top of page
Search

Tuis

Psalm 23: 4-5

4Even when your path takes me through the valley of deepest darkness,

fear will never conquer me, for you already have! Your authority is my strength and my peace.

The comfort of your love takes away my fear. I’ll never be lonely, for you are near.

5You become my delicious feast even when my enemies dare to fight.

You anoint me with the fragrance of your Holy Spirit;


Was jy al in ‘n vriendskap of verhouding wat so gemaklik is, dat dit voel soos jou gunsteling paar ingeloopte pantoffels? Daardie tipe wat al soveel storms en winde en jare oorleef het, dat dit onmoontlik is om jou lewe daarsonder in te dink?


Ek onthou hoe ek laas jaar, vinnig vir werk Pretoria toe moes gaan. My vriende (wat ek onderskeidelik op 8 en 17 jarige ouderdom ontmoet het), was so dierbaar om my daar te laat bly. Ten midde van ‘n nuwe baba en hulle eie verpligtinge, kon ek na ‘n lang dag letterlik net inval, eet en slaap en dan weer vroeg opstaan vir die volgende dag se vol program. En dit was OK. Ons kon sit en gesels en net saam wees, asof ons dit elke aand doen…al het ons mekaar voor hierdie keer, maande laas gesien.


Ek is so dankbaar vir vriende soos hulle. Wat my al ervaar het op my beste en my slegste dae. Wat my net liefhet soos ek is en vir wie ek is, met al my foute en geite en dinge. Hulle is al deel van my lewe, vir soveel jare dat ek nie my lewe sonder hulle kan indink nie!


Tussen my 8 jarige en 17 jarige self, het ek ook my man ontmoet. Op amper 15. ‘n Leeftyd gelede.


Ek weet nou nie of ‘n mens ‘n kroon trou-herdenking kry nie, maar as daar so iets bestaan, is hierdie jaar ons s’n: Ons is 23 jaar getroud op die 23ste September 2023!


Dit het my natuurlik laat dink aan Psalm 23 - en hoe waar dit is van die laaste 23 jaar saam:

Waters van rus, valleie, doodskaduweë, vyande, feesmale, troos...Comfort.

Soos my ingeloopte pantoffels, laat ons verhouding my (op die oomblik), dadelik aan ‘n ou gemakstoel dink. So ‘n vintage-leer ene. Nie noodwendig perfek of mooi nie, maar een waarin ek my sit so goed ken, dat ek nie eintlik bewus is van die stoel nie. Ek het al aan hom geskaaf en geskuur. My klere het al vasgehaak aan ‘n spyker of twee wat nie lekker ingekap was nie. My lyf het al ‘n permanente indruk gemaak. En selfs wanneer ek nie daar is nie, bly die kussings effens ingesink. Die stoel is al blink met herinneringe en karakter. Ek is ook al so gewoond aan die imperfeksies, dat ek hulle dalk nie eens meer raak sien nie. Ek weet waar die hout geneig is om te splinter en waar daardie skerp spyker uitsteek. Onbewustelik vermy ek dit.


Die bekendheid van my “stoel” - van iemand se hand wat ek nou al vir amper 30 jaar lank kan vashou, helder blou oë, waarin ek elke dag kan opkyk (en die waarheid van myself sien), gewoontes, geluide en al die klein goedjies wat my dalk eens op ‘n tyd sou ontstel het, dit is alles, “huis” vir my. Dit is waar ek gemaklik is. Waar ek gemaklik, myself kan wees.


Al is die vere pap gesit en die vetkolle onmoontlik om uit te kry, sal ek hom bly blink politoer en daar waar hy uitrafel, vaswerk. Want, hy is kosbaar. Ek is dankbaar, want hierdie in-geleefde stoel van my, is myne. Gevorm en verweer. Opgepas en partykeer, verwaarloos. Jare en jare se leef in hom.


Mag ek dankbaar bly. En bereid wees om die stoffasie te vervang as dit nodig is, of bietjie ekstra politoer te gee as dit moet. Ek wil nog die kans hê om dieper in die kussings te kan insink en voel hoe die bekendheid van ‘n leeftyd saam met iemand, soos ‘n anker is wat my teen die onvoorspelbaarheid van die lewe beskerm.


Soos die goue draad van die teenwoordigheid van die Here wat altyd en in alle omstandighede by my is. Die stem wat ek ken. In my hart en in my wese. HY wat Psalm 23 ‘n werklikheid maak. Wat my altyd laat tuis voel. In Sy huis en ook in myne. Tuis.


Sela.



196 views0 comments

Recent Posts

See All

Die Weg

Comments


bottom of page