top of page
Search

Sewe (en nog 483 keer…)

Seek justice, love mercy, walk humbly with your God. (Micah 6:8)


Gister lees ek toevallig ‘n aanhaling van Corrie ten Boom raak, wat my gedagtes op loop sit. Sy sê: “ To  forgive is to set a prisoner free, and to discover that the prisoner was you”


Van kleins af moet ons almal leer om onregverdigheid en seerkry te hanteer en om mense te vergewe. Ek en jy en die res van ons, is almal gebroke mense wat lewe in ‘n gebroke wêreld. Die aanhaling van Corrie ten Boom het my ook laat dink aan ‘n onlangse gesprek waarvan ek deel was en ‘n  persoon ‘n baie seer wond gedeel het. Iets wat in die verlede, op ‘n baie jong ouderdom gebeur het. Ek kon sommer sien hoe die situasie herleef word in daardie persoon se gedagtes en omdat ons ‘n ingeboude verlange na regverdigheid het, het die “terug dink” ‘n sterk reaksie van vergelding ontlok...


Dit is te verstane, en in daardie persoon se gedagtes, is dit ‘n manier om afsluiting te kry oor die onreg wat gepleeg is, maar daardie dag lê baie vêr terug in die verlede. En om fisies terug te gaan in tyd, is nog nie moontlik nie... en sou dit regtig help om wraak te neem?


Die interessante ding is dat, alhoewel hierdie toneel homself lank terug afgespeel het, dit tot vandag toe op die verteller ‘n impak het. Amper asof ons nou weer in daardie situasie staan, die slagoffer weer ‘n klein kindjie is wat die trauma oor en oor herleef...en ek wonder oor die oortreder? Daardie persoon is heel waarskynlik onbewus van hierdie seer tronk waarin die slagoffer is.


Die ou gesegde wat lui: “om onvergifnis in jou hart rond te dra, is soos om self gif te drink en te hoop dat die ander persoon dood gaan..”  is nie verniet ‘n cliché nie.


Maar hoe maak ek met hierdie dinge, of gebeure waarin ek dalk ‘n aandeel gehad het, of wat miskien totaal en al buite my beheer was? Hoe ontsnap ek uit hierdie tronk van onvergifnis en my begeerte na geregtigheid? Of selfs net die verlange dat dinge anders was?


Die dissipels het ook hieroor gewonder. Daar moes tog êrens ‘n afsnypunt wees vir tweede kanse? Geregtigheid moes tog seëvier op een of ander stadium? Daarom kom Petrus toe eendag na Jesus toe en vra hoeveel keer hy iemand moet vergewe as hierdie persoon verkeerd teenoor hom opgetree het? Selfs sewe keer? (Wat eintlik reeds onbillik klink) En Jesus se antwoord?  “Nee, nie sewe keer nie, maar sewentig maal sewe keer!” (Matt 18:22)

Die interessante ding is dat die nommer sewe in Hebreeus, “volheid” of “volledigheid” beteken en perfeksie verteenwoordig. Petrus het dalk gedink dat hy met die perfekte hoeveelheid keer van vergifnis vorendag gekom het. Genoeg om iemand volledig ‘n tweede kans te gee, totdat die kanse op is,  maar Jesus is hom een voor.


Sewentig maal sewe  is die getal 490 en soos alles in die Bybel is dit nie toevallig nie, want die numeriese waarde van die plek waar Jesus gebore is, “Bet Lechem” in Hebreeus, of Betlehem is ook 490. En wat beteken hierdie naam? Huis van Brood. Letterlik. Jesus verwys eintlik hier na die feit dat HY die brood van die lewe is. Sy liggaam, (die brood)  is gebreek vir ons. Die antwoord op vergifnis, is dus Jesus self. Sy liggaam wat vir ons sonde en ook vir die sonde van al die oortreders in ons lewens gebreek is, sodat ons die Lewe kan hê!


 Ongelooflik.


Maar hoe lyk dit prakties? In my alledaagse lewe waar gedagtes ongenooid opkom en ek weer aan daardie seerkry dink? 


Meer Brood. Meer van Hom wat my wil voed met Sy vergifnis vir , sodat ek ook ander kan vergewe. Meer as net sewe keer. Die volmaakte  490- Brood-van- die- Lewe, kere.

Om geregtigheid te soek, is nie verkeerd nie. Dit is immers een van God se karakter eienskappe. In Miga 6:8 moedig Hy ons aan: “Seek justice, love mercy, walk humbly with your God” , maar geregtigheid is ‘n Persoon. Die oordeel behoort aan Hom en die vergelding ook.


Ek kan dit, wat ek nie kan vergewe of vergeet nie, oorgee aan Hom en toelaat dat Hy, die stryd namens my stry. Hy is die Regverdige, Hy is Heilig en Hy is die Lig. Geen donker kan voor Hom bly staan nie. Hy is die een wat ‘n huis-vol- brood is. Hy bring genesing en maak vry - almal wat seer het en seer maak...


..en ook vir my.


Amen.



*(In  haar boek : Forgiving What You Can't Forget: Discover How to Move On, Make Peace with Painful Memories, and Create a Life That’s Beautiful Again, vertel Lisa Terkeurst op ‘n baie persoonlike, praktiese manier hoe om regtig te vergewe, en nie langer toe te laat dat situasies of gebeure jou gevange hou of trigger nie.♥) https://www.youtube.com/watch?v=t8hRd6X886I




140 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page