top of page
Search

Hoop in die Donker

1 Peter 1:24

. 24for,“all flesh is like grass,

And all its glory like the flower of grass. The grass withers And the flower falls off, 25but the word of the lord endures forever.” And this is the word [the good news of salvation] which was preached to you.


Plante maak my senuwee agtig. Veral as dit ‘n geskenk is en verál as ek weet dat jy heel moontlik gaan kan sien of ek jou geskenk laat floreer of flop in my huis… maar ek moet sê, ek dink my vingers raak (gelukkig) groener met tyd. Ek het byvoorbeeld nou al geleer (uit blote toeval) dat ek my plante heel moontlik in die verlede verdrink het. Ons was twee weke weg met vakansie en na die skynbare “droogte” het my plante baie gesonder gelyk as voor ons weg is.


Ek het ook geleer dat ek van plante vergeet wanneer ek hulle nie elke dag kan sien nie… So AL die huisplante wat ek besit, staan mooi netjies in ‘n ry op die kombuis se vensterbank. En dan het ek ook geleer dat ek ‘n “barometer plant” kan gebruik om my te laat weet wanneer die ander plante water nodig het. My miniatuur varklelie se blare hang eerste na ‘n warm dag en herstel ook die vinnigste na ‘n bietjie water. As hy lyk of hy moeg is, is dit tyd vir ‘n lafenis.


Een van die plante in die rytjie op die vensterbank is ‘n Poinsettia wat ek by my Italiaanse vriendin gekry het vir Kersfees. Ek het hom aan die lewe gehou – wonder bo wonder - vir die laaste 4 jaar, maar die arme ding wou groter wees as wat die vensterbank hom wil toelaat. Die takke het vreemd en verwronge in allerhande snaakse rigtings begin groei. Eers het ek dit roteer, sodat dit nie net een kant son sou kry nie, maar dit wou net nie lekker werk nie. Dit het net doodeenvoudig weird begin lyk en elke dag my ‘n bietjie meer geirriteer, todat ek op die ou end die snoeiskêr gaan haal het en al die wilde takke afgesny het tot kort bo-kant die grond. ‘n Hartseer prentjie, want waar daar eers groen blare was, was daar nou net stompies oor.


Ek het nie ‘n goeie “track record” met plante nie, so ek het nogals gewonder of hy dit sou maak na die drastiese ingryping, maar hy het. Gelukkig. Na ‘n paar dae was daar piepklein groen blaartjies wat besig was om uit te loop. Hy gaan OK wees. Die lewe was nogsteeds binne in hom. Al kon ek dit vir ‘n rukkie nie sien nie.


Terwyl ek vanoggend na die nuwe blaartjies staar en ek die skottelgoed afspoel, tref dit my skielik hoe broos dit is. Die nuwe lewe is kwesbaar. Die lewe is broos. Die Psalmdigter sê nie verniet ons lewe is soos gras wat een dag daar is en die volgende dag weg nie.


Dit is amper asof die fyn groen blaartjies ‘n uitvloeisel is van dit wat ek hierdie week ervaar het. Dit herinner my daaraan dat ek moes vashou en glo dat daar lewe en hoop is al kon ek dit nie sien nie. (En dit is nie maklik om in stompies vas te kyk en te pleit vir die groen blaartjies van hoop as dit nie lyk of dit gaan deurbreek nie.) Maar dit het. En daar is lewe.

Die groen blaartjies het deurgebreek. Die snoeiproses was (en is) wild. Ek voel kaal gestroop en die hoop in my is broos, maar dit is daar. Die Lewe is nogsteeds hier binne my. Al kon ek dit nie sien nie. Dit hét deurgebreek. Twee dae lank moes ons saam baklei vir my Sussie se baba van 6 weke oud. 'n Koors van 40C wat net nie wou breek nie...en toe skielik het. Dit was donker. Ons was broos, maar die lewe het deurgebreek.


Elke dag is net genade. Gras wat vandag hier is en môre weg. Mag ek vashou aan die Hoop wat daar binne my is en gereed wees om dit te deel. Want dit is die Lewe en die Hoop.


Colossians 1:27 (The Passion Translation) 27 Living within you is the Christ who floods you with the expectation of glory! This mystery of Christ, embedded within us, becomes a heavenly treasure chest of hope filled with the riches of glory for his people, and God wants everyone to know it!


Amen.



106 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page