Search

Dit wat jy het...


2 Corinthians 9:7 (Amplified Bible)

7 Let each one give [thoughtfully and with purpose] just as he has decided in his heart, not grudgingly or under compulsion, for God loves a cheerful giver [and delights in the one whose heart is in his gift].


Dit is seker maar instink om in moeilike -of droogte tye vas te wil hou aan dit wat jy het, maar wanneer ek nie kan gee nie, voel ek net asof ek nog minder het. Te min om iets weg te gee laat my arm voel.


Ek onthou nog so goed hoe ek eenkeer in die Pastorie my Pa en ‘n ander Oom hoor gesels het oor “gee”: Die oom wou weet of hy nou van sy Netto of Bruto inkomste moes weggee en wat die Bybel daarvan sou sê...? My Pa se antwoord was dat die Here ‘n blymoedige gewer liefhet en dat die Oom dalk eerder vir homself moes vra waarom hy dié vraag vra?


Dit het my altyd bygebly en laat besef dat vrygewigheid en ‘n lewe van oorvloed eerder ‘n ingesteldheid is, as ‘n bank balans of ‘n berekening.


My Ouma was so ‘n ongelooflike goeie voorbeeld hiervan! Dit was seker hier waar my Pa van vrygewigheid geleer het, want sy het nooit vreeslik baie aardse besittings gehad nie, maar dit wat sy gehad het, het sy met almal om haar gedeel.


Sy kon ons só spesiaal laat voel met die bietjie wat sy gehad het. Soos die manier waarop sy ons bederf het op pad see toe van Pretoria af. Gekookte kos en gemmerbier met poeding en (ons kleinkinders se grootse uitsien) ‘n paar van die lekkertjies op haar buffet tafel: Glas potjies met soetgoed wat net so spesiaal soos Ouma was.


Bottels konfyt, ingelegte vrugte, anysbeskuit en die pragtigste baba truitjies en klere vir ons poppe is in ons hande gestop voor ons verder kon ry.


Ouma se kuiertjies in haar derde verdieping woonstelletjie was vir ons soos ‘n oase op die lang pad wat ons weer moed en krag gegee het: Moed vir my Ma’le (vir die drie woelwater kinders op die agterste sitplek) en krag vir ons kinders (wat vir die volgende drie ure na panfluit musiek moes luister...)


Ouma het nooit te min gehad om te deel nie, sy het maklik gelag, was altyd reg vir ‘n grappie en ‘n speletjie en bereid om te help waar sy kon. Vrygewig met haar besittings, maar ook met haar tyd en omgee.


Ek vermoed dit is hier waarin die sleutel van ‘n lewe van oorvloed lê: As jy dankbaar is vir beker wat jy het, al is hy klein, loop hy maklik oor…


Wanneer dit maar raap en skraap gaan, is ek nie noodwendig lus om vrygewig te wees nie, maar ek weet dit maak my vry. As my hand oop is om te gee – al is dit min – is hy oop! Dan kan my vrygewige Hemelse Vader weer oorvloed daarin terugsit: Al is dit net ‘n oorvloedige vreugde en vrede in my hart.


Ek deel met jou my gedig oor die "Vyf brode en twee vissies” en as dit dalk ook vir jou voel asof jy niks het om te gee nie – mag ek en jy dit wat ons het, in Sy hande sit en sien hoe Hy dit wonderbaarlik gebruik...


Visserskind


Ek wonder hoe het jy gevoel

Daardie dag toe Hy staan

In die aandlug se koel

En jy

‘n Klein seuntjie

met ‘n hemelse doel

Toe Sy oë vir jou glimlag

asof Hy weet

En jy dalk eers jou geskenkie

se waarde wou meet

Toe die Man wat diep in jou siel inkyk

Jou eenvoudige kinder-kosblik gebruik

Om vir al die baie (duisende) mense

Siekes, gesondes, dromers, wensers…

Hulle honger na lewe en iets wat kan voed

Kom aanspreek en heelmaak en weer moed

Uitdeel vir ‘n nuwe werklikheid

Een van oorvloed en liefde en dankbaarheid

Toe Hy sê: “ Bring wat jy het. Dit is Genoeg.

Ek kán jou gebruik.

Ek plant.

Jy oes.”


Amen.




116 views0 comments

Recent Posts

See All

Familie