Matthew 6:6 (The Message)
6 “Here’s what I want you to do: Find a quiet, secluded place so you won’t be tempted to role-play before God. Just be there as simply and honestly as you can manage. The focus will shift from you to God, and you will begin to sense His Grace.
Daar was ‘n tyd in my lewe wat daar maar min oomblikke van stilte was. Veral toe die kinders nog baie klein was. ‘n Mens raak half doof vir die konstante geraas en remoer om jou. Jy sny so bietjie uit. Ter wille van oorlewing…
Ek onthou hoe ek my eerste interieur ontwerp projekkie in daardie ‘raserige’ tyd gekry het. Die “Baas” van die Maatskappy (waar ek nou en dan uitgehelp het), wou sy Strandhuis in die Weskus meubileer…maar nie regtig geld uitgee nie. Dit was die “brief”. Ek was buite myself van opgewondendheid! Dit was ‘n lekker uitdaging. Mooi maak met min geld en soek vir winskopies!
Ek onthou hoe ek in daardie tyd, tussen die beplanning en rondsoek na meubels ens. een oggend oppad was Somerset Wes toe. My kop was Bésig. Ek het aan 101 goed gelyk gedink en êrens moes iets stiller raak. Ek het instinktiewelik my hand uitgesteek om die radio af te sit; Net om te skrik vir die harde geluid van die omroeper se stem aan die ander kant. Die radio was toe al die tyd af! My kop nie. Ek moes stop, maar ek kon nie. Wie gaan doen wat ek alles moet doen vandag? Ek onthou goed hoe ek gevoel het – altyd gejaagd, altyd moeg altyd besig en oorweldig…
Op ‘n ander oggend – in dieselfde tyd – het ‘n vriendin van my, saam met my na ‘n uitstalling toe gery. Ek het aangebied om haar op te laai en so entjie weg van haar huis af, nadat ek oor die tweede stopstraat gery het, het sy net skielik gesê: ”Miskien moet jy alles wat jy doen, ‘n bietjie stadiger doen…”
En nou sien ek die patroon: Ek voel goed wanneer ek ‘n klomp dinge gelyk te doen. Wanneer iemand vra hoe dit gaan en ek kan sê: ”Besig”, is dit amper ‘n prestasie… maar ten koste van wat? Ek brand uit. Ek weet ek doen. Dit is net ‘n kwessie van tyd. Verkoue op die laaste dag van die deadline. Of ‘n emosionele uitbarsting op die vreemdste tyd. Ek flous myself dat ek kan aanhou en aanhou, maar dit hou net ‘n rukkie. My lyf weet van beter.
Ek het stiltes nodig.
Ja stiltes soos in die Karoo waar jou voetstappe se knars op die klippe die hardste geluid is wat jy hoor en ook ander tipe stiltes.
Stiltes van niksdoen en nie skuldig voel daaroor nie. Stiltes waarin ek kan prosesseer. My oë kan laat rus op die skaduwees van die blare in my tuin in plaas van blou- lig- skerms en my sintuie kan herlaai.
Ek doen dit te min.
Ek weet ek hoor Sy stem die heel beste in die Stiltes. Dit is daar waar my genesing lê. Nie net genesing van besig en oorlaai wees nie, maar ook van ongesonde grense. Om nie my identiteit in dit wat ek kan doen te vind nie, maar om net in Sy Teenwoordigheid te WEES.
Dis so maklik om my tyd te vul met dit wat leeg is en ure te verdwaal in 'n doolhof van media en klaarblyklik "besig" wees. Mag ek en jy eerder doelbewuste leegtes volmaak met die wonder van Stilwees.
Kom ons wees net stil...
en weet…
Comments