top of page
Search

Kersfees.

FILIPPENSE 4:8 AFR83

8 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.


Vanoggend vroeg haal ek die wasgoed van die draad af terwyl bekende Kersfees liedjies uit die kombuis my gedagtes laat dwaal.


Aan die einde van November, was ek nog hard aan die werk om alles wat klaar moes kom, klaar te maak. Daar was letterlik net nie genoeg ure in die dag om alles af te handel nie! Boon-op kry ek en my man toe albei ‘n ontydige somer griep, wat net nie heeltemal wil weggaan nie. Ek vermoed dit is die lang ure, min slaap en spanning om alles af te sluit wat ‘n gulde geleentheid geskep het vir die onwelkome goggas om uit te broei…


Die tweede Desember besluit ek toe om net ‘n bietjie tot bedaring te kom en ons Kersfees boom op te slaan in die leef area. Ek voel ‘n bietjie skuldig, want sien, ek weet mos nou waar baie van die simbole vandaan kom ens. Maar, ek voel ek het nodig om net stil te raak en weer in verwondering te staan oor die gebeurtenis van die Seun van God, wat aarde toe gekom het.


Ek sit vir myself heerlike Kersfees musiek aan (van kunstenaars wat ek weet, eerbied het vir hierdie tyd) en ek begin afstof en uitpak.


Ek dink aan die Boom van die Lewe, Jesus Christus, Sy geboorte, hoe Hy omring was met heerlikheid en aan my kinderjare se Kersfees. Ons het nooit ‘n Kersfees Vader geken nie. Hy was nie deel van die storie nie. Nee, my Pa het vir ons Jesus se verhaal gelees. En dan het ons saam gesing en stil geraak. Dit was Heilige oomblikke. Ek onthou hoe ek die warmte van Sy teenwoordigheid om ons kon voel. En dan het ons persente uitgedeel. As simbool van die grootste geskenk. Dit was eenvoudig en kosbaar. En daarom het dit een van my gunsteling tye van die jaar geword.


Die vreugde van samesyn en om te gee. Simbole wat my aan Hom herinner. Soos Sonneblomme. Skoenlappers. Dandelions. Arende. Reënboë, maar veral Sonneblomme.


Terwyl ek so besig is om te versier, wonder ek hoe die Here Jesus voel oor my boom en die feit dat ek die ruimte skep vir refleksie. Hy ken my hart en Hy weet dat ek eintlik net hunker na Sy teenwoordigheid. Ek bid vir my gesin en almal wat die vertrek instap en ek bid vir my hart om Hom te soek ten midde van die besig wees en alles wat nog steeds moet gebeur.


Die griep eis uiteindelik sy tol en ek vat ‘n breek, voor ek die liggies uithaal om die spreekwoordelike Kersie op die koek te wees, en betrag my boom. Ek drink ‘n koppie koffie en lees die boodskap op my foon, wat nou-net deurgekom het. Dit is my skoonma. Haar boodskap is ‘n liedjie van iemand wat sy ken en die titel? “Sonneblom uit Bethlehem.” Ek lag sommer hardop...Wat is die kanse dat sy dit op hierdie oomblik vir my stuur? Ek dink Hy dink die boom is OK? Dit is wat in my hart aangaan, wat die eintlike vraag is? Ek luister na die liedjie (wat die mooiste getuienis opsigself is) en haal die liggies met nuwe ywer uit die plastiek krat uit.


Die Lig van die Wêreld het gekom. Hy ken my hart. En Hy sien my raak.


Mag ek aanhou om Hom te soek in alles om my. Mag ek Hom toelaat om my hele lewe te verlig met hierdie boodskap van Kersfees en almal wat in my sitkamer instap, aanraak met Sy teenwoordigheid.


Só spesifiek soos vir my met 'n Sonneblom uit Bethlehem.


Amen.


(*Dankie, Karla Britz vir die liedjie "Sonneblom uit Bethlehem" wat opgeneem is by die NG Gemeente Parrowvallei, dit het my so geseën!)




108 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page