Isaiah 61:3-4
"To all who mourn in Israel, He will give: beauty for ashes; joy instead of mourning; praise instead of heaviness. For God has planted them like strong and graceful oaks for His own glory.4 And they shall rebuild the ancient ruins, repairing cities long ago destroyed, reviving them though they have lain there many generations."
Dit was nie ‘n mooi gesig nie. Drie weke nadat ons met die projek begin het, was dit een groot rommel hoop. Die murasie van die vorige huis was skaars herkenbaar. Gebreekte bakstene, stukke beton vloer en verminkte houtbalke was al wat jy kon uitmaak in die gemors.
Dit het hopeloos gelyk. ‘n Ashoop.
Maar. (En daar is altyd ‘n maar). Dit was net die begin. Daar was hoop vir die ashoop. Iets mooi sou uiteindelik stukkie vir stukkie uit die rommel verrys. Dit was net ‘n kwessie van tyd.
Ek onthou nog baie goed hoe ek gevoel het. Angstig dat die breekwerk nou moet einde kry. Moeg vir gumboots, stof en geraas. (Wat nog ‘n paar maande sou bly). En haastig. Ek wou die verbetering sien. Die vooruitgang en die eindproduk. Soos op ‘realiteits TV’. Ses weke van niks tot iets en al die wroeging van die proses uitgesny uit die episode. ‘n Glansprentjie.
Die werklikheid van afbreek en nog afbreek en weer afbreek het my aan hierdie skrifgedeelte laat dink in Jesaja 61: “...beauty for ashes…and they shall rebuild the ancient ruins…"
Die belofte dat daar altyd hoop is, maak nie saak hoe sleg die situasie op die oog af lyk nie. Die feit dat ons bereid moet wees om te laat gaan. Om die graaflaaier toe te laat om al die onveilige mure en vloere vol krake af en uit te breek, sodat ons by die wortel van die kwaad kan kom en van voor af, nuut kan begin. “Rebuilding the ancient ruins”, maar hierdie keer geanker, beter en sterker.
Mag ek en jy die Heilige Gees vandag toelaat om dit wat afgebreek moet word in ons lewens tot die bodem toe uit te haal, sodat ons kan plek maak vir dit wat mooi is, vreugde in plaas van hartseer. Beauty for Ashes. Mag ons dan geplant wees soos sterk eikebome en die stad van ons lewe stukkie vir stukkie herbou op die Rots en Hoeksteen van ons geloof: Jesus Christus.
Amen.



Comments