top of page
Search

Ruil my Jammerlappie in..

Psalm 30:12

12Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans.U het my rouklere uitgetrek

en vir my feesklere aangetrek. 13Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie.

Here my God, vir altyd sal ek U loof!


Ek weet nie of jy ook al na ‘n wit bladsy voor jou moes staar en wag vir die woorde om te kom nie, maar dit is waar ek nou is. Na ‘n mal besige week en laat aande (vroeë oggende) werk, is ek moeg.


My kreatiewe brein is uitoorlê deur berekeninge en linkerbrein-werk wat my energie tap en baie konsentrasie verg. Nie my natuurlike aanleg of vloei nie. So, hier sit ek – reg om my gedagtes op papier vas te pen, maar niks wil werk nie.


En dis OK.


Ek het in die laaste jaar besef dat my identiteit nie lê in dit wat ek doen of bereik nie. Ook nie in die kwantiteit van my werk nie, maar in die kwaliteit daarvan. Ek wil nie die opregtheid van my hart prysgee en voorgee dat ek iets het om te deel, wanneer ek eintlik voel dat ek op die oomblik niks het om te sê nie.


Ek is nogsteeds Geliefd. Deur die Een wat nie Sy liefde afmeet volgens my prestasie of performance nie. Sy liefde vir my verander nooit nie en skryf maak my nogsteeds gelukkig, al is dit soms ‘n proses en ‘n worsteling.


Ek gaan nie ophou om dit te doen waarvoor ek lief is, bloot omdat ek nie nou die woorde het vir dit wat in my hart aan die gang is nie. Nee, ek sal bly opdaag en bly skryf. Al voel dit ongemaklik of moeilik.


Daar sal weer dae wees van volop woorde. Dae wat die paragrawe net vloei asof ek in die rivier van Lewende Water gespring het en nie eens hoef te dink nie, net saamdryf, maar vir nou deel ek met jou my karige druppels, want dit is al wat ek het.


En ek weet – vir nou is dit genoeg.


As jy ook na hierdie jaar voel soos ‘n uitgewaste vadoek – mag jy ook jou jammerlappie inruil vir ‘n stuk nuwe materiaal.


Mag ek en jy toelaat dat Hy in die tyd wat kom, ons rouklere uittrek en vir ons feesklere aantrek en mag ons nooit stil bly nie, maar Hom vir altyd daaroor loof!


Sela.



81 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page