top of page
Search

Lente kom. Altyd.

James 2:1 (Amp)

2 Consider it nothing but joy, my brothers and sisters, whenever you fall into various trials. 3 Be assured that the testing of your faith [through experience] produces endurance [leading to spiritual maturity, and inner peace]. 4 And let endurance have its perfect result and do a thorough work, so that you may be perfect and completely developed [in your faith], lacking in nothing.


En só, is dit weer Lente! Mooiste, mooiste Lente! Splinternuwe blaartjies wat oral op die bome se uitloopsel-takkies sit. Amper neon-groen aanvanklik. Jasmyn en “yesterday today and tomorrow” blommetjies wat die lug vul met ‘n skerp lente geur. Voëltjies wat vroeg oggend al begin sing en die eekhorings wat weer (saam met die molle) hulle verskyning maak.


Elke jaar, omtrent hierdie tyd, is daar ‘n massiewe swerm spreeus wat in ons akkerboom kom sit. Ek weet nie waar hulle vandaan kom, of waarheen hulle op pad is nie, maar dit gebeur klokslag. Dit lyk soos ‘n digte vlapperende wolk en klink soos ‘n oorverdowende gekwetter. Honderde swart en oranje vlerke en lywe wat in ‘n mengelmoes in ons tuin land, ‘n rukkie vertoef en dan weer wegvlieg.


Ek onthou hoe ons huishulp haarself boeglam geskrik het, die eerste keer wat hulle kom kuier het. Ek weet nie of sy bygelowig was en of die massa voëls net té veel en te skielik was nie, maar sy het grootoog in die huis ingehardloop en veilig agter die toe deur na die spulletjie gestaar. Ek het haar gou gerusgestel dat hulle gewoonlik net ‘n klein rukkie bly en dan verder vlieg. Haar verbasing nog vlak in haar oë en bewerige lyf toe hulle stadig opstyg en net so onverwags, weer verdwyn.


Die voëls is (nou al) vir my soos ‘n instelling. ‘n Aankondiging van die offisiële “Lente”. Al is dit nog bitter koud en reënerig, weet ek: die seisoen het gedraai. Sneeu kan nog val – en dit doen gewoonlik nog êrens voor -of in Oktober, maar die Lente is hier!


Daar is ‘n opgewonde afwagting tasbaar in die lug. Die lower groen, oral om my, is sag en gerusstellend. Winter kan oneindigend lank voel, maar niks kan die Lente terughou nie. Nie eens die koudste, natste winter in dekades nie. Dit sal altyd weer lente wees. En Somer. En Herfs en natuurlik ook weer winter, maar op die oomblik fokus ek op die Lente. Ek drink elke liewe flou lente sonstraaltjie in en verkyk my aan die verskeidenheid en variasies van nuwe lewe wat net oral ontpop en drink die geure en kleure van al die bloeisels in. (Saam met my gebruiklike anti-histamien wat ek uit ondervinding, vroegtydig begin drink.)


Terwyl ek sien hoe die landskap om my verander: besef ek dat ek baie keer voel asof die dinge wat soos "winter" vir my is, nooit gaan ophou nie. Dat ek, terwyl ek sukkel, vergeet dat die lente op pad is. In my struweling kry ek te koud, die nagte is te lank en party dae kom die son so laat agter die donker reënwolke op dat dit nie eens voel asof die dag aangebreek het nie… en ek is in my winter gedompel. Ek voel dit aan my lyf. En dit is ook goed om die winter ten volle te ervaar - ek weet winter is nodig, MAAR:


Gelukkig kom die Lente. Altyd weer. En ek kan daaraan vashou: Dit gaan weer warm wees. Die son gaan weer helder skryn. Al die droë takke van die kaal-grys bome, gaan weer omgetower word in die digte groen lanings wat ons mooie dorp so spesiaal maak. En soms sommer heel onverwags en skielik! Soos ‘n heerlike verassing wat uit die bloute sy verskyning maak. Asof die natuur afspreek en besluit dat vandag die openings aand van die lente skouspel is. Al gebeur dit geleidelik - voel en ruik en is alles net een oggend anders!


Terwyl ek nou hier in my studeerkamer, voor my verwarmer sit en tik, terwyl dit liggies rëen en my hande yskoud word, wil ek vashou aan die wete dat dit nog net ‘n rukkie gaan wees. Een van die dae is die koue, die lae en lae klere en donker dae iets van die verlede.


Die lente is hier. Seisoene verander. Winters kom tot ‘n einde. Altyd.


Sela.



127 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page