos hierdie stukkies glas, bly opdaag en toelaat dat Hy my dalk nog ‘n bietjie sny, sodat ek op die ou-end perfek pas in al die kunswerke waarmee Hy besig is om hierdie wêreld te herskep. Heel te maak en te vernuwe. Nou, vandag of later? Dit maak nie saak nie. Ek weet dat ek in Sy hand hoort.


En wanneer Hy my dan gebruik, mag Sy lig deur my skyn en die strale wat my klein deeltjie deurlaat, hoop en verwondering bring vir dié Skepper. Van glas en lig, kleur en strale, tye, eras en seisoene - en ook van jou.


Amen.




167 views1 comment

Recent Posts

See All

Speel-Speel

1 Comment


Nic Grobler
Nic Grobler
Mar 22, 2023

Dankie dat jy my herinner aan die Een wat ons stukkies aanmekaar gesit het sodat ons diensbaar kan wees waar Hy ons wil gebruik. Mag Sy lig helder deur ons lewe weerkaats word

Like

Subscribe Form

Thanks for submitting!

0729977023

©2021 by Beloved ♥ Geliefd. Proudly created with Wix.com

bottom of page