top of page
Search

Storm skade

Psalm 107 (Amplified)

28 Then they cried out to the Lord in their trouble,

And He brought them out of their distresses.

29 He hushed the storm to a gentle whisper,

So that the waves of the sea were still.

30 Then they were glad because of the calm,

And He guided them to their desired haven (harbor).

31 Let them give thanks to the Lord for His lovingkindness,

And for His wonderful acts to the children of men!

 

Buite ons huis, waai daar weer ‘n woeste rukwind. Vreemd vir hierdie tyd van die jaar? Herfs is gewoonlik my gunsteling seisoen in Stellenbosch: Lou warm dae met die mooiste sonsondergange. Die wingerd wat verkleur in al die skakerings van rooi en geel en oranje. Windstil. ‘n Rustigheid wat daal oor die landskap voor die winter kom...


Maar hierdie jaar is dit heeltemal anders. Ek luister hoe die wind treurig om die hoeke van ons huis sing en rukkerig die plate van ons dak laat kap waar hy homself inforseer.  

Die storm van drie weke gelede - nog vars in my geheue.


In die 25 jaar wat ek al hier bly, het ek nog nooit so ‘n verwoesting, beleef nie. Ons dorp en die omliggende gebiede is deur iets wat soos ‘n oorlog gevoel het.


Ek onthou hoe ek ná die storm van die naweek Somerset-Wes toe gery het en elke nou en dan na my asem moes snak. Dit het letterlik soos ‘n slagveld gelyk. Groot bome wat al vir honderde jare die wind en weer oorleef het, is heeltemal ontwortel. Mure is omgewaai, dakplate en son panele is orals gestrooi. Takke is die lug in geslinger en selfs ‘n groot staal plaasdam is opgefrommel  asof dit niks was nie. Paaie en ingange is versper. Skole is toegemaak. Die skade was (en is) groot.


Ons is nog steeds besig om reg te maak, op te bou en vas te stel wat alles stukkend is. Terwyl ek gister my inkopies doen, loop ek die man wat ons tuindienste bestuur, raak. Hulle bly in Jamestown en toe ek hom uitvra oor die storm, vertel hy my met groot oë hoe hy, en al sy bure, moes inspring om die vuur wat in die middel van dit alles uitgebreek het, onder beheer te bring. Regdeur die nag en die volgende dag het hulle teen die vlamme baklei wat hul huise bedreig het. Sy buurman se dakplate het weggesmelt van die hitte, maar gelukkig nooit vlam gevat nie. Hulle is darem almal OK en hul huise ook. Die mense van Blaauwklippen en Kayamandi, was egter nie so gelukkig nie. Hier is huise tot op die grond toe afgebrand.


Met die wind wat nou weer waai, herinner dit my aan hoe ongelooflik klein en uitgelewer ek gevoel het. So nietig in hierdie “oorlog” waaroor ek geen beheer gehad het nie.


Ek onthou ook hoe kontrasterend die stilte na die storm was. Toe die stof letterlik gaan lê het, was dit amper onmoontlik om te dink dat dit so ‘n paar uur gelede so woes was buite dat ons nie eens die deur kon oopmaak nie. En die vreemde gevoel om deur die tuin te stap en te sien hoe anders alles lyk.


Ek dink dit is baie keer ook hoe ek voel oor storms in my lewe: Dit voel heeltemal buite beheer en ek voel uitgelewer, al weet ek dat dit (letterlik) sal oorwaai. Dit bly moeilik, ontwrigtend, daar is skade wat herstel moet word en vandag dink ek – dit is die belangrikste les wat ek uit die storms van die lewe saam met my wil neem.


Die feit dat die wind bome  in ons erf omgewaai en dakplate afgewaai het, is erg. Dit moet reggemaak word en dit is redelik ooglopend, maar daar is iets belangriker as net dit: Die skade wat ek dalk nié raaksien nie. Soos die tak wat net halfpad afgebreek het en verdoemend oor ons wasgoedlyn gehang het, asof hy enige tyd kon losskeur... en die plate van ons dak wat dalk nié afgewaai het nie, maar net los gewaai is? Ek sou waarskynlik nie eens weet watter skade hier was , tot die volgende storm getref het en dalk met minder moeite hulle afgewaai het nie...


Ek dink ek kan dalk ook met ‘storm skade’ in my lewe rondloop wat ek nie eens besef nie,  totdat daar weer ‘n woeste wind opsteek en daardie skroewe wat voorheen net los gewaai is, heeltemal uitruk.


Die oplossing? Stel ondersoek in. Ek sal ‘n deeglike inspeksie moet doen van my huis en dit wat los en stukkend  is en dit op ‘n manier moet vas en heel maak, sodat dit die volgende storm kan deurstaan. Soos ‘n ervare seeman wat al die knope van sy seile en toue deeglik nagaan voordat hy die onvoorspelbare see aandurf.


En net soos die versekering maatskappy ‘n spesialis aanstel om die skade reg te maak, het ek ook partykeer ‘n spesialis nodig om my te help met die inspeksie en herstel van die skade wat storms kan aanrig. Al is dit dalk nou windstil, kan daar ‘n paar skroewe los wees...


Dankie tog vir mense wat hierin spesialiseer, en die Heilige Gees wat my kan lei en help en heelmaak wanneer ek gehawend aan die ander kant van ‘n storm staan. En dankie tog vir die bo-natuurlike en genesende krag wat tot my beskikking is deur die bloed van Jesus Christus.


Net soos die dissipels in die middel van 'n verwoestende storm en saam met Dawid kan ek dan sê: "Then they cried out to the Lord in their trouble, And He brought them out of their distresses. He hushed the storm to a gentle whisper, So that the waves of the sea were still." Psalm 107


Amen.



86 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page