Psalm 95:1-2 (The Message)
95 1-2 Come, let’s shout praises to God,
raise the roof for the Rock who saved us!
Let’s march into his presence singing praises,
lifting the rafters with our hymns!
Ek bly verstom oor die vermoë wat musiek het om my mee te voer en in ‘n oogwink terug te neem na ‘n plek of herinnering in my lewe.
Dit is asof dit die geheime kode is, wat die res van my sintuie ontsluit. Ek kan sien, voel, ruik en selfs partykeer proe, waar ek was - toe ‘n sekere liedjie soos ‘n kenwysie geraak het in my lewe. Hierdie “wegvoer ervaring” vang my onkant. En dan wil ek eers ‘n paar sekondes net stilstaan en terug reis in tyd. (Al is dit net in my gedagtes) My lyf gaan staan gewoonlik onwillekeurig stil. Ek draai my kop in die rigting van die klank. Ek spits my ore en ek probeer die lirieke onthou of saamsing, wat ek jare gelede uit-my-kop-uit geken het... Ek raak sentimenteel.
Deesdae gebeur dit gereeld. My dogter ontdek die een na die ander 90er jare treffer wat my terugvoer na my eie tienerjare. Terwyl ek en sy skooltoe ry, is ek skielik by ‘n garage party. Ek het my 90er so-groot- as-moontlik-hippie-klere aan. Grunge was ons styl of Alternative – as jy dit ‘n styl kan noem? My vriende het hulle eie band. Ons is besig om die wêreld se probleme op te los en diep dinge te gesels terwyl ons na die Pixies luister…”Where is my mind..?” klink die lirieke - en om eerlik te wees, wonder ek waar my gedagtes was? Wat het my na hierdie musiek laat luister? Ek kan maar net glimlag.
Dan is daar vroeëre treffers soos: “Eternal Flame” van die Bangles, wat my altyd laat verlang het na iemand wat ek nog nie geken het nie. Ek raak sommer hartseer – en vir geen ander rede as net die gevoel wat dit binne my ontlok nie. Klein dogtertjie drome van romanse en ‘n “Eendag...”
Die Bybel is vol musiek. Daar is letterlik ‘n liedjie op die speellys vir elke geleentheid. Die mooiste een is seker Hooglied. (Nie verniet so genoem nie). Die hoogste lied. Die nommer een treffer. ‘n Opsomming en uitvloeisel van onsterflike liefde uit ‘n Hart waar ‘n “Eternal Flame” brand: Liefde sterker as die dood.
Volgens my is daar ‘n paar Heavy Metal nommers ook op die speellys: Psalms wat nie boekmerkies word of ‘n bemoedigende boodskap op jou foon met ‘n mooi foto, is nie. Psalms met eerlike vrae. Ongeloof. Frustrasie. Verwyt. Dood en verlies. Noem dit maar op. Die skrywers van die Psalms draai nie doekies om oor hoe hulle voel nie. Daar is selfs “vloek Psalms” waarin die skrywers hulle vyande vervloek! ... en dit is in die Bybel. Dit is deel van die Woord. Dit is nie geredigeer nie. Daar is ‘n plek vir opregte emosie.
In die week kyk ek na ‘n reeks op die TV waarin ‘n sielkundige met ‘n pasiënt werk wat ‘n maagseer het. Dit is besig om in kanker te verander – en die wortel van die kwaad moet ondersoek word. Die woorde van die sielkundige bly my by: “If we can name it, we can treat it”
Ek dink weer aan musiek en hoe dit my help om dit waarvoor ek nie woorde het nie, uiting te gee. Om die emosies wat ek dalk nie eens besef het ek het nie, na die oppervlak te bring sodat ek dit ‘n naam kan gee. Al is dit “bitterheid” of “angs” of wat ook al. Daar is ‘n plek vir alles. En wanneer ek terugreis in tyd is daar ook ‘n geleentheid om emosies ‘n naam te gee, wat ek vroeër dalk nie kon nie. Om dit wat ek ervaar het, raak te sien, vas te hou en weer los te laat as dit nodig is.
Ek deel ‘n gedig met jou wat ek lank terug geskryf het oor musiek en wat dit vir my beteken.
My Jam
Liedjies filtreer die
frekwensies van my hart
heavy-metal-eerlik-kwaad
of female vocalist seergemaak
Partykeer is dit Rock en Roll
wat head-bang air guitar
tot ek voel ek is Vol
ander kere weer 'n Country Song
wat hartseer verlang en
erken ek was bang
of 'n volledige simfonie
'n orkes wat bassuin
"Hoe Groot is U"
somtyds weer net een noot
wat saggies "Amen" uiter
en "Dis weer ek, Here" fluister
maar meestal net 'n Happy Song
'n kenwysie gebore uit
All-Day-Long
Soos agtergrond musiek
in die hysbak of Mall
'n spreekkamer of restaurant
'n Sing-a-long-song
Want my hart bly brand
Hy is my Greatest Hits
My All Time Favourite
die Original Score
My Lied
My Lewe
My Gunsteling Song

Comments