top of page
Search

Onskuld

JOHANNES 1:14 AFR83

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.


As hierdie die eerste keer is wat jy my blog lees, sal jy nou nie weet nie, maar ek is baie lief vir die dorp waar ek al die afgelope 24 jaar woon. Stellenbosch is maar net besonders en as ‘n oud Valie (Gautenger), dink ek nie ek sal ooit gewoond kan raak aan die natuurlike skoonheid nie. Die berge veral, wat ‘n mens so klein kan laat voel en altyd vir my ‘n bietjie perspektief gee. Letterlik en figuurlik.


Buiten die mooi natuurskoon, is ons ook bevoorreg om die gasheer te wees van talle kunsuitstallings, feeste en konserte. Ook sportbyeenkomste en kongresse. Een van die feeste, wat in Stellenbosch sy oorsprong het, is die Woordfees. En so lief soos ek vir my dorp is, is ek ook lief vir woorde.


Elke jaar neem ek myself voor om hierdie jaar regtig moeite te doen om die fees by te woon, maar elke jaar gebeur die gewone lewe. Ek is nog nie in ‘n seisoen waar ek my “eie tyd” het nie en dan maak ek maar weer voornemens vir die volgende jaar.


Hierdie jaar was daar egter ‘n vertoning wat ek nie KON mis nie: “Braam en die Engel”. Die verhaal (en boek) lê baie na aan my hart. Een van my gunsteling-gunsteling stories, wat ek al deur die jare ‘n hele paar keer gelees het. Dit was oorspronklik ‘n geskenk van my Laerskool af, vir my diens as media prefek in 1993. Ek was (en is) nog altyd ‘n boekwurm.


En. ‘n Week voor die Woordfees het ek juis vir ‘n klomp vriendinne by ‘n boek-uitruiling vertel van die storie. Nodeloos om te sê, ek het onmiddellik my kaartjie geboek toe ek hoor dat daar ‘n uitvoering van hierdie verhaal gaan wees. Die tydsberekening! En boon-op, stap afstand van ons huis af!


Maar soos dit nou maar eenmaal gaan met verbeelding en iemand anders se uitbeelding daarvan was ek teleurgesteld. Die teaterwerk en die hantering van die marionet van die hoofkaraktertjie “Braam” was uitstekend, maar in die vertolking van die verhaal deur “volwasse” drama oë, het die onskuld van die storie vir my verlore gegaan.


Ja, die donker en bose moes telke male in die storie gekonfronteer word, maar dit is juis Braam se onskuld, kinderlike vreugde en geloof dat niks onmoontlik is nie, wat maak dat hy dit regkry. En ja, ek besef dit is baie moeilik om die essensie van ‘n hele boek in ‘n uur of so vas te vang en dit het my lus gemaak om WEER die storie te lees.


So, toe ek vanoggend die boek, vir die soveelste keer, met ‘n glimlag neersit en myself toelaat om die dorpies van Wale wat almal genees is van hul kwale, in my verbeelding te sien gestalte vind, het dit my herinner aan hoeveel krag die onskuld en geloof van ‘n kind het. En hoe ons dit partykeer miskyk of deur soveel van ons eie bagasie probeer raaksien, dat dit nie meer onskuldig is nie...


Maar, ek wil nou nie die storie weggee nie. Gaan lees dit. Ek belowe jy sal nie spyt wees nie.


Ek wil hierdie onskuld en eenvoud weer ontdek. En koester. En myself toelaat om dit te geniet. Die lewe lyk anders deur die lens van ‘n kind. En partykeer het ons dit nodig om net eenvoudig langs iemand in die stof te stap, om dit raak te sien, al het ons vlerke om te vlieg...

(Marietjie de Jongh, (1991), Braam en die Engel, Tafelberg Uitgewers)




85 views0 comments

Recent Posts

See All

Die Weg

Comments


bottom of page