Mark 10:14
“Let all the little children come to me and never hinder them! Don’t you know that God’s kingdom exists for such as these? 15Listen to the truth I speak: Whoever does not open their arms to receive God’s kingdom like a teachable child will never enter it.” 16Then he embraced each child, and laying his hands on them, he lovingly blessed each one.
Vandag lê ek op my rug op die gras saam met ‘n vyf en drie jarige. Daar is nie wolke vir ons om te bewonder nie, maar ons gesels oor insekte en miere. Ons besluit later om vir die miere huisies te bou met die gruis klippies in die water-vriendelike tuin om die stukkie gras (wat eers ‘n swembad was). Saam soek ons na die regte kleure klippies vir die mierhuise. Dit word sorgvuldig met gras en blare versier en ons moet natuurlik ook vir die bewoners kos gee… die drie jarige gaan haal suiker in haar handjies en strooi dit vir die miere tussen ons huise. Die vyfjarige ontdek helderblou gebreekte plastiek stukkies in die gras. Dit word die skatte wat ons op ons knieë soek. Elke stukkie ‘n kosbare blou versiersel vir ons mierneste.
My gedagtes en sintuie word gevul met die reuk van gebreekte gras, growwe klippies (kleintjies en grotes) - almal met verskillende kleure: Noukeurig opgestapel in ‘n trotse huis. Ek raak saam kinderlik opgewonde oor die gedroogte blare wat glyplanke kan wees en ‘n groot geel blaar wat die dak word… en ek wonder wanneer laas ek net so IN die oomblik was?
Wat ‘n voorreg om net teenwoordig te wees. Ek moet sê ek mis dit – om net te wees en weer die lewe deur die oë van ‘n kleuter te sien. Al die moontlikhede, verbeeldingsvlugte en onskuld.
My kinders is nou groot. Hulle sien die lewe al klaar deur ‘n filter van ervaringe (goed en sleg). Hulle word elke dag gekonfronteer met die realiteit van gebrokenheid. Hul eie, myne, my man s’n, die vriende wat hulle het en die wêreld daarbuite. Almal gevorm deur ons ervaringe, persoonlikhede, emosies, gedagtewêreld…
Partykeer wens ek ek kon die lewe weer so eenvoudig maak vir hulle.
Soos vir Mia wat so gelukkig was wanneer sy net kon swaai of vir haar Pappa speel-speel tee kon aandra. Of vir Janke wat net in die tuin wou speel: Op sy gelukkigste vol modder en verdiep in sy eie gedagtes.
My oë skiet sommer vol trane.
Ek dink aan diep waters waardeur hulle altwee al moes gaan. Hulle trane waarvoor ek nie woorde gehad het nie. Kere wat ek so onbeholpe gevoel het as ‘n Ma wat net nie antwoorde het nie en hulle maar net kon vashou. Of kon bid. Of in die stilligheid moes wegry en huil en huil. Saam met hulle, oor hulle, vir hulle.
Kinders grootmaak is definitief nie eenvoudig of maklik nie. Ek besef dit is juis in daardie moeilike tye wat ‘n mens jouself die beste leer ken. Ek kan nie die slyp skool van die lewe keer nie. Al is dit elke keer so moeilik om dit te sien. En al WIL ek dit keer. Al wat ek kan doen is om te probeer om hulle voor te berei en gereedskap te gee.
Soos om die regte wapens aan te trek om hulle te beskerm teen die storms van die lewe. Nie die soort wat my laat onttrek of voorgee nie, maar dit wat juis my hart sag hou. Wat my goeie “boundaries” leer en leer hoe om eerlik met myself en almal anders om my te wees. Die regte-egte EK. On-onderhandelbaar outentiek, maar leerbaar, nederig en liefdevol.
Veral liefdevol. Ge-anker in Liefde. Sý Liefde wat onveranderd en onvoorwaardelik bly. In alle omstandighede.
Mag ek ook weer na my kinders kyk deur die oë van ‘n verwonderde, onskuldige kleuter en die ongeskonde essensie van hulle wese raaksien.
Soos ek glo Hy na my kyk. So onverdiend, ongelooflik.
Amen.
Comments