top of page
Search

Opgeknap

2 Corinthians 5:17 (TPT)

Now, if anyone is enfolded into Christ, he has become an entirely new creation. All that is related to the old order has vanished. Behold, everything is fresh and new.


Ek lees iewers in die week dat iemand vra: ”Wat is daardie gebreekte ding in jou huis, waarmee almal al geleer het om mee saam te leef?” Dit laat my glimlag. En dan gee die persoon die geleentheid vir mense om kommentaar te lewer. Amper soos ‘n bieg sessie...want kom ons wees eerlik. Elke huis het ten minste één ding.


In ons huis is daar definitief ‘n paar dinge wat ek glad nie eens meer raak sien nie; Ek is al gewoond aan die klein chip merkies om die hoeke van die mure wat fietspedale gemaak het in die kombuis. (Ja, die fietse word in huis parkeer- hier waar ek bly is ‘n fiets nie net ‘n ryding nie, maar ‘n leefstyl en ‘n vriend.) Die agterdeur wat al moeg is en ‘n bietjie ekstra liefde nodig het as jy hom oop maak, is nog ‘n ding. Dit is al so deel van ons lewe, dat ek dit glad nie meer raak sien nie! Totdat iemand kom kuier en hulle nie die agterdeur se persoonlikheid ken nie. - dan onthou ek dat dit seker nie eintlik is, hoe ‘n agterdeur veronderstel is om te werk nie?


Vanoggend is ek besig om aan ‘n kommissie-stuk te werk en dit gaan gewoonlik gepaard met 'n bietjie ekstra spanning. Die verwagtinge van die kliënt, my vermoëns, al die kritiese stemme in my gedagtes, ens. Dit help darem as ek in my “teken-bubble” ingaan en my regterbrein aanskakel, maar vandag is ek ‘n bietjie óp geluister na my eie musiek en besluit om sommer die Audio Bybel aan te sit. Twee vlieë met een klap! Ek begin by Hebreërs en (soos teken-bubbles werk), het ek - voor ek my kon kry, sommer regdeur Jakobus en Petrus ook geluister.


Ek het dit lanklaas gedoen. So ‘n hele groot stuk Bybel aaneen gelees en ek besef, daar is definitief dinge in hierdie drie boeke waarmee ek geleer het om mee saam te leef . Dinge wat dalk net nie so lekker ge-olie is nie. Party goed wat regtig heeltemal stukkend is – en aandag nodig het. En goed wat ek nie raaksien, todat ek hoor hoe dit veronderstel is om te wees nie.


Die Woord van die Here is ‘n spieël. En baie keer gaan ek nie raaksien wat fout is, totdat ek in daardie spieël kyk nie. Ek weet ek het al ook in die strik getrap om te dink dat hierdie-en- hierdie versie nou perfek sou wees vir só-en-só. En dit is waar, partykeer het ek iemand anders nodig om vir my perspektief te gee, maar ek wonder wat sal gebeur as ek alles wat ek lees, eers NET op myself van toepassing maak? Sonder om te wil uitdeel, eers net ‘n bietjie te vat?


Dit kan nogal ‘n uitdaging wees. Soos wanneer ek by vriende kuier, waar dit oënskynlik lyk asof daar niks gebreek is waarmee hulle saamleef nie – en ek dan by die huis kom. Dan sien ek sommer elke dingetjie raak en dit is krapperig hier in my.


Ek dink sommer ook aan ‘n vergelyking wat my Sussie getref het, en alhoewel sy dit in ‘n ander konteks gebruik het, dink ek dit kan hier ook van toepassing wees. Partykeer is my foute soos om saam met ‘n kwaai hond te leef. Ek is lief vir my kwaai hond en ek weet hoe om hom te hanteer, hy kom dalk al ‘n lang pad saam met my, maar hoe lief ek ook al vir hom is, hy bly kwaai en hy kan byt...


So, wat doen ek nou dat ek nie meer wil saamleef met my kwaai hond of my gebreekte agterdeur, nie? Wens ek net hy wil regkom of speel ek self handy-man en probeer ek onkundig om hom reg aan te skroef? Nee – die Skrynwerker van my hart, vra soos ‘n gentleman of Hy eerder Sy helper, die Heilige Gees kan stuur, om sommer ‘n splinternuwe deur vir my in te sit en (as ek Hom toelaat), sommer al die krake en ander dinge ook reg te maak.


Wat moet ek doen? Ek moet vir Hom die sleutels van AL die kamers in my hart gee. Ook daardie kamer met die deurmekaar laai en die gebreekte venster...


Hy kom met die bloudruk van my hartshuis en woon binne-in my. Soos ek vir Hom die sleutels gee en Sy Woord leer ken, kom maak Hy alles nuut. Self. Ek moet net met Hom uit-hang.


Só verander Hy alles.


Amen.



139 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page