Psalm 24:1
The earth is the Lord's and everything in it, the world and all who live in it.
Radio stilte. Ek weet. Ek het lank laas iets gepost. En glo my ek het probeer, ‘n hele paar keer – sonder sukses.
As ek die laaste week se emosies moes opsom, sou dit lyk soos my kind se hartklop op sy Strava profiel wanneer hy intervalle doen: Groot hoogtes en diep laagtes.
Dit was rof. Maandag was die eerste laagte punt: Die Vodacom Netwerk het net so voor 5 heeltemal af gegaan. Op daardie oomblik het ek nie geweet waar die helfte van my gesin is nie en daar was geen manier om enige iemand te kontak nie. Niks sein, internet of data het gewerk nie. Ek het so magteloos gevoel en gewonder hoe ons gemaak het, vroeër jare, sonder om die hele tyd met mekaar te kon kommunikeer? ….twee ure van wonder en bekommer, het gevoel soos ‘n ewigheid! En al wat ek kon doen was net om te Vertrou.
Hoogte punt: Die verligting - Genadiglik was ons almal OK en ‘n rukkie later weer bymekaar – kommunikasie netwerke herstel. Wat ons egter nie besef het nie, is dat ons German Shepherd - Brutus, in die donker van die af-netwerk en die loadshedding by die hek uitgeglip, en die pad gevat het. Laagtepunt.
Ek het Animal Welfare gebel, al die veeartse in die dorp laat weet en advertensies op Facebook en my WhatsApp Status gesit. Honderde mense het gereageer, die advertensies gedeel en my moed ingepraat. Baie mense in ons buurt ken vir Brutus. (Ek dink hy is al ‘n celebrity op die Buurtwag, want hy hou daarvan om homself vir ‘n stappie te vat en hy het al die kuns vervolmaak om ons almal te flous dat hy nie by die hek uitgeglip het nie...)
Gewoonlik bel iemand darem dadelik om te laat weet dat hulle hom gekry het. Of sien stap het êrens. Hierdie keer was dit anders. Daar was stilte.
Dinsdag aand het ek sleg geslaap. Ek het rondgerol en gedroom dat ons vir Brutus terugkry: Hy het by ons in die bed kom klim...so bly om terug te wees...
Woensdag oggend is daar nog niks nuus nie. Ek bel Animal Welfare al om die uur om te hoor of hulle nog nie iets weet nie. Die vroutjie aan die ander kant se simpatieke stem maak my tranerig. “Nee skat, baie sterkte...” Sy klink ook al moedeloos. Ek soek desperaat na iets in my Bybel om my te troos en lees Johannes 10:27 in die Amplified Bible raak: “The sheep that are My own, hear My voice and listen to Me; I know them, and they follow Me.”
Traag ry ek na my boekklub afspraak toe en bid sommer net hardop in my motor. Ek is dood eerlik met die Here. Ek vertel vir Hom dat ek baie lief is vir Brutus en dat ek weet dat hy aan Hom behoort. Ek sê sommer ook dat hy my partykeer regtig irriteer met sy gewoonte om so die pad te vat. Ek voel soos ‘n slegte hond-ma! Kan Hy asb net vir Brutus vir my teruggee? Hy is oud en kan nie vêr loop nie. Hy is te saggeaard om te ly. Ek weet ons moet hom eintlik laat uitsit, sy heupe is op, maar ek was nog net nie reg nie. Kan ek net mooi vir hom baai sê? Kan Hy asb die mens wat vir Brutus kry, oortuig om die regte ding te doen? Kan Hy vir Brutus na Sy stem laat luister?’
Ek voel magteloos en tog is daar ‘n rustigheid en vrede in my hart. Ek onthou weer van Vertroue.
Die Here het my al gehelp om Brutus op te spoor. Hy kán dit weer doen, soos die keer wat Brutus by (wat ek net kan beskryf as) ‘n “Smokkelhuis” beland het. Ek het rondgery en hom gesoek (vir ‘n hele oggend lank) terwyl ek hom geroep het deur die oop venster. Hy was toe nog ‘n jong hond en het vinnig, vêr geloop. Ek onthou hoe ek deur my trane net gevra het dat die Heilige Gees vir my moet wys waar hy is. Ek het letterlik agter my neus aangery en twyfelagtig voor ‘n huis stilgehou. “Hy is hier” het dit in my hart geklink. Die huis oorkant die rivier was soos ‘n seer-oog tussen die res van die huise in die mooi Victoriaanse straat. Die vensters was met planke toegeslaan en die skewe tuinhekkie het so geskree, ek is seker dat dit die huisalarm was. Ek het al my moed bymekaar geskraap en braaf aan die deur geklop – nie seker oor wat ek sou kry of wat sou gebeur nie, maar vasberade om my hond terug te kry.
