John 5:24-26 (Amplified Bible)
24 “I assure you and most solemnly say to you, the person who hears My word [the one who heeds My message], and believes and trusts in Him who sent Me, has (possesses now) eternal life [that is, eternal life actually begins—the believer is transformed], and does not come into judgment and condemnation, but has passed [over] from death into life.
‘n Paar weke gelede is ons familie aan my Pa se kant deur ‘n baie hartseer tyd. In ‘n kwessie van twee weke het ons drie lede van die familie aan die dood afgestaan. My Pa is toe die moeilike taak opgelê om die begrafnis (vir al drie mense) oor ‘n Zoom Meeting te hou. Ek het nie regtig woorde gehad om die familie te troos nie. Wat sê ‘n mens nou eintlik? Niks kan die realiteit van ‘n leemte wat gelaat word, verander nie. My Pa was self ook hartseer: Hy het ‘n Sussie en ‘n Broer verloor en is nou die enigste oorlewende lid van sy gesin.
Ten midde van dit alles, het hy dit so mooi hanteer en ons herinner daaraan dat die Dood nie die einde is nie, maar ‘n oorgang na die Heerlikheid wat op ons wag. Ons geliefdes het oorgestap na die Ewige Lewe. Hulle aardse swaarkry is verby. Dit was nie ‘n permanente afskeid nie, maar ‘n oorgang.
Daar ís troos hierin.
Ek word deesdae baie met die realiteit van die dood gekonfronteer. Op ‘n mindere mate ook in dele of seisoene van my lewe, wat verander. Ek moet afskeid neem van hoe dinge was, sodat ek die oorgang kan maak na hoe dinge is, of kan wees.
Aanpassing kos partykeer ook ‘n “afsterwe” en ‘n rou proses.
In die laaste week het dit eintlik eers regtig by my begin insink, dat my seun besig is om klaar te maak met skool. Êrens tussen 2020 en nou, het ek dit gemis. Dit voel vir my of my kop nog êrens in Augustus is. Nou is dit al middel Oktober – November is om die draai en dan is dit vakansie en ‘n nuwe jaar is oppad! Dit sink nou eers in dat dit ‘n era is, wat vir hom (en vir my) oor ‘n klein rukkie - heeltemal verby is. Die tyd het regtig gevlieg! Ek onthou nog sy eerste dag in Graad R so goed!
Nou sit ek met gemengde gevoelens. Ek het al geleer dat ‘n mens nie een gevoel kan ontken sonder om in te boet met ‘n ander nie. So, ek probeer om elke emosie wat na my kant toe aangeswem kom, vas te hou, goed te bekyk en dan weer los te laat soos klein vissies in die see van my gedagtes … en dis nou nie asof ek die tyd het om onder ‘n perske-bloeisel-boom te sit en mediteer nie! Ek probeer net bewus bly van my hart en wat daarin aangaan.
Soos vanmiddag, terwyl ek in die ry by die Spar staan, voel ek sommer ‘n klomp emosies gelyk:
Hartseer – oor die feit dat hierdie tyd van my kind se lewe klaar is en dit nooit weer dieselfde gaan wees nie.
Bly – oor die feit dat hierdie tyd van my kind se lewe klaar is. (Ja altwee emosies is geldig en duik gewoonlik gelyktydig op)
Bekommerd – wat hou die toekoms vir hom in? Wat hou die toekoms vir ons in? Gaan hy genoeg motivering hê om sy beste te gee? Wat as hy te veel stress of te min?
Onseker – hoe gaan die nuwe seisoen ons huishouding beinvloed. Sy Sussie? Ons verhouding? Ons gesin?
Verlig – Dankie tog hy het dit tot hier toe gemaak en die einde is in sig…
Jaloers – op die Mammas om my (met laerskool kinders wat nog en kosbare skool-herinneringe kan maak.)
Gelukkig – hierdie 12 jaar (eintlik 15 as jy Kleuterskool by tel) was goeie jare, met baie meer goeie herinneringe as slegtes.
Dankbaar – vir jarelange vriendskappe met ouers, hartsmense, ongelooflike onderwysers en skole waarop ons só trots is.
Ek hou die “vissies” van my emosies vas en glimlag terwyl ‘n traan stilletjies onder my bril, in my masker afloop. Soos my Pa by die begrafnis gesê het: Afskeid is moeilik. Dit is verseker, maar dit bly altyd ‘n oorgang. ‘n Oorgang na iets nuut, ‘n toekoms, ‘n hoop en ‘n verwagting.
Aan die einde van ‘n skoolloopbaan? Ja - selfs tot in die dood.
Sela.
Comments