top of page
Search

Die Weg

Writer: Welmarie Janse van VuurenWelmarie Janse van Vuuren

John 14:6 TPT

Jesus explained, “I am the Way, I am the Truth, and I am the Life. No one comes next to the Father except through union with me. To know me is to know my Father too.


Ek weet nie van jou nie, maar daar is definitief  areas in my lewe waar ek al meer as een keer my kop gestamp het. Of dit nou is in verhoudings is met my geliefdes, my finansies, eetgewoontes of wat ook al. En dit laat my dink aan daardie gesegde wat sê: “om iets oor en oor op dieselfde manier te doen, en ‘n ander resultaat te verwag, is malligheid”


Daar is gewoontes in my lewe wat ek amper blindelings doen, of net aanhou volg en wat op die ou end nie goeie uitkomste het nie. Nie vir my nie en ook nie vir die mense om my nie. In my geestes-oog sien ek, hoe ek om en om om dieselfde berg stap en my toon op dieselfde klip stamp. My hare haak aan dieselfde tak as die laaste keer wat ek hierdie roete gekies het en dit is net asof ek net nie my les leer nie!


As dit twee keer gebeur, is dit dalk nog ok. Maar as dit iets is wat homself herhaal en herhaal en amper soos ‘n “default setting” raak in my lewe, moet iets verander! En soos Petrus voel ek dan dat dit wat ek wil doen, ek nie doen nie en dit wat ek nie wil doen nie, dit doen ek! So, wat is die oplossing uit hierdie doolhof om en om dieselfde berg?


‘n Nuwe Weg.


Ja, ek dink nie dit is verniet dat Jesus na Homself as die ‘WEG, die Waarheid en die Lewe’ verwys het nie.


Die lewe saam met Hom is ook ‘n pad. Soos die ou liedjie sê: “Soek allereers die Koninkryk van God, soek na die wil van die Heer, dan sal Hy jou paaie gelyk maak...” maar gelyk pad beteken nie plat pad nie. Hierdie pad kan ook soms steil wees. Somtyds kan dit ook tot diep in ‘n vallei lei, wat my laat wonder of dit die regte pad is? Maar een ding is verseker ek leer om nie meer om die berg te stap nie, maar eerder bo-oor. Saam met Hom bereik ek nuwe hoogtes en van hier bo af, kry ek ‘n nuwe perspektief oor ‘n klomp dinge. Ek kan dalk ook terug kyk en sien hoe die ou uitgetrapte paadjies van my lewe diep om die berg lê en in my hart dankbaar wees, dat ek die nuwe Weg gekies het.


Hy is ook die Waarheid. Op hierdie nuwe  pad saam met Hom word daardie klippe en takke waaraan ek haak ontbloot. Ek leer om in die Waarheid te bly en Hy in my.


Hierdie Weg en die Waarheid, lei dan na die Lewe. Want Hy ken die pad oor die berg en Hy weet wat aan die anderkant en langs die pad vir my wag. Hy het immers gekom sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed!


Mag ek vandag die Weg kies en die Waarheid en nie op my ou gewoontes en my eie vermoë staat maak nie. En wanneer ek per ongeluk weer op ‘n afdraaipad beland, mag ek weet dat Hy ook daar by my is en net soos my Google Maps, net eenvoudig weer die roete na die regte Pad vir my kan wys.


Ek wil Hom volg, want hierdie Weg en die Waarheid lei na die Lewe. Ja, oor die berg van hierdie lewe tot in die heerlikheid van die Ewigheid saam met Hom.


Amen.




 
 
 

Comments


Subscribe Form

Thanks for submitting!

0729977023

©2021 by Beloved ♥ Geliefd. Proudly created with Wix.com

bottom of page