top of page
Search

Bos-Vitamines

Philippians 4:7 And the peace of God, which transcends all understanding, will guard your hearts and your minds in Christ Jesus.


Hier waar ek nou voor my rekenaar sit, is dit moeilik om te glo dat ek laas week hierdie tyd langs ‘n kampvuur, doer bo in die Noorde van ons land, gesels en grappies gemaak het. Die vakansie was so ongelooflik lekker (en nodig), maar soos altyd - net heeltemal te vinnig verby!


Ek hét intensioneel probeer wees. En ek hét elke oomblik probeer inneem en in my hart gebêre, maar helaas het die sekondes bly verby tik en nou is daar al klaar weer ‘n week wat voor my lê met ‘n oorvol skedule. Deels omdat ons weg was en deels omdat ek net vir heeltemal te veel goed ja sê, maar ek verruil die rustige tydjie in die Bosveld vir niks nie!


Daar is maar net iets anders daaraan om in die veld te wees. Ek en my man het al twee grootgeword met gereelde vakansies in die Wildtuin en wanneer die Kaapse winter op sy ergste is, verlang ons na die droë warm middae van die Laeveld. Die reuk van hardekool vure en braaivleis. Die ysige koue in die oggend en lou warm wintersonnetjie. ‘n Potsierlike kameelperd wat uit die hoogtes nuuskierig kyk na die verbygaande voertuie en amper in “slow motion” begin draf wanneer dit lyk of die gevaar dreig. Alles wat kurkdroog voel: my hande, my lippe, die gras langs die pad en die boomtakke wat met die mooiste skakerings van grys en groen pastelle die agtergrond skep waarin die natuur stillewes verf. ‘n Neus horing voël met sy kenmerkende flap-en-sweef- en- duik toertjies. Die mooiste swart silhoeëtte teen die diep rooi en oranje sonsondergange. Wildsbiltong en padkos. Alles dinge wat ek graag wil saamvat in die komende wintermaande in. Soos “bos-vitamines” om my deur die werksdag agter ‘n skerm en yskoue kantoor, deur te dra en my verbeelding se immuniteit in stand te hou.


Een van die hoogtepunte van die vakansie was ons tydjie op ‘n jagplaas waar ons ‘n hele oggend in die “hide” of wegkruip-skuiling van die jagters gaan sit het en bloot net die diere dopgehou het. Dit is op ‘n stellasie gebou langs ‘n watergat. Aanvanklik was die enigste diertjie wat ons gesien het, die boompadda wat ongenooid op my stoel gesit het. (Ek gril my morsdood) Maar, nadat ons hom mooi verwyder het en ‘n hele tydjie doodstil gesit het, het die diere stadig maar seker begin terug kom. Eers die voëltjies en toe ‘n alleenloper bobbejaan, ‘n massiewe trop rooibokke, koedoes, blou apies en die “rebelle” van die bos - die vlakvark familie. Met hulle orent stertjies en punk maanhare het hulle nes ‘n biker bende gelyk wat kom water drink het.


Ek het my verkyk aan die dinamika tussen die diere en gewonder watter intriges daar in elke trop is? Een van die rooibok ramme was lekker kwaai en wou nie toelaat dat die res drink wanneer hy besig was nie. Ek het gewonder hoe hulle rang orde werk? En of daar ook maar politics in hulle kampie is..?


Die heel mooiste was die Waterbokke. Na seker omtrent ‘n uur van doodstil sit, het hulle stadig maar seker al hoe nader gekom. Die oulikste klein baba bokkie, heel eerste. Hy het kompleet soos ‘n donserige donkie gelyk met die grootste ore. Die groter bokke was versigtig en eers nadat hy gedrink het, was hulle bereid om in die water in te stap en te drink. Nog steeds op hulle hoede.


Dit is een ding wat al die diere in gemeen gehad het om die watergat – die kleinste geritsel of vreemde geluid, het almal laat spaander. Soms kon ons glad nie eens sien of hoor wat dit was wat hulle laat skrik het nie, maar dit was duidelik - hoe rustig die toneel ook al voor ons gelyk het, was dit glad nie so rustig vir die diere nie. Terwyl hulle water gedrink het, was hulle kwesbaar en hulle kon nie een oomblik ontspan nie. Gevare het gedreig om elke hoek en draai.


Terwyl ek uit die gemak van my stoel, in die veilige skuiling sit en kyk het na die gespanne trop waterbokke, het die skrif by my opgekom van Jesaja 26:3 “You will keep in perfect and constant peace the one whose mind is steadfast [that is, committed and focused on You—in both inclination and character], Because he trusts and takes refuge in You [with hope and confident expectation].4Trust [confidently] in the Lord forever [He is your fortress, your shield, your banner], For the Lord God is an everlasting Rock [the Rock of Ages].


Wat ‘n belofte! Die Afrikaanse vertaling sê dit so: “U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is. 4 Vertrou deurgaans op die Here, want die Here God is vir altyd ’n veilige toevlug.”


Anders as die onrustige waterbokke het ek vir altyd ‘n plek om in weg te kruip en ek hoef nie oor my skouer te loer nie. Nee, ek kan fokus op die Lewende Water, my dors les en diep drink.


Perfekte Vrede wanneer ek my gedagtes op Hom rig! My veilige skuiling en toevlug in hierdie beton oerwoud vol angs en senuweeagtigheid. Ja, dit is wat ek in my hart en gedagtes wil bêre en meer as net die mooi tonele en herinneringe van die “Bos-vitamines”, wil ek elke dag hierdie vrede saam met my vat in die nuwe kwartaal in.


Hier in Stellenbosch en die bos van my hart en my lewe.

Die Vrede (en skuiling) wat alle verstand te bowe gaan.


Sela.





117 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page