top of page
Search
Writer's pictureWelmarie Janse van Vuuren

Dankbaarheid

Philippians 4:6-7


6 Do not be anxious or worried about anything, but in everything [every circumstance and situation] by prayer and petition with thanksgiving, continue to make your [specific] requests known to God. 7 And the peace of God [that peace which reassures the heart, that peace] which transcends all understanding, [that peace which] stands guard over your hearts and your minds in Christ Jesus [is yours]. (Amplified Bible)


Vandag is dit weer yskoud, soos dit baie dae op die bou-perseel was. Ek onthou hoe ons vroeg (nog amper donker) oopgesluit en reggemaak het vir die dag. En ek onthou hoe totaal-oorweldig ek meeste wintersoggende gevoel het.


Dinge gebeur altyd gelyk wanneer ‘n mens bou en alle prosesse is verbind aan mekaar. Soos ‘n reuse ketting-reaksie. “Multi-tasking“ is ‘n gegewe vir ‘n projekbestuurder en (ek dink dalk anders as meeste vrouens) sal ek ruiterlik erken dat dit nie een van my sterk punte is nie. Ek raak verdiep in dit waarmee ek besig is. Partykeer tot só ‘n mate dat die wêreld om my kan vergaan en ek totaal onbewus is daarvan. Dit is natuurlik nie ideaal in die bouwêreld nie. So, ek moes leer konsentreer en teenwoordig wees.


Hier was my man se raad om presies neer te skryf wat elke dag gebeur, ongelooflik waardevol. Ek het elke oggend my dagboekie uitgehaal en begin by wie almal opgedaag het vir werk. Soveel arbeiders, soveel messelaars, hoe die weer gelyk het, wie almal gesê het dat hulle daardie dag wat ook al sal doen ens. ‘n Bou Joernaal.


Dit was later soos ‘n ritueel: sluit oop en skryf neer… en sê dankie


Ek dink uit desperaatheid en ‘n behoefte daaraan om te voel dat ek bo die golwe van die dag my kop sal kan lig, het dit spontaan gebeur. Dalk emosionele “instink” om die spanning van te verlig? Die Heilige Gees? Ek weet nie, maar op ‘n manier, het ek ‘n punt daarvan gemaak om dankie te sê. Elke oggend. Wanneer ek uitklim en oopsluit en al die manne besig is om in die skeepsvrag-houer hulle werksklere aan te trek, het ek tot agter in die tuin gestap en dankie gesê.


Dankie vir die geleentheid om te doen wat ek nog altyd wou. Dankie vir mense wat bereid is om my te help. Dankie vir die voëls in die boom. Dankie dat die modder nie so pap is vandag nie. Dankie dat die bakstene net betyds afgelaai is gister. Dankie.


In die afgelope jaar en veral in die tyd van imperking, het die Here my weer kom herinner aan die krag wat daar in dankbaarheid is.


Vir alles en in alle omstandighede. Daar is altyd iets en dit kan jou kop bo die golwende waters hou.


Ek deel met jou my "Lockdown" skets en herinner ook myself om vandag in Dankbaarheid te lewe.


Sela.


61 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page