Proverbs 4:23 TPT
So above all, guard the affections of your heart, for they affect all that you are. Pay attention to the welfare of your innermost being, for from there flows the wellspring of life.
Vandag lees ek weer (vir die soveelste keer) die gedeelte in Jesaja 39 oor Koning Hiskia wat alles in sy skatkamers aan die besoekers uit ‘n vreemde land gewys het. Hulle het vêr gereis om hom te besoek (na sy siekbed) en vir hom ‘n brief en geskenke gebring. Elke nou en dan ervaar ek dat ek dit weer moet lees – en ek wonder: Wat wou hy bereik het hiermee? Wou hy hulle beïndruk? Of dalk net vir hulle laat tuis voel het? Was hy eensaam? Was dit ‘n manier om sy invloed en mag ten toon te stel? Dit maak nie lekker sin vir my nie? En hoekom ervaar ek dat ek dit weer en weer moet lees? Hoe is dit van toepassing op my lewe? Doen ek ook dit?
En dan - terwyl ek deur Facebook blaai, sien ek dat drie van my skoolvriende-paartjies onlangs geskei is. Dit ruk my tot stilstand. Ek het nie geweet nie. Hulle was dan so perfek vir mekaar? Ons is kamtig “vriende” en ek is seker dan veronderstel om te weet? Foto’s is uitgevee, familie (aan albei kante) word beskryf as steunpilare in ‘n moeilike tyd. Daar is ‘n subtiele modder gooi en rasionalisering. Verskonings en verduidelikings, aantygings, weggesteek in “standpunt aanhalings” en sarkastiese grappies. Pyn en verlies. Harte is stukkend en dit wat diep weggebêre was, in die skatkamers van huise, word aan die besoekende vreemdelinge ten toon gestel. Ek onthou van koning Hiskia en ek voel soos ‘n vreemdeling wat in die skatkamer ingenooi is. Ek wonder oor die skatte. Daardie hartskamer dinge wat vreemdelinge (soos ek) dalk liefs nie moes sien nie?
Want wat weet ek nou eintlik van dit wat regtig gebeur het? Ek sien hierdie mense nooit. My herinneringe is van ons skool dae – meer as 25 jaar gelede! Ek kan afleidings maak en my eie gevolgtrekkings, maar dit is so bitter gevaarlik. Wat maak ek met hierdie inligting? Hoe kan ek met ‘n one-liner regtig sê hoe jammer ek is en empatie toon? Dit voel so oppervlakkig en ontoereikend. Ek wens eerder ek kon saam met jou huil en jou hand vashou. Of vir jou kos bring of so iets? ‘n “Comment” op ‘n foto mag dalk my gewete sus, maar bring dit regtig troos? En kan dit die gewig dra van dit wat jy gedeel het? Terwyl ek aanbeweeg en 10 sekondes later lag vir ‘n snaakse kat video?
Ek wil myself daaraan herinner dat hierdie tipe skatte van my hart, vir die mense is, wat in my paleis woon. Wat elke dag saam met my die lewe, léwe. Die hoogtes en die laagtes. Wat nie skrik vir my oggend-gesig-sonder-make-up nie en saam met my kan fees vier, huil en bid en lag. En al het ek hoeveel ‘vreemdeling-vriende’ en kennisse is daar is nie baie van hierdie Hartskamer VIPs nie.
Hulle is die mense wat deur tyd en verhouding, my vertroue gewen het. Wat die PIN kode van die skatkamer ken en dit net so goed soos ek kan bewaar.
Ons is gemaak vir konneksie, dit is in ons elkeen se DNA ingebou. Dit is die waarheid: ons is tropdiere, wat na mekaar moet omsien. Ek wens net ek kon jou eerder in die oë kyk as ‘n post like terwyl my hart saam met joune breek...
Dalk is dit tyd om mekaar weer regtig te leer ken, sodat ons nie soos ‘n vreemdeling voel nie, maar hart- en skatkamer mense is, wat die reg tot die PIN na jou hart verdien het, die paleis respekteer en die skatte wat jy deel saam met jou kan vashou en bewaar.
Skatte wat veilig in die skatkamer hoort.
Sela.
Comments