Search

Groot Bome.

Romans 12:2 TPT

2Stop imitating the ideals and opinions of the culture around you, but be inwardly transformed by the Holy Spirit through a total reformation of how you think. This will empower you to discern God’s will as you live a beautiful life, satisfying and perfect in His eyes.


Partykeer is konfrontasie nodig: Mý instinktiewelike reaksie onder druk? Defnitief “vlug” eerder as “veg”…


Veg of konfrontasie is ongemaklik, en ek vermy dit soos pes, maar somtyds is dit nodig om teenwoordig te bly in die oomblik en te veg. Om deur die ongemak en trane en kwesbaarheid te beur totdat jy gekneus maar “heel” aan die ander kant uitkom. Teenstrydig? Ek weet. Veral as die konfrontasie met jouself is.


Ouch.


In Januarie 2020 het ‘n massiewe doringboom in ons tuin omgewaai. (Amper soos ‘n profetiese aanduiding van die stormagtige jaar wat vir ons almal gewag het…)


My man was só lief vir die boom. Niemand mag ooit aan hom gesnoei het nie. Hy moes self groei soos hy wou. Dit was ‘n saailing uit sy kinderjare-tuin wat my skoonma vir ons grootgemaak en laat erf het toe hulle moes trek. Vyftien jaar gelede was hy maar net ‘n paar sentimeters groot en (in dit wat gevoel het soos ‘n oogwink) het hy gegroei tot ‘n hele paar meters hoog en wyd.


Hy was indrukwekkend ruig en het heelwat skaduwee gegee in ons sitkamer, maar niks wou onder hom groei nie! Geen sonlig kon deur die digte takke breek nie. ‘n Lushof vir allerhande voëls, maar ná ‘n hele paar jaar van droogtes in die Kaap, was daar net leë grond en stof onder hom. Hard soos net ‘n doringboom kan wees, het hy in die droogte floreer. Alles om hom…Nie.


18 Januarie 2020, na ‘n lekker lang vakansie, het ons met ‘n skok by die huis aangekom. Ons het net gerugte gehoor van die reuse storm wat die Kaap getref het, maar voor ons was ‘n werklikheid wat ons nie kon miskyk nie. Die yslike doringboom boom was verwoes en het ons tuin volgelê.


Gelukkig het die storm nie verder te veel skade aangerig nie. Die boom het perfek langs die huis geval. Die massiewe kroon was teen ons sitkamer venster vasgedruk. (Vreemd om dit wat so vêr in die lug was, nou deur die ventster te kon bestudeer). Die hele voortuin was versper deur takke en daar was geen ander uitweg, as om die boom heeltemal te verwyder nie.


En glo my - dit was ‘n storie.


Die tuindienste het ‘n paar dae geneem om die boom op te saag en weg te ry. Na ‘n lang geskukkel en vele kettingsae later, het hulle moed opgegee om die wortels uit te haal. Dit was bloot net te diep.


Ek het toe maar ‘n spesialis “boom-wortel-verwyderaar” gekontak wat lank terug sy besigheidskaartjie in ons posbus gegooi het. Die drie maer, seningrige-taai manne het ‘n hele dag met pikke en grawe gestoei totdat alles uit was.


Die gat is op die ou end toegegooi en net ‘n rukkie daarna, het die inperkings begin. ‘n Paar weke later het ek, (seker maar uit verveeldheid) gaan gras sade koop en die grond begin omspit waar die boom eens was. Laat middag was dit vir my ‘n ontvlugting om die saadjies nat te gooi (na ‘n hele dag in die huis) en stadig maar seker het die gras begin groei.


Maar, aanvanklik onsigbaar, het daar ook honderde klein doringboompies in die grond begin ontkiem. Die legacy van die boom is agter gelaat in ‘n oorvloed van nuwe klein groen blaartjies wat letterlik oral opgekom het.


Die stowwerige stuk grond (nou groen) en vol potensiaal met nuwe boompies wat wou wortel skiet. Stuk vir stuk moes ons hulle uithaal of uitplant in potte, om die nuwe gras ‘n kansie te gee om te groei.


In hierdie afgelope week ontdek ek weer afstammelinge van dié einste doringboom wat wegkruip in meer as een bedding en nou al klaar weer ‘n hele entjie gegroei het. Dit het my laat dink.


Aan die storm wat in my gewoed het en aan my “gedagte bome”. Aan konfrontasie: Die boom in my kop wat skaduwees gegooi het, sodat niks daaronder kon groei nie – Dit wat op die ou end net onvermydelik was: Ek moes uitvind waar die boom of saadjies vandaan gekom het en waarom ek toegelaat het, dat dit wortelskiet? Miskien was dit gedrag wat ek ook oorgeërf het? Soos ‘n saailing uit my kinderrtuin… Pansers of “Coping mechanisms” of gedrag wat ek aangeleer het? Dít waarmee ek myself beskerm het onder druk; wat nie toegelaat het dat iets anders daaronder kan floreer nie. Skerp dorings en diep wortels wat nogsteeds kwesbaarheid (vulnerability) as ‘n swakheid ervaar en nie hou van die ongemak om deur dinge te werk of dit te erken nie. Trots?


Soos die doringboom wat stilletjies groter en groter geword het totdat dit ‘n storm moes trotseer en uiteindelik gekonfronteer is met die werklikheid van ‘n swak wortelstelsel en takke wat nooit gesnoei is nie - moes ek myself konfronteer. Die boom wat my gedagtes oorheers het in mý storm, het die lewe onder hom doodgedruk. Ek moes dit stukkie vir stukkie opsaag en wegry… en bereid wees om nuwe gedagtes te saai en nat te gooi.


Ek het nie eens besef hoe diep die boom in my gewortel was, todat ek dit moes uitgrawe nie, maar soos met die doringboom, kon ek dit nie alles self doen nie. Die takke en dit wat op die oppervlak sigbaar was, was maklik, maar ek het ‘n spesialis nodig gehad vir die wortels.


En dit is OK.


Soms moet ons die harde werk van selfkennis saam met iemand aanpak. Iemand wat weet hoe om daardie wortel uit te grawe. En as die boom uitgekap is, beteken dit nie dat daar nie saadjies van die boom oorgebly het nie. Nee. Ek sal die grond moet dophou en die bekende blaartjies wat wil vorm-aanneem, dadelik moet uitruk en weggooi en sorg dat hulle nie weer wortel skiet nie. Ek moet hulle herken vir wie en wat hulle is en erken dat hulle myne is...


Ek sal my gedagtes moet gevange neem en hulle onderwerp aan die Een wat die sleutel en die graaf en die pik en alles in Sy hande hou om wortel en tak alles wat nie daar hoort nie uit te roei. Hy wat ook die nuwe saadjies gee en laat groei en vrugte dra.


Amen.



181 views0 comments

Recent Posts

See All

Toegerus