top of page
Search

Evolution Pearl

Revelation 21:21

The twelve gates were twelve pearls, each gate made of a single pearl. The great street of the city was of gold, as pure as transparent glass.


Afwerkings… Dié gedeelte in die bou proses waaroor al die kontrakteurs en vorige bouers, eienaars en ontwikkellaars jou waarsku. “Dit is hier waar die eintlike kostes lê” het ek baie keer gehoor wanneer ek afwerkings moes kies – en dit was vir my moeilik! Nie net omdat ek graag die begroting wou laat klop nie, maar ook omdat daar net so baie opsies is! Ek onthou hoe ek letterlik vir ure voor die lessenaar van die verkoopspersoneel by Bathrooms 4 U gesit en wik en weeg het oor elke klein dingetjie. Dit moet mooi wees, inpas by die tema en nie té duur nie, maar goeie kwaliteit?


In die stilligheid het ek net gebid…oor alles.


Die dag toe ek die vloerteëls moes kies, kon ek onthou hoe ek deur die voorbeelde geblaai het tot by ‘n groot 1200mm x 600mm porselein teël: “Evolution Pearl”. Dit het my laat dink aan ‘n stukkie wat ek in 2015 geskryf het oor pêrels. Dadelik het ek gevoel hoe ek vrede het. Pêrels is kosbaar al kom hulle met ‘n prys. Die vloere sal bedek word met pêrels.


Ek deel my stukkie van 8 Julie 2015:


Om “‘n klippie in die skoen te hê” is ongemaklik. Die meeste van ons kan ongemak redelik goed hanteer - as dit tydelik is. Maar dis die herhaling van die ongemak wat die irritasie veroorsaak. Soos ons tuimeldroeër se hartseer: "kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee" wat die kenwysie van koue, reënerige dae in ons huis geword het. (As dit nou ‘n ou tuimeldroeër was, kon ek dit dalk nog verstaan, maar dié kermkous is maar skaars ‘n jaar oud! Met ‘n “sagte” siklus kamtig ingebou, wat soos die winter aanstap, al hoe minder sag word…)


Daar is waarskynlik, soos met die klippie in my skoen, ‘n eenvoudige oplossing vir die skawende-staal-liedjie wat die tuimeldroeër sing. Ek vermoed dit is so eenvoudig soos olie. ‘n Buffer tussen die onderdele wat mekaar (my!) so skaaf. En ek vermoed dat dit ook die oplossing is, vir die meeste irritasies in ons lewens, groot en klein…Olie.

Vars olie in ons lampies en ‘n salwing om ons skaniere weer goed aan die werk te kry. ‘n Buffer wat wat ons nodig het, om ons teen die wrywing van die lewe te beskerm, want sonder so ‘n buffer is ons soos staal op staal. Ons verweer mekaar en belemmer eintlik ons eie funksionaliteit.


Ons het in die eerste plek die Gesalfde nodig. Christus Jesus, wat letterlik “om gesmeer te wees” beteken. Jesus, wat drup van God se Teenwoordigheid en Sy Heilige Gees wat ons ook Gesalfdes maak. Ge-olie en gerat vir dit wat oor ons pad mag kom.


Dat daar wrywing oor ons pad gaan kom is ‘n feit. Ons kan dit nie vermy nie, maar wanneer ons ge-olie is, is die irritasie soos ‘n sandkorreltjie binne in ‘n oesterskulp. Die irritasie wat afvryf aan die binne-kant van die skulp, vorm (in plaas van ‘n letsel), ‘n volmaakte pêrel. ‘n Kosbare skat uit dit wat eintlik veronderstel was om skade aan te rig. Soos die irritasies ons binnekom, laat ons Hom toe om daaraan af te vryf, stukkies van ons binneste af te skaaf, todat dit wat oorbly volmaak is, al is dit ongemaklik. Hy is besig met ‘n meesterstuk en dit vat tyd.


So, mag ons vandag ons irritasies olie. Mag die Heerlikheid van Christus die gesalfde en die Heilige Gees afvryf en pêrels vorm in ons binneste waar daar dalk klippe vassit, sodat dit wat gestuur was om letsels te bring, ‘n kosbare juweel word.



Sela.


119 views3 comments

Recent Posts

See All

3 Yorum


Matthew 13:46

Beğen

Welmarie - You are one Pearl of great price- God treasure you completely! 🕊

Beğen
Şu kişiye cevap veriliyor:

Dankie Corné! 🥰

Beğen
bottom of page