top of page
Search

Ek het jou.

Isaiah 41:10 AMP

Do not fear [anything], for I am with you; Do not be afraid, for I am your God. I will strengthen you, be assured I will help you; I will certainly take hold of you with My righteous right hand [a hand of justice, of power, of victory, of salvation].’


Hierdie week was ek so bevoorreg om my ouers vir ‘n tydjie in Stellenbosch te hê.

Hulle bly vêr. So vêr dat dit redelike beplanning kos om te gaan kuier en dan is dit gewoonlik ook nie sommer net vir ‘n naweek nie. Die reis moet gewoonlik die moeite werd wees. ‘n Naweek is net te kort, alhoewel ek weet my Pa nie sou saam stem nie. Met die “Totsiens” vanoggend op die lughawe het hy my herinner dat dit net ‘n halwe dag se reis vêr is, om by hulle uit te kom. Ek kon maar net glimlag. Ek wens eintlik hulle was nader en dat ek sommer net by hulle kon inval, maar vir nou is “geskeduleerde kuiers” die beste wat ons kan doen.


Terwyl hulle hier was, om my Sussie se kinders op te pas vir ‘n rukkie, het ek en my dogter een oggend gou gaan inloer. My Pa was dadelik baie entoesiasties om een van sy beeldhouwerke vir my te wys wat hy saamgebring het; twee hande wat mekaar vashou: ‘n Stewige greep. Hy verduidelik toe dat die beeldhouwerk ‘n uitbeelding is van die skrifgedeelte in Jesaja 41.


Toevallig het ek vroeër die week ook hierdie einste skrif raak gelees en op my Instagram gesit: Die belofte van die Here om ons vas te hou: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (JESAJA 41:10 AFR83)


Ek besef dat dit dalk in die konteks van oorlog (of so iets) geskryf is aan die Israeliete van die Ou Testament, maar hierdie week het dit vir my gevoel asof dit spesifiek vir my gestuur is om my te bemoedig in ‘n ander tipe vrees wat ek moet oorkom. Die vrees vir die onbekende. Die vrees om regtig net in te spring en te doen wat ek al jare lank voel ek moet doen. Om berekende risiko’s te neem en die droom in my hart, regtig na te jaag.


Daar is soveel onsekerhede wat ek nog sal moet uitpluis in die jare wat voorlê, maar dit was net asof die Here self vir my deur hierdie versie kom sê het: “Spring net. Ek is jou God en ek sal jou help. Veral daar waar jy voel dat jy swak is, sal Ek met my eie hand jou vashou en jou red.”


Hoe ongelooflik om te weet dat my Hemelse Vader, my aardse Pa kan gebruik om weer vir my moed te gee, om dit waarvoor ek lief is met al twee hande aan te gryp en te doen en terselfdertyd te weet dat Hy self daar sal wees om my vas te hou.


Hy sê so spesifiek: “moenie bang wees nie.” So wat is dit waarvoor ek bang is? Dat ek miskien nie genoeg geld gaan maak nie? Dat ek nie genoeg talent/ondervinding/ tyd of vaardigheid het om te doen wat ek moet nie? Dat dit wat ek aanpak nie suksesvol gaan wees nie? Of dat niemand daarvan gaan hou nie? Dit klink vir my al hoe meer soos stemme wat teenstrydig is met die droom in my hart. Stemme uit die kamp van die vyand wat die oorlog in my gedagtes wil wen en my weereens lam wil lê. Twyfel en vrae is seker geldig, maar ek kan nie toelaat dit harder praat as die Stem wat sê: “Ek help jou, Ek hou jou vas,” nie.


Want.


Ek het al geleer dat Sy genade nie net vir my genoeg is nie, maar MEER as genoeg. In my swakheid is Hy sterk en daar waar dit vir my voel asof ek heeltemal uit my diepte is, kom HY en loop op die water.


Ek wil Sy regterhand vashou. Stip in Sy oë kyk en dit glo as Hy vir my sê: “Ek versterk jou. Met my eie hand red ek jou. Ook in die oorlog van jou gedagtes. Ek is by jou. Spring. Ek het jou.”


Amen.



336 views1 comment

Recent Posts

See All
bottom of page