top of page
Search

‘n Dak Oor Jou Kop

Psalm 91

1He who dwells in the shelter of the Most High will rest in the shadow of the Almighty.

2I will say of the LORD, "He is my refuge and my fortress, my God, in whom I trust." NIV


‘n Huis is nie regtig ‘n huis sonder ‘n dak nie. Dan is dit net ‘n murasie. Maak nie saak hoe eenvoudig jou skuiling teen die elemente is nie – dit moet ten minste ‘n dak hê, al leen jy een…


Ek onthou toe ek saam met my gesin deur Turkye getoer het in 1992, en die toergids die woonstelblokke sonder dakke vir ons uitgewys het. Klaarblyklik het ‘n mens net eiendomsbelasting betaal vir ‘n ‘woning’ met ‘n dak. Ontwikkelaars het dan die hele gebou gebou en die boonste vloer oopgelos. Onklaar. Sonder ‘n dak. Die “vloer” van die woonstel bó die inwoners op elke onderste vloer, het dan nie as as ‘n “dak” getel nie, dit was bloot die vloer van die volgende woonstel… maar wie flous jy nou eintlik?


Die gebou in Libertas straat was ook soos ‘n murasie en “in-wording” – (in elk geval in my gedagtes), vir ‘n baie lang tyd, maar die dag toe die dak opgesit is, het dit soos ‘n huis begin voel.


Die spasie was gedefinieer. Afwerkings kon geïnstalleer word, mure kon geverf word en elektriese bedrading kon gefinaliseer word. (In die woeste winter weer wat ons op die oomblik beleef, is ek baie dankbaar dat ons die Libertas huis kon bou in ‘n relatiewe droeë winter). Onder die dak was daar skuiling teen die elemente en beskerming vir dié dinge wat nie gemaak is om buite in die wind en weer te wees nie.


Hierdie spesifieke dak is een van die estetiese elemente waarvan ek die meeste in die huis hou. Daar is groot, dik, oop balke wat oor die hele lengte van die leef area en kombuis strek. Dit lei jou oë op na die Noordelike dakvenster, waar die prentjie na buite met elke seisoen verander. Die groot balke hout moes na die installasie so vinnig as moontlik beskerm word en dit was 'n geskarrel om dit klaar te kry voor die weer dalk sou verander. Almal moes op hulle poste wees en die dakspan het soos 'n masjien gewerk.


Dié dak-opsit laat my elke keer dink aan my gunsteling Psalm: Psalm 91. Dit het al deur die jare vir my só baie beteken en in sekere seisoene in my lewe, het ek dit al soos ‘n mantra herhaal en herhaal; ‘n Skuiling (of Shelter) is die Here vir dié wat Hom liefhet. Hy is ons Dak, wat ons beskerm teen die elemente en storms van die lewe, maar ook vir ons ‘n intieme ruimte skep waar ons onder Sy vlerke kan wegkruip en net kan wéés.

Bly kan wees.

Hartseer kan wees.

Huistoe kan kom.


Ons is in Sy veilige vesting gekoester, wanneer ons kies om Hom bó alles te stel.


Ek weet nie hoe jy vandag voel oor jou skuilplek nie. Miskien voel jy (soos ek) partykeer uitgelewer of blootgestel, sonder ‘n dak op die boonste vloer en kwesbaar… Of flous jy ook jouself met die idee van ‘n dak, terwyl jy eintlik weet dat dit 'n vloer is? Soos wanneer ek op my eie planne, aardse dinge, mense se opinies of idees staatmaak om my te beskerm of te lei.


Mag ek en jy weer gaan wegkruip in die Skuilplek van die Allerhoogste. Onder Sy vlerke wat vir ons elkeen ‘n toevlug en ‘n skild is. In die Huis van ons Vader waar die deure altyd oop is en ons 'n regte Dak oor ons koppe het.


Mag ons rus in Sy skaduwee en mag dit soos Huis voel.


Amen.


288 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page