Hebrews 11:1-3 (TPT) The Power of Bold Faith
1Now faith brings our hopes into reality and becomes the foundation needed to acquire the things we long for. It is all the evidence required to prove what is still unseen. 2This testimony of faith is what previous generations were commended for. 3Faith empowers us to see that the universe was created and beautifully coordinated by the power of God’s words! He spoke and the invisible realm gave birth to all that is seen.
Nou dat die kinders ‘n bietjie groter is, het Saterdae-oggende vir my ‘n baie spesiale bekoring. Vroeg oggend word daar gewoonlik geskarrel om fiets te gaan ry (en ek bedoel VROEG), maar daarna daal daar ‘n hemelse stilte op die huis neer terwyl my dogter nog slaap en die manne die pad gevat het.
Vanoggend waai daar ‘n warm berg wind deur my venster. Die afgelope week was warm. Snaaks as ‘n mens dink dat dit amper middel Junie is, maar dit is ‘n jaarlikse verskynsel wat my elke keer verbaas. Die warm weer en briesie voorspel die koue wat voorlê. Die stilte voor die storm wat glo Maandag op pad is.
Buite my venster ritsel die blare elke nou en dan. My gordyn haal stadig asem, saam met die warm wind. Ek sit en kyk en voel hoe my asemhaling al hoe dieper raak soos die gordyne uitbol en terug trek. Saterdag. Geen verwagtings of verpligtinge vandag nie. Net ‘n skoon bladsy. Wat ‘n voorreg.
En net so intimiderend soos ‘n skoon bladsy kan wees, net soveel potensiaal is daar in hierdie nuwe dag. Ek dagdroom. En ek raak opgewonde.
Vir die eerste keer in ‘n lang tyd begin die optimisme in my groei. Daar is nog soveel om na uit te sien in hierdie lewe. Verder as die hier en die nou. Wat hou die toekoms vir ons in? Watter avonture gaan ons nog beleef? Ek maak die doemprofeet in my gedagtes stil en laat myself toe om die opgewondenheid in my binneste te koester. Ek dink ek vergeet somtyds hoe om weer opgewonde te raak oor dinge. Om regtig myself toe te laat om uit te sien na iets. Ek besef dat my ervaringe, rasionele denke en teleurstellings ‘n (versigtige) demper kan plaas op die toekoms. Veral na die onvoorspelbaarheid van die afgelope tyd.
Dit maak dat ek maar net elke dag opdaag - en die lewe as’t ware met my gebeur. Sonder dat ek ‘n aandeel daarin het. Ek vergeet soms dat ek kan kies: Om uit te sien. Om te hoop. Om te glo.
Want om te glo is om te hoop op dit wat ons nog nie kan sien nie.En wat help dit nou eintlik om die slegste te verwag? Berei dit my voor vir wat vir my voorlê? Of steel dit net die vreugde van die oomblik waarin ek nou is?
Om uit te sien, ‘n goeie verwagting te hê en te ‘hoop op die goeie’, is ‘n risiko. Veral wanneer ek hierdie opgewondenheid met ander om my deel. Daar is altyd die kans dat dinge nie gaan uitwerk soos ek gedink het nie, maar ek wil myself toelaat om weer uit te sien na die toekoms.
Emosionele veerkragtigheid kan net geoefen word wanneer ek teleurstellings moet hanteer. En dit is nie nodig om die spreekwoordelike “bobbejaan agter die bult” te gaan haal om dit te doen nie.
Nee. Die lewe gee vir my genoeg geleenthede om hierdie veerkragtigheid te oefen.
Ek wil eers net bo-op daardie bult staan en die sonsopkoms waardeer en inneem. Ek wil die strale voel op my vel soos die warm wind in my kamer en uitsien na dit wat agter die bult lê.
En as daar dan ‘n bobbejaan daar wegkruip. Wie weet wat met my en Kees kan gebeur? Dalk het ons die avonture van ‘n leeftyd!
Ek glo en daarom sal ek hoop en uitsien.
Soos Corrie ten Boom gesê het: “Never be afraid to trust an unknown future to a known God”
Amen.
Comments