Philippians 1:6 I pray with great faith for you, because I’m fully convinced that the One who began this gracious work in you will faithfully continue the process of maturing you until the unveiling of our Lord Jesus Christ!
Ek sien myself as ‘n positiewe mens. “Goue rantjie” en Vol-Glasie-tipe” persoon. Dit vat ‘n rukkie vir my om keelvol te raak, maar op die oomblik is ek op die rantjie van die donker afgrond met die volgehoue Loadshedding.
Dit het alles nog tot op hede redelik goed gegaan. Ons het al ‘n rukkie gelede planne gemaak om darem die belangrikste toestelle aan die gang te hou en het onlangs daardie herlaaibare gloeilampe ingesit waar ons kon. Maar, soos met die laaste paar maande van masker dra in Lockdown is ek nou heeltemal op!
Die ding is, my warm kombers is nie opgekoppel aan hierdie nood sisteem nie en vir my koulike lyf is dit ‘n absolute straf. Ek weet dit is ‘n luukse probleem om te hê, maar ek sukkel om enigsins warm te raak wanneer die koue eers in die murg van my bene gaan sit, soos dit die laaste paar dae het. Dan het ek eksterne hulp nodig vir hierdie gebreekte 40+ termostaat wat lyk my deesdae ook nie wil afkoel in die Somer nie...
Komberse, kouse en lepellê help nie eens nie. Ek lê en wag tot die krag om middernag aangaan en ek stadig begin ontdooi soos die kombers onder my warm raak.
So, terwyl ek lê en bibber in die donker en wonder of die hel nie dalk eerder eintlik ‘n yskoue plek is nie (?!) dink ek ook aan die vrieskas wat ek vroeër die week ontdooi het en die klipharde ys wat ‘n hele twee dae geneem het om te smelt.
Ek het die waaier (wanneer die krag aan was) voor die yskas gesit om die proses aan te help, maar die hardnekkige stukke ys het hulle nie aan my pogings gesteur nie.
Die winter is seker nie die beste tyd om ‘n vrieskas te ontdooi nie, maar dit het darem gehelp dat die gevriesde kos in die koelhouers nie ontdooi nie. Wanneer ek probeer het om – wat vir my gelyk het na losserige stukke af te haal, was dit ‘n onbegonne saak. Ek moes maar net wag totdat die ys smelt en dan die houers water uitgooi soos dit vol raak onder die rakke. My ongeduld, of kap met ‘n houtlepel het nie regtig ‘n verskil gemaak nie. Ek moes dit net geduldig tyd gee.
Ek weet nie of geduld of tyd regtig ‘n verskil gaan maak aan ons Loadshedding situasie nie, maar vanoggend kyk ek na ‘n plasing van Bob Goff, waar hy verduidelik dat ons moet onthou dat God in beheer is. Hy is in beheer van ons omstandighede, die vorming van ons kinders, ons huweliksmaats, ons werksomgewing, die persoon waarmee een van ons geliefdes eendag gaan trou ens. Hy sê dat, alhoewel hy elke uur van die dag en met sy hele wese hierdie prosesse waarmee God besig is wil aanjaag of aanhelp is dit nie nodig nie. God is in beheer en ons wil dalk gras plant waar hy besig is om saad te strooi. Ons moet Hom vertrou en eerder vra waar Hy ons wil gebruik in die proses en hoe ons ‘n invloed daarop kan hê? Invloed is iets heeltemal anders as beheer.
Ek besef: Tyd, geduld, stadige ontdooi, en natuurlike groei is nodig vir dit waarmee die Here besig is. Soos ‘n boom wat moet groot word op sy eie tyd. Ons kan dit bemesting gee, nat maak, sorg dat dit genoeg sonlig kry, maar dit is net die Here wat dít wat ons plant, kan laat groei. Hier moet ons Hom volkome vertrou dat Hy die werk wat Hy begin het sal voltooi. Al kan ons dit nie nou sien nie. Al lê ons in die pik donker koue en wag vir die hitte en lig om deur te breek... Hy weet wat Hy doen en al was Hy oënskynlik vier dae laat, soos in Lasarus se geval, is Hy altyd betyds.
Hy is in beheer en dit wat Hy begin het, maak Hy klaar.
Die smeltpunt van verskillende mense is dalk almal anders, maar die vurige hitte van Sy liefde kan enige hart laat smelt.
Op Sy tyd.
Amen.
Comentários