top of page
Search

Die X-faktor

But God now unveils these profound realities to us by the Spirit. Yes, he has revealed to us his inmost heart and deepest mysteries through the Holy Spirit, who constantly explores all things.


Daar is min dinge wat my hartsnare so kan roer, soos ‘n goeie stukkie musiek. Ek kan sommer voel hoe my gemoed meegesleur word in die melodieë en lirieke. My gunstelinge is daardie liedjies wat oor die jare heen gekoppel is aan sekere herinneringe en my terug neem in tyd en ruimte. Ek hou daarvan om saam te kan sing en die woorde my eie te maak. (Dié dat ek nie meer so gretig luister na die alternatiewe rock waarvan ek gehou het in die 90’s nie. Ek dink my perspektief het so bietjie geskuif deur die jare...al is daar ‘n paar uitgesoekte kunstenaars wat altyd in my speellys sal bly).  


Ek geniet dit ook om saam met my kinders na hulle gunstelinge te luister. Daar was definitief treffers wat oor en oor in die motor geluister is, op pad skool toe of waarheen ook al. Die reël was net, dat ek moet kan saam sing. As die lirieke van so aard is dat ek dit nie my eie kan maak nie, word die liedjie oorgeslaan. (Of jy kon daarna luister op jou oorfone, as jy nou regtig wou).


Ek hou ook daarvan om musiek aan te sit as ek werk of kosmaak. Daar is met ander woorde,  meeste van die tyd, êrens musiek in ons huis (of motor) wat speel.

Sekere van my gunsteling liedjies, ken ek al so goed, dat ek presies weet waar die kunstenaar asemhaal of stop. Hoe die intonasie klink en watter note langer uitgerek word om ‘n sekere gevoel oor te dra.


Maar.


Dan is daar dié kere wat ek ‘n ou treffer ontdek (gewoonlik per ongeluk) wat op ‘n nuwe manier geïnterpreteer word en my totaal en al verras!

Soos die geval was met die oudisie van ‘n Noorweegse man in die televisie reeks “ The Voice”: Jorgen Dahl Moe. Sy weergawe van die baie bekende Dancing in the Dark van Bruce Springsteen, het al die beoordelaars en natuurlik die miljoene mense wat daarna op die internet gekyk het, diep aangeraak. Die trane vloei en daar is ‘n amper heilige stilte terwyl hy sing. Sy weergawe gee ‘n mens kans om regtig na die lirieke te luister. En dit is hartroerend en hartseer. Iets wat dalk in die oorspronklike weergawe ‘n bietjie verlore gegaan het? Die deernis waarmee die woorde hanteer word, dra die boodskap daarvan, volgens my – net soveel beter oor.


En dit het my laat dink aan kunstenaars wat die vermoë het, om nie net ‘n liedjie te sing nie, maar regtig met my siel te praat. Daar is net iets besonders aan die gebeur, wanneer ek voel dat  iets nie bloot net met “kop kennis” aangepak word nie, maar wanneer ek die uniekheid van daardie spesifieke kunstenaar kan beleef. Talentvolle kunstenaars, wat tegniek en vaardigheid so bemeester het, dat hulle die vryheid het om hulself ten volle uit te leef in die uitdrukking van hulle kreatiewe talente. Iets hoër of buite dit wat as “goed genoeg” beskou kan word. Braaf, uniek en steeds uitstekend. Daardie x-faktor, waarop niemand regtig hulle vinger kan druk nie.


So, het dit my laat speel met die gedagte, dat ek ook al die kennis in die wêreld kan hê, oor wat dit behels om my geloof te beoefen. Ek kan die Bybel uit my kop uit ken en al die goeie gewoontes getrou doen en selfs voel dat ek ‘n goeie geloofslewe lei, maar sonder die Heilige Gees (die X-faktor)  en Sy openbaring daarvan, bly dit net kennis. Dit soos om ‘n baie bekende liedjie oor en oor te luister, totdat dit later net agtergrond musiek word.


Daardie X-faktor, verander alles. Wanneer ek die Gees toelaat, om ‘n nuwe vars weergawe vir my te sing: met deernis, passie en intonasie waarvan ek nie eers gedroom het nie, kry hierdie bekende liedjie totaal en al nuwe betekenis . Dit spreek tot in my diepste hartskamers. Dit kry ‘n bo-natuurlike dimensie wat ek nie vir iemand kan verduidelik anders as om net  vir jou uit te nooi om self dit te beleef nie. Musiek waarvoor ek wil gaan stilstaan,  my oë wil toemaak en elke woord wil indrink.


Hierdie weergawe, laat my toe om die Skrywer se hart raak te sien en alhoewel die lirieke dieselfde bly kan ek Hom toe laat om ‘n kitaar solo in te werk, om met my spesifiek te praat, wanneer Hy wil. Die vloer en my hart is dan Syne.


"You can't start a fire without a spark".


Sela.


(As na die besonderse oudisie wil kyk, is die link hieronder)





98 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page