top of page
Search
Writer's pictureWelmarie Janse van Vuuren

Huistoe

Hebrews 4:14-16 (The Message)

Now that we know what we have—Jesus, this great High Priest with ready access to God—let’s not let it slip through our fingers. We don’t have a priest who is out of touch with our reality. He’s been through weakness and testing, experienced it all—all but the sin. So let’s walk right up to Him and get what He is so ready to give. Take the mercy, accept the help.


Half tien in die aand sit ek nog en werk toe ‘n ou oom die kantoor nommer van die welsyn organisasie waar ek uithelp, bel. Gewoonlik lê die foon teen hierdie tyd en laai in my studeerkamer en ek lê in die bed -of voor die televisie. Vreemd dat iemand nou sal bel? Ek antwoord huiwerig. Die oom aan die ander kant klink moeg en bekommerd. “Is ons ‘n plek van veiligheid?” Wil hy weet. Ek skat hom middel sewentig, my Pa se ouderdom. Sy sagte, mooi engels laat my dink dat hy wel-belese is. Goed opgevoed. Hy verduidelik dat sy dogter hom gebel het van die polisie stasie in Pretoria. Hy sê, sy hou vol dat haar lewe in gevaar is. Sy het ‘n plek nodig om te bly. Ek hoor die twyfel, ongeloof en moedeloosheid deurskemer en verseker hom dat ek gou sal help soek in die area waar sy is.


My hart klop in my keel terwyl ek Google en rondvra. Uiteindelik kry ek ‘n tolvry nommer en stuur dit met ‘n WhatsApp vir die Oom. Sy profiel foto is die pragtigste klein seuntjie in ‘n loop-ring. ‘n Kleinkind? Na ‘n rukkie laat weet hy dat hy reggekom het. Die maatskaplike werker aan diens, was baie hulpvaardig en hulle sal môre verder gesels. Vir die oomblik het die polisie stasie sy dogter toegelaat om daar op ‘n bankie te slaap… Hy klink verlig en ek besluit om hom maar weer in die oggend te vra of hulle toe reggekom het, terwyl ek aan my eie dogter dink. Hoe beland ‘n mens op ‘n gewone Dinsdagaand op ‘n bankie in die Polisie stasie van Pretoria?


Die volgende oggend laat weet hy dat sy dogter nie kwalifiseer om by die plek van veiligheid te bly nie. Sy is “destitute”. Hulle het vir hom ‘n lys gestuur van plekke wat hawelose mense inneem. Hy deel die lysie met my, vir toekomstige navrae en sê dankie vir my hulp en saam soek die vorige aand. Ek weet nie eintlik wat om terug te sê nie. Ek ken nie die mense of hulle omstandighede nie en my woorde voel so lomp en onbehulpsaam. Al wat ek regtig kan doen is om vir hulle sterkte toe te wens en te bid?


Destitute. Sjoe. Daardie woord bly by my.


Terwyl ek vandag bietjie herkou aan die telefoon oproep, kom die storie van die verlore seun skielik weer by my op. Ek wonder hoekom dit so belangrik was om opgeteken te word in die Bybel? Is dit dalk die Here se manier om vir ons te laat weet dat daar geen waarborg is dat jou kinders die regte besluite gaan neem in hulle lewens nie? Al word hulle in ‘n goeie huis groot. Al doen jy jou heel beste as ouer, bly dit hulle keuse om met daardie lewe te maak wat hulle wil. Al is jy ook hoe lief vir hulle…en al wil jy ook die heel beste vir hulle hê? Dit bly hulle lewe. Hulle besluite. Grootes en kleintjies.


En dan dink ek: Dit is seker ook hoe Hy oor my voel? Ek het elke dag hierdie keuses. En Hy, my Liefdevolle hemelse Vader, wag vir my. Om te besef waarop ek uitmis en om terug te draai, maar partykeer vat dit eers so laag daal soos varke oppas of slaap-op-‘n-polisie-stasie-bankie om te besef dat ek nie so kan aangaan nie? Ek moet partykeer (ongelukkig) eers in daardie muur van SELF vasloop voordat ek besef dat ek Hom -en die mense wat vir my lief is, nodig het.


Ek sien sommer in my verbeelding hoe Hy verlangend op die stoep staan en wag en opgewonde aangehardloop kom na elkeen wat besluit om terug te draai en Huistoe kom.


Ek sien hoe Hy tot by my hardloop waar ek nog skaam in die stofpad staan en my uitbundig styf teen Sy bors vasdruk en in die rondte swaai. Voor ek nog kan verduidelik of myself probeer verskoon of verdedig, word my verskonings versmoor in die liefde van Sy sterk arms en Sy hartklop hier naby my oor. Hy los nie. Ons lag en ons huil. Trane van blydskap en verligting.


Troos en Tuiskoms. Hy is my Pa. By Hom is niemand destitute nie.


Hoekom het ek dit nie al lankal gedoen nie?


Sela.



246 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page