Philippians 4:6-7
6 Don’t be pulled in different directions or worried about a thing. Be saturated in prayer throughout each day, offering your faith-filled requests before God with overflowing gratitude. Tell him every detail of your life, 7 then God’s wonderful peace that transcends human understanding, will guard your heart and mind through Jesus Christ. (The Passion Translation)
Die natuur het partykeer ander planne. Ons kan dinge so fyn uitwerk as wat ons wil, maar daar kan nogsteeds verassings opduik. Soos in ons geval – ‘n baie hoë watertafel.
Die erf waarop ons die huis gebou het is redelik naby aan die rivier. Seker omtrent so ‘n blok weg. Die bure oorkant die pad, vertel my een middag (terwyl ek vir die manne wag om op te pak) dat hulle in die huis grootgeword het waar hulle nou weer bly. Hulle het gereeld by die maatjies kom speel wat op ons erf gebly het en dan het die grootmense hulle altyd gewaarsku om versigtig te speel naby die put. Kan jy glo. In ‘n woonbuurt! Dit was glo ‘n algemene ding, jare gelede om ‘n put te laat sink in jou erf, veral wanneer die watertafel so hoog is.
Die put was toe nie meer in gebruik nie en die beton struktuur, in die pad van ons nuut-beplande swembad. Ons het die put toegeggooi, maar die grondwater wou nogsteeds êrens heen vloei. Nadat ons die swembad se gat gegrawe het, moes ons dit ‘n paar keer leeg pomp en die tydsberekening perfek reg kry, sodat ons die staal kon vleg en die beton kon gooi terwyl die gat leeg en droog is.
Die uitpomp was my verantwoordelikheid. Glo my - nie aangenaam in die winter nie. Ek onthou hoe ek letterlik boots en all, kniediep in die swembad gestaan het en self die pyp van die pomp vasgehou het. ‘n Delikate operasie omdat die pomp nie vol grond kon raak nie en selfdertyd die water moes opsuig… ‘n Pienk, plastiek vullismandjie het as die “sif” gedien om die grond uit te hou en die water deur te laat. Ek kon maar net lag. Dit moes ‘n komieklike prentjie gewees het! Maar die modderwater moes eers uit voor die vars water uiteindelik kon in.
Dit het my laat dink aan die kursus wat ek nou vir die tweede keer aanpak. Die doel daarvan, is om jou kreatiwiteit dieper te ontsluit. Een van die kursus- oefeninge wat ‘n mens elke dag moet doen, is die “Morning Pages”. Dit is drie handgeskrewe bladsye waarin jy alles waaraan jy kán dink, moet neerskryf. Elke oggend. Jy mag dit nie met enige iemand deel nie en jy mag ook nie self terug gaan om te kyk wat jy geskryf het nie (Ten minste nie binne die eerste 8 weke nie).
Die idee hiervan, is om van alles wat onnodige spasie in jou gedagtes opneem, ontslae te raak, sodat jou kreatiwiteit kan terugvloei. Modderwater uit, vars water in. Ek kan getuig daarvan dat dit regtig ‘n kragtige stuk gereedskap is. Al klink dit so eenvoudig. Die sleutel lê in opregte, eerlike konfrontasie met jouself. Wat jy regtig voel en dink, bekommerd oor is of net wonder.
En dit is wat hierdie skrifgedeelte ook van ons vra: Om alles vir die Here te vertel. Die waarheid van dit wat in jou hart aangaan. Sonder doekies omdraai of om mooi woorde te soek daarvoor. Elke detail van jou lewe (en selfs die dinge waarvoor jy nie woorde het nie).
Hy wil vir ons Sy Vrede gee en my en jou hart bewaar. So, kom ons erken dat daar modderwater invloei in ons gedagtes en in ons harte en "pomp dit uit" sodat Sy vars, lewe-gewende water kan invloei en ons vol maak en laat oorloop van dankbaarheid en Vrede.
Amen.
Dit wérk! My een vriend noem dit Morning Sickness... 🤣 Nodig om gesond te word in ons gedagte wêreld...
Hello, Welmarie, dis so waar wat jy hier sê, ek self weet soms nie eers watse woorde om te gebruik wanneer ek bid nie, dis asof mens as ma, nie antwoorde vir jou kinders het as hulle vrae het oor die duisternisse van Covid-19 en al die nuwe uitdagings van geslagte erkening ens........ baie dankie, ek gaan verseker die "morning pages" ding doen. om die modder water uit te tap!! 😘