top of page
Search

My waarheid...

Writer's picture: Welmarie Janse van VuurenWelmarie Janse van Vuuren

Psalm 119:114 You’re my place of quiet retreat, and your wraparound presence

becomes my shield as I wrap myself in your Word! (TPT)


Ek het altyd ‘n paar gemaklike pantoffels in my kas. Party is al deurgedra en ander minder gehawend, maar dit bly maar lekker om een van hulle aan te trek wanneer dit so koud is en my lyf hunker na iets wat gemaklik en warm is.


Ek het ook ‘n paar gunsteling kouse, sweetpak top en ‘n sagte broek wat my sommer net laat voel asof ek heeltemal kan ontspan. Ek hou van die tekstuur, die bekendheid en die gemak daarvan. Wanneer ek dit aan het, gee ek nou regtig nie om hoe ek lyk nie! Dit is net lékker en ek het dit veral nodig wanneer dinge styf en ongemaklik voel. Soos in die laaste week.

Dit was ‘n ongemaklike een. Ek is gekonfronteer met dinge en mense, ideale en sienings en sommer net ‘n klomp geraas wat voel soos ‘n growwe trui wat my keel aanhoudend krap. Ek weet nie lekker wat om met al die inligting te maak, of waar om dit te stoor nie. Dit voel al hoe meer vir my of dit wat reg was nou verkeerd is en dit wat verkeerd was, nou reg is? Die wêreld voel deurmekaar. En onseker. En versigtig. Dit voel asof ek die hele dag op eiers moet loop en my opinie baie goed moet oorweeg voor ek dit met enige iemand deel. Dinge raak vinnig kontroversieel en ongemaklik. Daar is nie meer ‘n swart en wit nie. Net ‘n grys…of ‘n (onvolledige) reënboog?


Ek weet nie meer nie.


Ek wil hierdie jeukerige trui uittrek en verruil vir my sweetpak en pantoffels. Die bekende, gemaklike (al is dit onvleiende) klere wat ek ken...


In die week luister ek na ‘n getuienis van Jackie Hill Perry. ‘n Amerikaanse digter. Iemand met 'n ongemaklike storie - relevant vir die tyd waarin ons lewe. In die gesprek met haar, vra die persoon wat die onderhoud voer, wat dit is wat haar laat kies het om ‘n Christen te wees en watter raad sy het vir mense wat wonder of twyfel…en haar antwoord is “om God te bestudeer in Sy woord”. Sy sê, dat as jy Hom regtig leer ken en Sy karakter verstaan, jy nie anders sal kan as om Hom te kies nie. Hy is meer werd as enige iets anders wat jy prys gee om Hom te volg. Hy stel nie net belang in ‘n gedeelte van jou nie. Hy wil alles heelmaak.


Terwyl ek na haar luister en dink oor wat sy sê, dink ek ook oor Sy Woord. Die Bybel. Hierdie antieke skrif wat deur die eeue heen krag dra en met die bekendheid daarvan, soos my pantoffels is vir my. Ek voel veilig tussen hierdie bladsye. Die geluid van die papier. Die tekstuur van die dun velletjies. Al die plekke wat ek al onderstreep het (op verskillende tye en in verskillende seisoene van my lewe) voel soos ‘n persoonlike album of rekord van gebeure. Dit is nie ‘n boek wat doekies omdraai of ons menslikheid probeer toesmeer of versag nie. Nee. Dit is die waarheid. Ondersoekend, dit ontbloot, maak heel, laat groei en is vas. Gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde. En soos dit in Prediker sê:” Daar is niks nuuts onder die son nie.” Alles waarmee ek in hierdie lewe te doen gaan kry, is ook hierin verteenwoordig. Maar meer as dit: Dit is die openbaring van ‘n persoon. Sy karakter. Sy onverskrokke liefde vir ons. Sy Trou en Genade.


Ek wil in hierdie Woord gaan wegkruip soos die skrywer van Psalm 119 sê in vers 114: “You are my hiding place and my shield”. En dit is nie omdat ek my kop in die sand wil druk en ontken of onbetrokke wees by die dinge van die wêreld waarin ons lewe nie. Nee, ek wil net hier my Waarheid kom vind. Nie in die opinies van mense of sosiale media of die gees van die tyd of ‘n kultuur nie. Ek wil hier wegkruip totdat ek so vol is van die Lig op my pad, dat ek nie anders kan as om dit uit te straal nie. Onverdun. Suiwer en Helder.


Dalk hoef ek dan nie eens my opinie te lig nie? Sy lig-deur-my is miskien genoeg vir ander om hulle pad ook uit die donker, na Hom te vind. ‘n Vloedlig. 'n Rigting wyser na Hom, vir almal wat ek teë kom.


Ja, ek wil weer gemaklik raak met die ongemaklike dinge in die Bybel, sodat dit soos ou pantoffels is, wat ek ken en my voete warm hou teen die koue daar buite.

Ek wéét dat ek weet, dat ek altyd Sy stem daar in Sy Woord kan vind. Sy liefdevolle karakter.

Hom.


Hy wat die Weg, die Waarheid en die Lewe is.


Amen.






186 views0 comments

Recent Posts

See All

Speel-Speel

Comments


Subscribe Form

Thanks for submitting!

0729977023

©2021 by Beloved ♥ Geliefd. Proudly created with Wix.com

bottom of page