Matthew 11:28-30 TPT
28 “Are you weary, carrying a heavy burden? Come to me. I will refresh your life, for I am your oasis. 29 Simply join your life with mine. Learn my ways and you’ll discover that I’m gentle, humble, easy to please. You will find refreshment and rest in me. 30 For all that I require of you will be pleasant and easy to bear.”
Herinneringe aan my kinderjare laat my altyd glimlag. Interessant hoe ons van nature, selektief net die goeie dinge (gewoonlik) onthou. Soos foto’s of grepe uit die verlede onthou ons “oomblikke”, nie noodwendig volle dae nie en daardie leêrs kan getrek word op ongewone tye. ‘n Reuk of liedjie of selfs ‘n smaak, kan jou terug neem in tyd en weer daardie oomblik laat herleef, asof dit gister was.
Van kleins af het ek die gewoonte gehad om myself te laat “onthou” wanneer dit vir my gevoel het asof ‘n situasie buite beheer is. As kind het ek myself getroos en daaraan herinner dat ek heel waarskynlik (maak nie saak hoe erg dinge op die oomblik lyk nie) vannaand weer in my eie bed sal lê en sal kan terugdink aan die situasie waarin ek op daardie oomblik was. Die gedagte aan my veilige bed het my altyd rustig gemaak. Nou besef ek dat almal nie daardie voorreg het om hulself te kalmeer met die vooruitsig van ‘n veilige ruimte nie. In my eie lewe was daar ook al nagte van onsekerheid en tye wanneer “my bed” nie die rustigheid kon bring, wat ek as kind geken het nie.
Ek onthou een spesifieke dag wat dinge net te veel was vir my en ek ‘n entjie gaan ry het met my motor, om my kop skoon te kry. Deur die trane en ontsteltenis, kon ek nie die pad lekker sien nie en het ek besluit om eers te stop langs die pad. Ek het nie eens woorde gehad nie. Net ‘n oorweldigende gevoel van hartseer en frustrasie. Ek het my kop met my oor op die stuurwiel laat rus en my oë toe gemaak om te bid…maar my woorde was op… Skielik was dit asof ek kon voel hoe ek fisies op die borskas van ‘n reuse leeu lê. Asof ek sy hartklop kon hoor onder my oor. Die tekstuur van sy pels wat my troos. Sy asemhaling – reëlmatig, kalm.
Ek weet nie hoe lank ek so gesit het, en of ‘n mens dit bid kan noem nie, maar wat ek wel weet, is dat ek ‘n Vrede ervaar het, soos nog nooit tevore nie. My siel het net bedaar en ek kon huistoe ry met nuwe moed en krag vir die uitdagings wat op my gewag het. ‘n Ervaring wat ek diep in my hart bêre en vir altyd sal onthou.
Dít wat nou vir my rus gee, is meer as net ‘n herinnering. Dit is HY wat die Vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Nou onthou ek nie net die koesterende gevoel van ‘n veilige omgewing nie. Ek onthou hoe Hy my al baie male vasgehou het. Hoe Hy nog altyd daar was, deur dik en dun en nie verander nie. Ek herinner myself dat ek op Hom kan vertrou, dat Hy so tasbaar naby kan wees soos asemhaal.
Ek onthou nie nou meer ‘my bed’ nie, maar die Leeu van Juda waar ek my kop kan gaan neerlê en Vrede vind … todat Sy hartklop myne word.
Sela.
Comments