top of page
Search

Proe en Sien

Psalms 34:8 AMP

O taste and see that the LORD [our God] is good; How blessed [fortunate, prosperous, and favored by God] is the man who takes refuge in Him.


Ek is onlangs só aangenaam verras! En deur iets wat ek nie gewoonlik oor opgewonde raak nie...


My Ma het haar 70ste verjaarsdag in Stellenbosch kom vier en dit was ‘n ongelooflike spesiale tyd saam met haar en die familie. Die verassing het die Sondag middag gebeur terwyl ons by Vergelegen Landgoed se restaurant in Somerset Wes geëet het. My skoonsus het my vroeër die week vertel van die ongelooflike nageregte wat sy en ‘n paar van haar vriendinne daar gaan eet het. Ek het nie regtig ‘n soet tand nie, so ek kon nie eintlik deel in haar opwinding nie, maar...


Na ‘n heerlike ete en kuier, besluit ons toe dat die geleentheid net té spesiaal is, om nie ook die nagereg te probeer nie. Ek en my man bestel die Lemon meringue tert en ons kinders die kaaskoek. Wat ‘n belewenis! Nog nooit in my lewe het ek so ‘n veerligte, sy-sagte tert geëet nie. Dit het letterlik gesmelt in my mond. Elke happie soos ‘n droom wolkie, met die perfekte kombinasie van soet-en-suur. Die koekie kors – onverbeterlik! ‘n Fyn tekstuur, nie oorweldigend nie. Crispy en heerlik!


Ek sal definitief weer daar ‘n draai gaan maak – al is dit net vir die poeding. Dit was een van die hoogtepunte van die naweek vir my. (En daar was baie)


Ek kan probeer om te verduidelik hoe dit geproe het, maar ek is beperk. Ek het net my woorde en my eie ervaring om die prentjie vir jou in te kleur. Die enigste manier wat jy regtig gaan weet of ek die waarheid praat en of dit vir jou ook so lekker is, is as jy dit self gaan eet.


En dit het my laat dink aan my geloofslewe. Ek dink die week aan iets wat Oom Louis Malherbe gesê het (en ek weet nou nie of hy dit self uitgedink het en of dit dalk geleen is by iemand anders nie) Ek onthou dit so: “As jy in ‘n garage gebore word, beteken dit nie dat jy ‘n kar is nie” ...


Ek was bevoorreg om in die spreekwoordelike garage gebore te word. Geloof was van dag een af deel van my lewe. Dit was die spilpunt waarom ons huishouding gedraai het. Ek is blootgestel aan alles wat kerk ingehou het, maar ons is ook van baie vroeg in ons lewe geleer dat ons geloof nie uit tradisies, gebruike of reëls bestaan nie. Nee, alles behalwe. Dit was en is ‘n lewendige verhouding met die Skepper van die Heelal. Ons Hemelse Vader, Sy Seun en die Heilige Gees. Die lewendige God, waarmee jy kan gesels en wat jy maar kan weet ook vir jou sal antwoord. (Al is dit dalk nie die antwoord wat jy wil hoor nie)


Ek het nooit ‘n negatiewe beeld gehad van wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie. Vir my was my beeld van my Hemelse Vader nog altyd een van liefde en ontferming. ‘n God van Genade. En alhoewel ek nie altyd goeie besluite geneem het nie en baie keer my kop hard gestamp het, het ek geweet HY is die een konstante in my lewe wat nooit verander nie. Al verander ek. Al bevraagteken ek. Al voel ek partykeer vêr van Hom af en partykeer so naby. Hy bly lief vir my en altyd toeganklik.


Ek was al kwaad, depressief, teleurgesteld, ontsteld, gefrustreerd, hartseer, noem dit maar op...maar nog nooit het dit vir my gevoel of Hy my net daar los nie. Selfs in die oomblikke wat ek nie eens meer kon bid nie. Om net te sug of te huil in Sy Teenwoordigheid was genoeg om my weer stadig maar seker Sy vrede te laat ervaar.


En nou weet ek: Ek kan vir jou al hierdie dinge vertel en ek sou boeke kon vol skryf oor my ervarings op my geloof pad, maar dit bly net my woorde. My ervaring en my stukkie Lemon Meringue wat ek aan jou probeer verduidelik. Todat jy dit nie self geproe het nie, bly dit net woorde op papier. Jy kuier in my garage en dit maak nie van jou ‘n kar nie.


Al wat ek heelhartig kan sê, is dat ek nie my lewe kan indink sonder Hom nie. Hy is letterlik my ALLES. Hy ken my. My gedagtes, my diepste begeertes en swakhede. My talente en gawes. En Hy bly lief vir my...


Hoe weet ek dit? Ek het dit geproe. En ek eet elke dag ‘n stukkie van Hom. Party dae verras Hy my ook nog steeds. Met vreugde in my hart wat onverklaarbaar is. Vrede wat alle verstand te bowe gaan. Insig in iets wat ek nooit uit my eie uit sou gehad het nie en ‘n liefde vir mense wat ek nie kan verklaar as net dat dit van Hom af kom nie. Sagter oë vir die foute in ander en in myself. En ‘n vryheid wat niks anders as vergifnis kan gee nie.


Ek hoop jy het ook al van Hom geproe.. En ek weet – as jy het, sal jy saamstem dat niks in hierdie lewe hiermee kan vergelyk nie. Dit is ‘n belewenis. Hy is lewe en die Lig wat die duisternis en selfs die dood nie kan uitwis nie.


So, ek wil jou uitnooi – die Message vertaling sê dit so: ”Open your mouth and taste, open your eyes and see— how good GOD is. Blessed are you who run to him.” Psalms 34:8

Kom proe en sien hoe GOED Hy is.



368 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page