top of page
Search

Groen Karoo

The Cure for Anxiety

25 “Therefore I tell you, stop being worried or anxious (perpetually uneasy, distracted) about your life, as to what you will eat or what you will drink; nor about your body, as to what you will wear. Is life not more than food, and the body more than clothing? 26 Look at the birds of the air; they neither sow [seed] nor reap [the harvest] nor gather [the crops] into barns, and yet your heavenly Father keeps feeding them. Are you not worth much more than they? 27 And who of you by worrying can add one hour to [the length of] his life?


Vanoggend is ek bevoorreg om in die middel van nêrens wakker te word. Sonder ‘n selfoon sein en in absolute stilte. Ek staar oor die Karoo vlaktes na die silhoeëtte van klipkoppies en bossies. Die wêreld is groen. Selfs die groot berge in die agtergrond, wat altyd blouerig lyk, het vandag eerder ‘n donkergroen skynsel. Die nuwe lewe is oral sigbaar. Die veld lyk en ruik vars. Asof iemand skielik met ‘n groen kwas die harde, stekelrige, stowwerige blare kom afwas het en die sagte nuwe blare oornag laat verskyn het.


Die springbokkies in die veld, blink ook sommer in die vroeg-oggend son. Hulle lyk spekvet en gesond. Dit hét baie gereën. Die opdrifsels en plat drade getuig van die krag van die water wat daaroor gespoel het. En alhoewel daar diep groewe gekalf is in die modderige klei en sekere paaie onbegaanbaar is, voel dit asof die natuur ‘n sug van verligting sug. Water is amper ‘n heilige kommoditeit in die Karoo. Vars reën water (en met ander woorde ook drinkwater) is kosbaar. Vir alles en almal wat in dié dorre streek lewe en oorleef.


Ek kan my altyd verkyk aan die verskeidenheid van bossies en vetplante. Geharde insekte, klein diertjies (en grotes) wat almal hier tuis is. Klippe in al die kleure waaraan jy kan dink en as jy mooi kyk, fossiele van skulpe en seediere wat soos edelgesteentes sommer so gestrooi lê in die veld.


Hierdie harde stuk aarde het sy eie bekoring. Die stiltes, die yskoue nagte, warm dae. Donderstorms. Droogtes...maar my absolute gunsteling bly die ongelooflike sterrehemel. Die melk weg voel só naby dat dit my soos ‘n flikkerende blink kombers kom toevou. Van die een horison tot by die ander. Hier voel ek die teenwoordigheid van die Here, soos die geluid van my asemhaling wat in die stilte kliphard klink.


My oë kan net kyk en kyk en verwonderd staan oor die skoonheid. Die kontras van die beeldskone, ongerepte natuur met die ongenaakbare stryd tot oorlewing van alles wat hier leef.


Ek dink dit is presies hoe die lewe ook is! Kontras. Paradoks. Mooi maar hard. Reg maar moeilik. Goed maar ongemaklik. Verkeerd maar maklik?


Ek begin dit al hoe meer omarm: Die goed wat goed is en die sleg wat sleg is. Sonder om daarvan weg te skram of nie met oorgawe te geniet, of dit weg te steek of te ontken nie. Net vierkantig in die oë te kyk en te besef dat dit deel is van ons bestaan hier. As dit wat ek ervaar, iets van my vra (my trots, ego, eerlikheid, spontaniteit, durf, waagmoed, geduld, tyd, deursettingsvermoë) is dit tien teen een baie meer werd as dit wat ek net toelaat om te gebeur en dus niks kos nie.


Die prys is hoog wanneer dit waarde dra.


Ek besef dat dit, wat so hard en droog en eintlik heeltemal dood gelyk het, net soos die veld, weer na ‘n stortreën kan grasgroen, sag en vol lewe lyk! Al kos dit soms ‘n donderstorm of ‘n vloed.


Ek besef dat die sterre hemel weer naby kan voel en tyd, ten midde van ‘n malle gejaag, weer vir ‘n oomblik kan stilstaan om die mossies dop te hou wat beskuitkrummels kom aas op die stoep.


Dinge verander. Die droogtes en die donderstorms. Die winde en die stiltes. Oorvloed en te min. Al vier die seisoene in my lewe wat saam met hulle bring wat hulle bring.


Die Here bly getrou.


In dit alles.


Sela.





219 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page