‘n Ou vroutjie het die deur net op ‘n skrefie oopgepluk. “Wat wil jy hê?” het sy agterdogtig gevra. Ek kon die voetstappe van honde-pote op die houtvloer agter haar hoor. Ek het gevra of sy nie dalk ‘n hond gesien het wat rondloop nie? Groot hond; German Shepherd. Soos ‘n polisie-hond. Baie lief vir mense… my hart het in my keel geklop. Ek kon voel hy is daar. “Nee.” Het sy geantwoord. “Ons het net onse eie honde hier” Doodloopstraat. Ek was magteloos en woedend, maar dankie tog vir die Heilige Gees wat my net in daardie oomblik kalm gehou het. Ek het weer probeer en gesê dat ‘as hulle hulle eie honde het, hulle seker verstaan hoe lief ‘n mens vir ‘n hond kan wees. So, as hulle dalk enige iets hoor – kan hulle my enige tyd bel. Ek is baie lief vir my hond...hier is my nommer...’ Agter op ‘n winkel strokie het ek my nommer neergeskryf en deur die gleufie vir haar aangegee.
Vertrou.
Terug in my motor was ek raadop. “Here maak asb hulle harte sag” het ek gepleit.
En...ek was net op pad huis toe, toe my foon lui: “Ja Juffrou, iemand hét jou hond gekry. Hy is hier by ons. Jy kan hom kom haal” die vroutjie van vroeër se stem was kortaf en sy het die foon dadelik doodgedruk. “Here, Dankie!” Ek kon nie vinnig genoeg daar uitkom nie! Met die deur hierdie keer ‘n bietjie groter oop, het Brutus uit die donker skaduwees gehardloop en ons kon huis toe gaan.
So, Woensdag op pad boekklub toe, was my gebed in essensie dieselfde: “Wys my waar hy is, Here. Maak hulle harte sag.” Vertrou. Desperaat. Nog ‘n laagtepunt.
Halfpad deur die oggend, lui my foon toe. Dis Animal Welfare. Hulle is nie seker nie, maar hulle dink hulle het dalk my hond gekry. Hy is saam met ‘n hawelose man by die Dierehospitaal aan die ander kant van die dorp. ‘n Groente verkoper het hom sien loop met die hond en die veearts laat weet. Die man hou egter vol dat dit sý hond is. Hy wil hom nie laat gaan nie en ook nie toelaat dat hulle hom scan of na sy halsband kyk nie. Ek moet asseblief gaan kyk of dit wel my hond is. Hulle stuur “back-up”...
Ek jaag deur. En bid: “Here beskerm my en Brutus en die veearste en almal wat geregtigheid wil laat geskied. Maak asb die man se hart sag, want Brutus kan jou hart vinnig steel... Heilige Gees wees asb tasbaar teenwoordig hier in hierdie situasie. Stuur asb solank U engele vooruit...”
Ek kan nie regtig onthou hoe ek daar uitgekom het nie, maar toe ek instap en vir Brutus sien, was ons al twee oorweldig met emosie. Hy is nou wel 12 jaar oud en kon skaars loop, maar hy het letterlik losgeruk uit die man se hande en was so bly om my te sien, dit was nie eens nodig om verder te verduidelik nie. Brutus is myne. Belangriker as die micro-chip waarmee hy rondloop of die halsband met my nommer en adres op. Hy ken my stem. Hy behoort aan my. Hoogtepunt.
Maar.
Na die lang stap (eintlik dink ek sleep) deur die dorp, met heupe wat reeds gaar was, kon Brutus nie meer sy eie gewig ondersteun nie. Dit was regtig tyd om baai te sê. Ek moes hom val-val help om tot by die waterbak te kom en in sy bed te klim. My hart - gebreek.
Donderdag oggend het ons die moeilike besluit geneem om hom te laat gaan. Soveel emosies het net in my opgewel. Ek was ontsettend hartseer. Ek was kwaad en gefrustreerd. Ons het hom dan nounet terug gekry? Ek is nog nie reg nie! Ek is so lief vir hom.
Maar, ek het ook geweet dat hy ly. En dat sy legacy baie verder strek as die pyn waarin hy op die oomblik was. ‘n Liefdevoller hond en sagter geaardheid het ek nog nie tee gekom nie. Hy was lief vir ALLE mense.
WAS.
Die drie letters dra baie meer gewig as net die lengte van die woord. En ek sukkel nou nog om vrede te maak met die stilte in die huis, sonder die geklingel van sy halsband of die geluide wat hy altyd gemaak het. Ek mis hom. So verskriklik baie. Ons het ‘n hele paar sakke sout saam opgeëet en hy voel al so deel van my identiteit. Asof ek ‘n stuk van myself in hom verloor het.
Dit maak my hartseer en die trane vang my soms onkant, maar ek weet dat Brutus die Here se onvoorwaardelike liefde aan persone gewys het, wat dit dalk nie by mense kon ervaar nie. 'n Stukkie van Hom in die hart van ‘n liefdevolle dier.
Mag ek ook fyn luister en weet dat ek altyd weer huis toe kan kom. Al loop ek ook somtyds weg. Ek was ook eens verlore en weer gevind.
Ek ken Sy stem. En ek is Syne.
Hoogtepunt.
Rus in Vrede liewe Brutus - ek het baie by jou geleer. x
Comments