top of page
Search

In Verwondering

Writer: Welmarie Janse van VuurenWelmarie Janse van Vuuren

Psalm 139:17-18 (TPT)

Every single moment you are thinking of me! How precious and wonderful to consider

that you cherish me constantly in your every thought! O God, your desires toward me are more

than the grains of sand on every shore! When I awake each morning, you’re still with me.


Vanoggend luister ek na 'n praatjie op YouTube, waar die spreker sy ervaring deel: Hy het langs ‘n seuntjie gesit in ‘n vliegtuig, wat vir die eerste keer gevlieg het. Die kind was letterlik verwonderd oor ALLES en het lopende kommentaar gelewer vandat hy gaan sit het om op te styg, totdat hulle geland het by hulle bestemming. Sy opgewondenheid oor hierdie nuwe ervaring was tasbaar en aansteeklik. Deur die oë van ‘n kind het al die passasiers rondom hom, weer alles van nuuts af ervaar.


Dit het my laat dink aan my eie kinders en hoe ek die lewe kon herontdek deur hulle oë. Van die vreemde nuwe tekstuur van ryspap - as jy gewoond was aan melk (wie het nou ooit gedink dit sou ‘n groot gebeurtenis wees) tot leer om self fiets te ry, sonder wieletjies. Daardie eerste “date” en ogies wat blink, skoenlappers in die maag, die eerste keer agter die stuurwiel en seker nog baie ander eerstes wat vir hulle (en vir my) wag.


Van kleins af het my eie ouers my geleer om dit wat om my is, te waardeer en die mooi in die lewe raak te sien. Dit is inge-oefen in my DNA. (En ek sal vir ewig dankbaar wees daarvoor.) Nou nog word my foon elke week volgemaak met foto’s van sonsondergange, blomme en see tonele van hulle stoep af. Dinge wat hulle in verwondering laat. (So tydjie gelede stuur my Ma vir my ‘n foto van die kleinste paddatjie in ‘n blom. ‘n Heerlike verassing terwyl sy tuinmaak...)


In verwondering.


Maar.


Party dae is dit vir my moeilik om my aan enige iets te verwonder. Veral wanneer dit voel asof ek hierdie dag al ‘n honderd keer geleef het. Groundhog Day. Dieselfde dinge, roetines en ritmes wat van voor af weer begin en aanhou en aanhou... met tien teen een dieselfde spanning en uitkomste ens. ens.


Ek moet erken, ek het gehoop dat die Desember vakansie ‘n bietjie lig aan die einde van hierdie nimmer-eindigende tonnel sou bring. Ek was siels-moeg. Dinge lyk nie of dit vinnig gaan verander nie en “die dinge” is ook heeltemal buite my beheer. Ek kon nie insien hoe ek enigsins energie bymekaar gaan skraap vir alles wat hierdie jaar voor my lê nie. (Die feit dat ek en my man, siek met Covid in ons vakansie bed gelê het, het seker ook nie gehelp nie!) Ek kon nie my tenk vol maak met lang ente stap langs die see of swem of gaan bergklim nie. Ek was net te vinnig moeg en uit asem. Ek moes net lê. Teleurgesteld en frustreed.


Ek onthou een spesifike dag wat ek stadig, baie stadig, af gestap het na die see toe. Op my eie. Ek wou net bietjie asem skep (letterlik en figuurlik).


Ek het gaan sit, reg langs die hout trappies op die strand, te moeg om verder te loop en vir die see gestaar. “Ek kan nie meer nie” was my gedagtes en ek was hartseer. Ek is gewoonlik die een wat positief bly? Wat gaan aan met my? Alles het so hopeloos gevoel. Vir lank het ek net so gesit, en gewonder of ek ooit weer soos myself gaan voel. Gaan dinge ooit weer beter raak, al is dit dalk nooit weer dieselfde nie? Waar is my vreugde heen?


‘n Fyn dandelion saadjie (perdeblommetjie) het stadig oor die sand aangewaai gekom. Ek het dit stilweg dopgehou en gevoel hoe ‘n glimlag om my mond vorm. My gunsteling. Ek kon my hand uitsteek en asof die saadjie geweet het hoe nodig ek ‘n ligpuntjie het, het dit op die palm van my hand geland. Soos ‘n scène uit Avatar. ‘n Stukkie hoop spesiaal net vir my...


“Dankie Here” Het my hart gesê. “U is ook hier en U sien my raak. U sien my moeë lyf en my moeë siel en U gedagtes oor my, is meer as die sand van die see...”


Ek het die seelug diep ingeasem en begin om myself te verwonder aan die fynste haartjies van die dandelion wat die saadjie weer gewigloos in die lug laat opstyg het; Die branders wat so getrou en reëlmatig gebreek het op die sand; Die mooiste maar mooiste sonsondergang wat besig was om voor my af te speel en my asemhaling wat skielik weer gemakliker gevoel het.


Mag ek nooit sonder verwondering wees nie. Mag Hy my altyd daaraan herinner. Mag ek met koninkryks oë soos die van 'n kind na alles om my kyk.


Na die groot dinge, maar ook die heel kleinste van kleintjies. Soos paddatjies en perdeblommetjies en die warm sand se tekstuur onder my voete. Soos die wasgoed se wit-skoon in die son, die toebroodjies se interessante gate in die deeg en alles én alles, asof ek dit vir die eerste keer ervaar - al is dit vir die honderdste maal.


Soos twee weke gelede, waar ek myself kon verwonder aan die herinneringe van ‘n leeftyd wat versamel is deur baie jare heen en aan “gewone oomblikke” wat soos kosbare skatte by die begrafnis van ‘n geliefde vertoon is. Met die klanke van Louis Armstrong se diep stem as die ‘n klankbaan vir ‘n lewe voluit gelewe, het Hy my hier kom herinner aan die gewone dinge wat op die ou end elke dag in ‘n “Wonderful World” kan verander...

Ek moet net in verwondering bly...

Oh Yeah...


Sela.





 
 
 

Comments


Subscribe Form

Thanks for submitting!

0729977023

©2021 by Beloved ♥ Geliefd. Proudly created with Wix.com

bottom of page