Hebreërs 12:1-3
1Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, 2ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! 3Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.
Naweke is sport tyd. En hierdie naweek was geen uitsondering nie, fietsry, rugby noem maar op. Dit is ‘n groot deel van ontspan in die lewens van ons gesin - na ‘n week se werkskaf. Ek is nie ‘n deelnemer nie, maar ‘n entoesiastiese toeskouer. Wanneer my span wen is dit maklik om hulle aan te moedig, maar wanneer dit lyk asof hulle agter raak en dalk gaan verloor? Definitief moeiliker.
Partykeer voel dit ook vir my asof ek in hierdie resies van die lewe besig is om agter te raak. Ek is uitasem. My longe is nie die pas gewoond nie. Ander mense draf verby my – vinniger, beter. Ek moet meer rus. My treë is minder tegnies, ek is nie ‘n atleet nie...maar daar word van my verwag om te hardloop? Ek wil eerder stap. En dan hoor ek dit: Soms is dit net een woord. Ander kere ‘n glimlag of ‘n drukkie. Partymaal is dit ‘n hande in die lug en uit volle bors skree “Go! Go! Go!’”
Aanmoediging.
‘n Vriendin wat glo in my en soos ‘n wafferse cheerleader dit reg kry om my gemoed te lig. Stemme op die kantlyn wat my naam ken en wil hê ek moet wen in hierdie lewens-wedloop.
Ek wil ook so ‘n cheerleader wees. Vir my gesin, my kinders en my man, maar ook vir almal daar buite wat ek teë kom. Ons almal het dit nodig om te weet dat ons nie alleen is nie. Iemand root vir ons en wil die beste vir ons hê. Ek weet, die regte aanmoediging kan so baie verander. Dit blaas weer die vuur in my hart aan. Dit gee my ‘n bevestiging dat ek besig is om die regte ding te doen. Dit help my om weer te glo in myself.
En as ons nie iemand in ons aardse span het, wat dit vir ons kan doen nie, weet ek dat ons Hemelse Vader met Sy hele hart wil hê ons moet wen. HY het reeds oorwin. Hy cheer vir ons met alles wat Hy is.
Ons is in Sy wenspan. Of ons nou atlete is of nie. Hy cheer vir ons en saam met Hom cheer die skares van gelowiges wat klaar die resies gehardloop het. Hulle weet wat dit kos om deel te neem, maar meer as dit – hulle weet wat dit beteken om voluit te hardloop en die wenstreep te haal.
Wanneer ek dan voel of ek besig is om agter te raak, dink ek aan die geloofshelde in my lewe wat heel moontlik ook vir my cheer. Wat saam met ons Vader uitsien na die dag wat ek die wedloop voltooi. Soos my Ouma wat so getrou vir al haar kleinkinders en kinders gebid het. My Tannie Sarie wat self so mooi kon skryf en my altyd aangemoedig het om aan te hou. Tien talle mense wat nie meer hier is nie, maar soveel inspraak in my lewe gehad het. Voorbeelde van lewens - wat toegewy was aan die diens van ander.
Ek sal bly hardloop (vir hulle) en vir die Wenstreep. En intussen my ore spits vir die aanmoediging van my Hemelse Vader wat my perfek gemaak het. Net soos Hy wou. Al voel ek soms lomp en stadig tussen die ander atlete op die baan. Hy wag vir my. En ek sien daarna uit om by Hom te uit te kom.
コメント