top of page
Search
Writer's pictureWelmarie Janse van Vuuren

Libertas

Updated: May 13, 2021

"Now the Lord is the Spirit, and where the Spirit of the Lord is, there is liberty [emancipation from bondage, true freedom]" 2 Corinthians 3:17 (Amp)


Vir baie lank in my lewe het ek die begeerte in my hart rondgedra om 'n huis mooi te maak of heeltemal oor te doen. Die opwinding om iets nuuts te skep en die potensiaal raak te sien in dit wat ander mense dalk nié sien nie het my hart laat vinniger klop.


Soos die tyd aangestap het, het ek egter hierdie droom laat vaar. Ek kon net nie insien hoe op aarde ek dit sou regkry nie. Min het ek geweet dat die Here besig was om my voor te berei vir die grootste projek van my lewe.


Dit was 'n doodgewone Saterdagaand-braai-saam-met-vriende, toe hulle bietjie uitvra en sommer gesels oor dit waarmee ons besig is en tot ons verbasing die voorstel maak dat ons saam met hulle na 'n huis moet soek om te restoureer. In Stellenbosch. Met die doel om dit weer te verkoop.


My hart het amper gaan staan...


Na al hierdie jare van wens en droom kon dit skielik 'n werklikheid word. Ek was verstom en terselfdertyd 'n bietjie skaam vir die verwyte in my hart. Ek het die Here begin kwalik neem vir die droom wat Hy in my hart gesit het, wat nooit bewaarheid is nie..


As ek nou terug dink, weet ek Sy tydsberekening is perfek. Elke draai wat die lewe met my gestap het, het my voorberei vir hierdie oomblik. Al het dit soms lank en onvrugbaar gevoel. Ons het oor die jare 'n netwerk van kontrakteurs opgebou deur my man se Strukturele Ingenieurs firma. Ek het intussen leer planne teken, my kinders was groot genoeg om op hulle eie aan te gaan ens ens. Die lys is oneindig lank, ingekleur tot en met die fynste detail van dit wat ek sou nodig kry.


So, met daad by die woord het die soektog begin. Vir meer as 'n jaar lank het ons die mark dopgehou, huise deurgedraf en planne beraam, maar nie een van hulle het reg gevoel nie. Ek het geweet dat die huis, soos die voorstel om dit oor te doen, tien teen een op 'n ander manier na ons toe sou kom. Ek moes oorgee en vertrou dat Hy wat hierdie pad begin het, dit ook sou deurvoer.


So gebeur dit toe dat vriende van ons van Luxemborg ook 'n paar huise gekoop het in Stellenbosch met die doel om dit oor te doen. Die een huis se restourasie planne was reeds goedgekeur by die Munisipaliteit en hulle het die kontant nodig gehad vir 'n ander projek. Ek onthou nog die dag toe my man laat weet het dat die huis beskikbaar is -planne en al. 5 Libertas straat. Dit het my dadelik laat dink aan hierdie skrif gedeelte wat sê dat daar waar die Gees van die Here is, Vryheid is. Libertas. En nommer 5. Die nommer vir Genade in die Bybel. Onverdiende guns.


Ek deel dit met jou omdat ek so oorweldig is deur die Goedheid van ons Vader. Hy sien ook jou droom raak en dit wat in jou hart leef. Miskien is Hy nog besig om die pad vir jou gelyk te maak. Of miskien vra Hy dat jy daardie eerste tree in geloof sal gee. Weet net dat daar waar Sy Gees is, Vryheid is. Liberty. Onverdiende Guns en Genade en dat Hy dit wat Hy begin het, end-uit sal voer.


Sela.





193 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page